<?xml version="1.0" encoding="UTF-8"?>
<!DOCTYPE article PUBLIC "-//NLM//DTD JATS (Z39.96) Journal Publishing DTD v1.1d1 20130915//EN" "http://jats.nlm.nih.gov/publishing/1.1d1/JATS-journalpublishing1.dtd">
<article xmlns:xlink="http://www.w3.org/1999/xlink" xmlns:mml="http://www.w3.org/1998/Math/MathML" article-type="editorial" xml:lang="af">
<front>
<journal-meta>
<journal-id journal-id-type="publisher-id">LIT</journal-id>
<journal-title-group>
<journal-title>Literator - Journal of Literary Criticism, Comparative Linguistics and Literary Studies</journal-title>
</journal-title-group>
<issn pub-type="ppub">0258-2279</issn>
<issn pub-type="epub">2219-8237</issn>
<publisher>
<publisher-name>AOSIS</publisher-name>
</publisher>
</journal-meta>
<article-meta>
<article-id pub-id-type="publisher-id">LIT-39-1566</article-id>
<article-id pub-id-type="doi">10.4102/lit.v39i2.1566</article-id>
<article-categories>
<subj-group subj-group-type="heading">
<subject>Editorial</subject>
</subj-group>
</article-categories>
<title-group>
<article-title>Redakteursbrief: Festschrift vir Wannie Carstens</article-title>
</title-group>
<contrib-group>
<contrib contrib-type="author" corresp="yes">
<contrib-id contrib-id-type="orcid">https://orcid.org/0000-0003-0302-0368</contrib-id>
<name>
<surname>Breed</surname>
<given-names>Adri</given-names>
</name>
<xref ref-type="aff" rid="AF0001">1</xref>
</contrib>
<aff id="AF0001"><label>1</label>Department of Afrikaans and Dutch, School of Languages, North-West University, South Africa</aff>
</contrib-group>
<author-notes>
<corresp id="cor1"><bold>Corresponding author:</bold> Adri Breed, <email xlink:href="adri.breed@nwu.ac.za">adri.breed@nwu.ac.za</email></corresp>
</author-notes>
<pub-date pub-type="epub"><day>22</day><month>11</month><year>2018</year></pub-date>
<pub-date pub-type="collection"><year>2018</year></pub-date>
<volume>39</volume>
<issue>2</issue>
<elocation-id>1566</elocation-id>
<permissions>
<copyright-statement>&#x00A9; 2018. The Authors</copyright-statement>
<copyright-year>2018</copyright-year>
<license license-type="open-access" xlink:href="https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/">
<license-p>Licensee: AOSIS. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.</license-p>
</license>
</permissions>
</article-meta>
</front>
<body>
<sec id="s0001">
<title></title>
<p>Prof. Wannie Carstens het aan die einde van 2017 afgetree na &#x2019;n suksesvolle loopbaan as Afrikaanse taalkundige. Die redaksie van <italic>Literator</italic> &#x2013; waarvan hy &#x2019;n redaksionele medewerker is &#x2013; dra graag hierdie huldigingsuitgawe aan hom op.</p>
<p>Wannie was die afgelope jare veral aktief betrokke in die velde van Afrikaanse taalgeskiedenis, teksredaksie en tekslinguistiek. Verder het hy ook vir 15 jaar as die direkteur van die Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gedien. Selfs n&#x00E1; sy aftrede bly hy nog aktief betrokke in die Afrikaanse akademie deur onder meer nog in 2018 as gasdosent van Afrikaanse Taalkunde in Leiden (Nederland) op te tree, en in dieselfde jaar die Leerstoel Zuid-Afrika van UGent in Belgi&#x00EB; te beklee.</p>
<p>As prominente figuur binne die bre&#x00EB;r Afrikaanse taalgemeenskap het hy &#x2019;n hele paar belangrike funksies verrig. Hy is naamlik een van die stigterslede van die Afrikaanse Taalraad, en dien ook tot November 2011 as voorsitter van hierdie organisasie. Ook van &#x00E1;nder Afrikaanse organisasies tree hy vir etlike termyne as voorsitter op, naamlik die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Hy dien vir agt jaar op die Direksie van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Vir byna twee jaar dien hy as ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT). Tans is hy die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Raad en dien hy vir &#x2019;n tweede termyn op die Raad van die Universiteit Stellenbosch.</p>
