Book Review

Poësie met ’n mistieke ondertoon uit die Oos-Ortodokse tradisie

Book Title: Die heimlike heiligdom

Author: Jacobus van der Riet

ISBN: 978-1-4853-1022-8

Publisher: Protea Boekhuis, 2020, R200.00*

*Book price at time of review

Review Title: Poësie met ’n mistieke ondertoon uit die Oos-Ortodokse tradisie

Reviewer:
Elizabeth van der Berg1symbol

Affiliation:
1Private, Pietermaritzburg, South Africa

Corresponding author: Elizabeth van der Berg, liz@isisdancestudio.co.za

How to cite this book review: Van der Berg, E., 2020, ‘’, Literator 41(1), a1743. https://doi.org/10.4102/lit.v41i1.1743

Copyright Notice: © 2020. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die heimlike heiligdom is vader Jacobus van der Riet, ’n priester in die Oos-Ortodokse kerk, se tweede bundel. Soos in sy debuutbundel, Die onsienlike son, wat in 2012 die lig gesien het, bied Van der Riet in sy jongste bundel insiggewende grepe uit die lewens van heiliges uit sy kerktradisie. Hy giet dit in die vorm van sonnette, wat vanweë die formele aard daarvan pas by die streng ritualistiese Ortodokse kerkdiens. Omdat die lewensgeskiedenisse van dié monnike buite die verwysingsraamwerk van die gemiddelde Afrikaanse leser val, is die kort biografiese inligting oor elkeen, wat agterin die bundel verskyn, verrykend en waardevol. Van der Riet se twee bundels vorm saam ’n eenheid.

Met verwysing na ’n gesluierde beeld van die Egiptiese godin, Isis, in die antieke Egiptiese stad Saïs, beweer die Anglo-Katolieke skrywer van religieuse en veral Christelik mistieke werke, Evelyn Underhill (1930):

All men, at one time or another, have fallen in love with the veiled Isis whom they call Truth […] It is the lover, the poet, the mourner, the convert, who shares for a moment the mystic’s privilege of lifting that Veil of Isis which science handles so helplessly, leaving only her dirty fingermarks behind. (bl. 10–11)

Wat agter Isis se sluier verborge is, is dit wat anderkant die fisieke realiteit, die empiriese wêreld soos deur die sintuie ervaar, geleë is. Die beeld van die sluier van Isis kan gekoppel word aan dié van die voorhangsel van die tempel, wat geskeur het toe Christus gesterf het en daardeur simbolies die weg vir die mens geopen het na die Allerheiligste – na God.

Die klankekspressief evokatiewe titel van Die heimlike heiligdom resoneer met Underhill se beskouing hierbo, dat verborgenheid of versluiering ’n integrale deel uitmaak van die aard van die goddelike. Die afgeslotenheid van die monnik se kloostersel of grottuiste soos in ’n aantal gedigte verbeeld word, asook die Ortodokse kerklike sanctum, daardie heilige der heilige ruimte waar slegs priesters toegelaat word, weerspieël dan ook ’n heimlike heiligdom soos Van der Berg (2005) dit stel:

Volgens Derrida is daar ’n affiniteit tussen geheimhouding en die heilige of geestelike waar laasgenoemde volgens hom beskou kan word as ’n ervaring van die onmoontlike wat ons buite onsself uitneem en wat nie in woorde omgesit kan word, of binne die bewustelike geplaas kan word nie. (bl. 104–105)

Die gedigte oor die heiliges word voorafgegaan deur ’n sestal Bybelgebaseerde sonnette waarvan ‘Die aankondiging van die Blye Boodskap’ – ’n gedeelte hieronder aangehaal – skakel met die besondere afbeelding op die voorblad, naamlik dié van ’n kunswerk, ‘Annunciation’, deur die Oekraïense kunstenaar Ivanka Demchuk:

Het die dagbreek gedui op wat hierdie dag sou bring,

die son hom met haas aan die nag se tentakels ontruk,

’n gloedrooi granaat met ’n kroon van ses punte gepluk?

Het ’n duif dringend gekoer, ’n lewerik luidkeels gesing?

