Book Review

’n Roman waar taal ’n hoofrol speel

Book Title: Die verdriet van België

Authors: Hugo Claus, vertaal deur Daniel Hugo

ISBN: 9781485307662

Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2020, R395*

*Book price at time of review

Review Title: ’n Roman waar taal ’n hoofrol speel

Reviewer:
Ilse de Korte1symbol

Affiliation:
1Subject Group Afrikaans and Dutch, School of Languages, Faculty of Humanities, North-West University, Vanderbijlpark, South Africa

Corresponding author: Ilse de Korte, ilse.dekorte@nwu.ac.za

How to cite this book review: De Korte, I., 2022, ‘’n Roman waar taal ’n hoofrol speel’, Literator 43(1), a1800. https://doi.org/10.4102/lit.v43i1.1800

Copyright Notice: © 2022. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die verdriet van België

Hugo Claus (1929–2008) is een van die vernaamste kontemporêre Vlaamse skrywers en verower in sy loopbaan vele van die grootste literêre pryse vir sy werk as romanskrywer, dramaturg en digter.

Noemenswaardige biografiese besonderhede is Claus se verhouding in die vroeë 1970’s met die aktrise Sylvia Kristel, wat bekend was vir haar rol as Emmanuelle in die gelyknamige film. ’n Ander een is sy dood in 2008 deur middel van eutanasie wat wettig is in België. Claus het aan Alzheimersiekte gely.

Het verdriet van België is die 1983-roman van Hugo Claus. Die roman speel af in die periode van die Tweede Wêreldoorlog tussen 1939 en 1947. Dit is in essensie ʼn grootword-roman of Bildungsroman, en die leser beleef die periode net voor, gedurende en net na die oorlog deur die oë van die jong seun, Louis Seynaeve. Die roman het vele outobiografiese trekke. Sy pa, Jozef, was ʼn drukker en Claus se ervarings in die koshuis op skool, sowel as die Duitse besetting van België, vind alles neerslag in hierdie roman.

In 2020 verskyn Die verdriet van België in Afrikaans, in opdrag van Nicol Stassen vir Protea Boekhuis. Dit is uit Nederlands vertaal deur die produktiewe vertaler, Daniel Hugo, wat dit in ’n onderhoud met Willem de Vries (2020) en Yves T’Sjoen beskryf as een van die grootste uitdagings en hoogtepunte van sy loopbaan. In dieselfde onderhoud beskryf T’Sjoen Hugo se vertaling van hierdie lywige meesterwerk van 770 bladsye, as ’n prestasie of ‘huzarenstuk’. En ’n prestasie is dit beslis.

Dit is nie ’n maklike boek om te lees nie. Die taal sit partykeer in jou tande vas soos ’n taai toffie. Hierdie feit is nie te wyte aan die vertaalwerk nie, allermins. Met die Nederlandse teks vergeleke, besef die leser dat dit geensins in Standaardnederlands geskryf is nie, maar in die Vlaamse spreektaal wat Marc Reynebeau in De Standaard (2004) beskryf as kunsmatige, maar outentieke Vlaams. Daarmee saam word Frans, Duits en Engels tussendeur ook in die roman gebruik, wat dit selfs vir ʼn Nederlandse leser iets maak om aan gewoond te raak. ‘[T]aal speelt een hoofdrol in Het verdriet van België’, aldus Vera Martens op die Universiteit Utrecht-blad oor die roman. Taal word deel van die ideologiese onderbou van die roman en hoe die karakters praat, weerspieël hoe hulle ideologies geposisioneer was in Vlaandere gedurende die tyd van die oorlog. Reynebeau (2004) skryf verder oor die Nederlandse roman: ‘[V]ia de taal geeft Claus gestalte aan een hele leefwereld. Die blijkt vooral te bestaan uit zegswijzen, clichés en dooddoeners en krijgt mede daardoor een tegelijk menselijk en grotesk karakter’, wat bydra tot die kunsmatige outentisiteit waarna hy verwys. Al hierdie aspekte sal ʼn vertaling van hierdie werk dus uiters kompleks maak.

Hugo word deur T’Sjoen beskryf as ʼn ‘skerp leser’ en ‘uitmuntende vertaler’, eienskappe wat sal nodig wees om al die aspekte van die taal in die roman neerslag te laat vind in Afrikaans. As leser het dit my dadelik opgeval dat taal in die Afrikaanse vertaling op ’n genuanseerde manier gebruik word, en Hugo plaas klem op die feit dat hy dit in informele Afrikaans probeer vertaal het (bv. ‘buikband’ word vertaal as ‘belt’, i.p.v. gordel, p. 298). Alhoewel dit in informele Afrikaans vertaal is, vind die kompleksiteit van die taal deur middel van die taalgebruik tog sy weg na hierdie vertaling. Dit getuig van ’n taalvaardigheid, asook vertaalvaardigheid.