Het soos ’n bruid ’n lelie haar stempel met skroom omhul,

oornag dalk ’n amandelboom met ’n enkele bloeisel gebloei?

Het ’n roos van Saron sy kop gelig waar daar distels groei?

Het ’n kind by die basilisk gespeel, ’n leeu van Juda gebrul?

Soos hierbo, wend Van der Riet in die oorgrote meerderheid van sy gedigte mildelik die natuur – van flora en fauna tot die hemelruim en -liggame – as bron vir sy beelding aan. Dit laat ’n mens dink aan T.T. Cloete se ‘panenteïsties georiënteerde’ ervaring van God se immanensie, waar hy ‘uitreik na ’n vereniging met die in alles rondom hom geopenbaarde God’ (Odendaal 1997:15).

In bostaande versreëls weerspieël dié beelde ryk metaforiese waarde. Die ‘gloedrooi granaat’, die metaforiese son, simbool van Christus (vergelyk Mal. 4:2), is gelaai met Christelike konnotasies. Van die vroegste tye af, en in verskeie kulture, was die granaat ’n simbool van vrugbaarheid. Daar word dikwels in die Bybel daarna verwys en dit word deur sommige as Eva se legendariese appel beskou. Soos in baie ander werke, kom die granaat ook in godsdienstige skilderye van Botticelli en Da Vinci voor, dikwels in die hande van die Maagd Maria.

Die beelde in die tweede strofe bevat vanselfsprekende metaforiese konnotasies, wat die konteks skep vir die Engel se aankondiging aan Maria: Die duif wat met die Heilige Gees en suiwerheid geassosieer word; die lelie, simbolies van maagdelikheid wat hier met verwysing na die stempel, eroties uitgebeeld word; die amandelboom, simbool van die opstanding – vooruitwysing na die hoofdoel van Christus se Inkarnasie; die roos van Saron met assosiasies van Salomo se geliefde, die Kerk, oftewel die mens; en die leeu van Juda wat Jesus simboliseer.

Dié gedig maak deel uit van ’n tradisie van Maria-gedigte deur Afrikaanse digters soos W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons, I.L. de Villiers en Cas Vos. Van der Riet self skryf in Die onsienlike son die gedig, ‘Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God’.

Om terug te keer tot die konsep van verborgenheid waarna verwys is, word versluiering en die gedagte aan God se transendensie en immanensie in ’n aantal gedigte direk uitgebeeld, of indirek daarop gesinspeel:

[…] God se lig in jou donker spelonk […];

[…] grot se wande sag soos deursigtige sluiers lig […]

[…] Hom wat verhul is […]

Uit ‘Die Heilige Gregorius die Dekapoliet’

en

Met hamer en beitel kerf jy ’n kerkie uit klip,

eers die portaal, daarná die naaf en oplaas

die heiligdom – dis hier waar jy weg sal glip

van die skare, die warboel, veral die geraas.

Uit: ‘Die Heilige Daniël van Voronet’

en

[…] sluier wat Eden verhul […]

Uit ‘Die Heilige Winwaloe, oftewel Guénolé, van Landévennec’.

‘Die Heilige Arsenios van Kappadosië’ waaruit ’n gedeelte hieronder aangehaal word, bevat die bundeltitel en kan as tematies sentraal tot die bundel uitgesonder word:

Dit is Vrydag; […]

Dis die uur waarop tyd en ewigheid plotseling stop,

Die son verduister, geluidloos die voorhangsel skeur.

Niks verraai die heimlike heiligdom in die klippondok

waar Argimandriet Arsenios weer in afwagting waak,

hom opnuut reikhalsend strek om tot God te genaak,

kaalvoetpelgrim deur Sion se mure en koepels gelok.

[…]

As ronkedoor wil hy in die wolk van Teenwoordigheid bly.

Die skeuring van die tempelvoorhangsel, of die ontsluiering tydens Christus se kruisiging, is simbolies van dit wat toegang vir die mens tot die sanctum, oftewel tot God bewerkstellig het, en kan as misties beskou word.

Arsenios ervaar God in die ‘heimlike heiligdom’ van die klipkerkie aanvanklik as transendent, uitgedruk in ‘weer in afwagting waak’, ‘reikhalsend strek’ en ‘tot God te genaak’. Die argaïese en selde gebruikte werkwoord naak, met die betekenis van nader, roep ‘My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan’ uit N.P. Van Wyk Louw se bekende gedig ‘Grense’ op en benadruk die monnik se gestroopte toestand – gestroop van sy eie ek – in sy uitreik na God.

Uiteindelik ervaar die monnik God se immanensie, sy teenwoordigheid uitgedruk deur ‘wolk van Teenwoordigheid’, wat terselfdertyd steeds iets van sy verborgenheid, sy versluiering in die wolk inhou.

Ook in byvoorbeeld ‘Die Heilige Moses van Nowgorod’, word dié oënskynlik paradoksale konsep, immanensie en transendensie, uitgedruk: ‘[…] na Hom wat in helder duisternis skuil […]’.

Benewens hierdie elemente word die leser wat ’n aanvoeling daarvoor het, deurgaans bewus van die mistieke aard van sommige gedigte. Dit is helaas nie moontlik om binne die bestek van hierdie resensie volledig hieraan aandag te skenk nie; ter illustrasie word daar dus met ’n paar voorbeelde en opmerkings volstaan.

Die volgende voorbeelde is onder meer kenmerkend aan mistieke ervarings: die gevoel van eenwording met God in ‘Die Heilige Moses van Nowgorod’ wat begin met: ‘Nes ’n by op mistieke trant die stuifmeel en sap’; onuitspreeklikheid in ‘Die Heilige Maximus van Kavsokalyvia’ met ‘[…] want woorde faal as jy in hemellig baai’; tydloosheid in ‘Die Heilige Pophyrios van Kafsokalyvia’ met ‘Summier word die tyd en ewigheid opgehef’; vuur as metafoor vir verterende liefde in ‘Die Heilige Abba Josef’ met ‘[…] ’n allesverterende vlam’, en in ‘Die Heilige Nuwemartelaar Kyrillos van Tesssalonika’ met ‘[…] verbrand my tot as’; die gevoel om goddelike liefde as besopenheid te ervaar in ‘Die Heilige Maximus van Kavsokalyvia’ met ‘waansinnig besope met liefde vir God’.

Laastens is daar ’n sterk assosiasie tussen ‘bring jy as bruidskat bloedspatsels en spykerwonde’ uit ‘Die Heilige Martelares Marina’ wat die via mystica uitbeeld, en ‘Christ of the Burnt Men’ deur Sheila Cussons, ons voortreflike mistieke digter.

In die geheel beskou, wat veral opval, is Van der Riet se vaardige benutting van ’n groot verskeidenheid beelde uit die natuur en die omgewing. Dit wend hy oor die algemeen ongedwonge aan binne sy oorspronklik eiesoortige rymskema in sonnetvorm. Soos Die onsienlike son, is Die heimlike heiligdom ’n verblydende en verrykende toevoeging tot die Afrikaanse poësie. Hierdie bundel bied nie alleen ’n insiggewende blik op ’n religieuse kultuur wat grotendeels onbekend is aan die Protestantse Afrikaanse gehoor nie, maar lewer vanweë die mistieke karakter van talle gedigte, ’n belangrike toevoeging tot die betreklike skaars oes mistieke poësie in Afrikaans.

Literatuurverwysings

Odendaal, B.J., 1997, ‘Is T.T. Cloete ’n Calvinistiese digter?’, Literator 18(2), 1–24. https://doi.org/10.4102/lit.v18i2.538

Underhill, E., 1930, Mysticism: A study in nature and development of spiritual consciousness, Christian Classics Ethereal Library, Grand Rapids, MI.

Van der Berg, E.J., 2005, Literêre vertaling en ‘ekwivalensie’ na aanleiding van Ingrid Jonker se digkuns: ’n Dekonstruksionistiese benadering, MA-verhandeling, Universiteit van Natal, Pietermaritzburg.



Crossref Citations

No related citations found.