In ʼn onderhoud met Hugo oor sy boek, Vers en kapittel, vertel hy aan hierdie resensent die staaltjie oor sy vertaling van Alfred Schaffer (wat pas die P.C. Hooft-prys gewen het) se digkuns. Toe Hugo aan Schaffer noem dat hy nie altyd verstaan wat in Schaffer se poësie staan nie, antwoord Schaffer bloot – moenie probeer om dit te verstaan nie, vertaal net wat daar staan. So eenvoudig is dit met ʼn teks soos Die verdriet van België natuurlik nie, juis omdat die taal soveel kulturele en ideologiese merkers bevat (De Vries 2004):

Die boek bevat nie net dialek nie, maar ook heelwat Frans, Duits en selfs geradbraakte Duits (tydens die oorlog), asook Engels (tydens die bevryding – België is deur Britse, Kanadese en Amerikaanse soldate bevry). Die dialek het ek meestal in (informele) Afrikaans vertaal, terwyl ek die Frans en Duits dikwels moes behou, anders gaan die kulturele en politieke sfeer, die sosiale spanning en ironie van sekere situasies verlore. Waar die Frans en Duits behou is, het ek soms ʼn onopsigtelike vertaling probeer insmokke.

’n Voorbeeld hiervan is:

Groenighe skree: ‘Belgiekske nikske’: België as landjie beteken niks. (bl. 279)

Mes hommages: My komplimente. (bl. 279)

Baie lesers in Suid-Afrika kan tot ʼn sekere mate Nederlands verstaan. ’n Teks soos Het verdriet van België is egter nie noodwendig toeganklik vir ’n nie-moedertaalspreker nie, en daar is min lesers wat wel die geleentheid (of dryfkrag) sal hê om so ʼn klassieke werk uit die Vlaamse letterkunde te lees. Soos Hugo tereg stel, verruim vertalings ons uitkyk op die lewe en verryk die vertaling die doeltaal. Dit stel ons ook bekend aan die Vlaamse Nasionalisme en die komplekse geskiedenis van België waarmee die deursnee Suid-Afrikaanse leser dalk nie bekend is nie.

’n Verdere interessante relevansie van die teks vir Suid-Afrika, is juis aspekte van veeltaligheid, waarmee ons ook op eie bodem te make het. T’Sjoen (in De Vries 2020) beskryf die boek as ‘een literair idioom dat meertalig en veelkleurd is’. Dit is iets wat sterk neerslag vind binne die Suid-Afrikaanse konteks en ’n interessante, veelvlakkige dialoog skep tussen die Vlaamse teks en die Afrikaanse teks. Die verweefdheid van taal en ideologie is in België van die Tweede Wêreldoorlog en hedendaagse Suid-Afrika op baie vlakke eenders. Die ideologiese geladenheid van byvoorbeeld Afrikaans en Kaaps word indirek weerspieël in die roman as ’n parallel getrek word met Vlaams en Nederlands: ‘Door zijn roman in de Vlaamse spreektaal te schrijven, die een mengelmoes is van verschillende invloeden vanuit het Frans en Nederlands, verzette Claus zich tegen taalzuiverheid. Claus wilde zich van de, in zijn woorden, “schraalheid” die strenge regels en voorschriften voor taal met zich meebrengen bevrijden’ (Martens 2020).

Die roman bestaan uit twee dele: ‘Die Verdriet’ wat bestaan uit 27 genommerde hoofstukke, elk met ’n titel, en die baie langer tweede deel, ‘Van België’, wat meer fragmentaries is. Volgens Reynebeau (2004) illustreer dit hoe Claus skrywerskap beoefen as ’n vorm van singewing; hoe die beklemmende en onderdrukkende sosio-politieke realiteit ’n alternatief kry deur die artistieke skepping.

As vertaler het Daniel Hugo talle werke uit Nederlands die lig laat sien in Afrikaans. Ons letterkunde is verruim met werke van Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck en Harry Mulisch om maar ’n paar te noem. Om hierdie belangrikste boek van Claus in Afrikaans te kan lees, voeg een van die hoogtepunte van die Nederlandse letterkunde toe tot ons eie.

Literatuurverwysings

De Vries, W., 2020, Hugo en T’Sjoen deel insigte en nuus oor Claus se grootste werk ‘Het verdriet van Belgie’, wat binnekort in Afrikaans verskyn, Litnet, 20 Februarie, besigtig op 10 Oktober 2020, vanaf https://voertaal.nu/hugo-en-tsjoen-deel-insigte-en-nuus-oor-claus-se-grootse-werk-het-verdriet-van-belgie-wat-binnekort-in-afrikaans-verskyn/

Hambidge, Joan, 2020, ‘Resensie: Hugo Claus, “Die verdriet van België”, vertaal deur Daniel Hugo, Joanhambidge.blogspot. 7 September, besigtig op 10 Oktober 2020, vanaf http://joanhambidge.blogspot.com/2020/09/resensie-hugo-claus-die-verdriet-van.html

Martens, V., 2020, Hoe taal en ideologie twee handen op een buik zijn, besigtig op 16 Desember 2020, vanaf https://hetverdrietvanbelgie.sites.uu.nl/hoe-taal-en-ideologie-twee-handen-op-een-buik-zijn/

Renebeau, M., 2004, HUGO CLAUS IN 14 ½ ROMANS (10), Het verdriet van België, ‘De Standaard’, 11 Maart, besoek op 16 Desember 2020, vanaf https://www.standaard.be/cnt/g6m4h2etBesoek



Crossref Citations

No related citations found.