<p>Wannie is betrokke by &#x2019;n hele aantal instansies, inisiatiewe en projekte wat Afrikaans in die buiteland bevorder. Enkele voorbeelde hiervan is die vestiging en instandhouding van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse po&#x00EB;sie in die Po&#x00EB;ziecentrum in Gent, sowel as die <italic>Festival voor het Afrikaans</italic> in Amsterdam. Hy is ook verantwoordelik vir die sluit van &#x2019;n aantal uitruil- en samewerkingsooreenkomste wat Afrikaans as vak aan verskeie Europese universiteite gevestig het soos in Antwerpen en Gent (Belgi&#x00EB;), Leiden (Nederland) en Wene (Oostenryk).</p>
<p>Vanwe&#x00EB; die feit dat hy gedurende sy akademiese loopbaan op soveel vlakke en in soveel verskillende hoedanighede by Afrikaans betrokke was, was dit besonder uitdagend om &#x2019;n seleksie te maak van moontlike outeurs wat genooi moet word om &#x2019;n bydrae tot hierdie uitgawe te maak. Hoewel daar soveel ander van Wannie se medewerkers, kollegas, oudstudente en vriende is wat sekerlik ook eintlik by hierdie uitgawe betrek sou moes word, wou ons graag vir hierdie huldiging &#x2019;n versameling aanbied wat veral dri&#x00E9; fasette van Wannie se loopbaan uitlig.</p>
<p>Die eerste en belangrikste kom sy rol as akademikus aan bod &#x2013; spesifiek sy bydrae tot bepaalde vakgebiede binne die Afrikaanse Taalkunde. Wannie was &#x2019;n aktiewe navorser in die velde van <italic>taalgeskiedenis</italic> en <italic>taalnorme</italic>. Vyf akademiese artikels rondom hierdie onderwerpe is in die uitgawe opgeneem, naamlik di&#x00E9; van Kris van de Poel, Rufus Gouws, Angelique van Niekerk, Jaap Steyn, en Christo van Rensburg (wat &#x2019;n week voor sy afsterwe die bydrae afgehandel het).</p>
<p>Drie van hierdie artikels betrek taalnorme. Kris van de Poel se artikel, getiteld &#x2018;From pencil and eraser to blending materials and flipping the classroom: A short history of <italic>Teksredaksie</italic> and Text editing&#x2019;, beskryf die beplanning en uitvoering van Van de Poel en Carstens se publikasie: <italic>Teksredaksie</italic> (asook die boek se vertaling in ander tale). Ook die implementering van die boek in taalonderrig word in die artikel bespreek. Die artikel van Rufus Gouws, &#x2018;Woordeboekdidaktiek in &#x2019;n omvattende woordeboekkultuur&#x2019;, argumenteer dat leksikografie deel van &#x2019;n kurrikulum vir taalkundestudente moet uitmaak. Waar Van de Poel en Gouws se artikels hoofsaaklik op taalnorme binne &#x2019;n taalonderrigkonteks aangebied word, bekyk die artikel van Angelique van Niekerk, &#x2018;Die intensionele afwyking op die norme van Standaardafrikaans in advertensies&#x2019;, vanuit &#x2019;n tekslinguistiese perspektief die wyse waarop Afrikaanse taalnorme gehandhaaf word &#x2013; of juis ni&#x00E9; gehandhaaf word nie &#x2013; in gedrukte advertensiemateriaal met die doel om die aanvaarbaarheid van die boodskap in die taalgemeenskap te verhoog.</p>
<p>Artikels van twee van Wannie se eweknie&#x00EB; as taalgeskiedeniskenners is ingesluit. Jaap Steyn se artikel, &#x2018;Politieke strategie&#x00EB; van aktiviste vir die amptelike erkenning van Afrikaans&#x2019;, bekyk die politieke strategie&#x00EB; wat vyf spesifieke taalstryders in die tydperk 1875 tot 1925 gevolg het in &#x2019;n poging dat Afrikaans as amptelike taal erken word. Die artikel van Christo van Rensburg, &#x2018;Toe die vierde Taalkommissie in sy spore gestuit is&#x2019;, beskryf &#x2019;n tydperk in die geskiedenis van die <italic>Afrikaanse Woordelys en Spelre&#x00EB;ls</italic> (1930&#x2013;1932) toe daar vanwe&#x00EB; regeringsbesluite wat ge&#x00EF;mplementeer moes word, onsekerheid by die taalgemeenskap ontstaan het oor die wyse waarop sekere Afrikaanse woorde gespel moet word.</p>
<p>Tweedens het Wannie &#x2019;n belangrike rol in die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale gespeel &#x2013; enersyds vakkundig, en andersyds op bestuursvlak in die skool en in die bre&#x00EB;r universiteitsomgewing. Gegewe Wannie se intensiewe betrokkenheid by die Noordwes-Universiteit (NWU), het die inisiatief vanuit eie geledere gekom om hierdie huldigingsbundel saam te stel. Derhalwe was <italic>Literator</italic> ook die aangewese publikasietuiste. Drie akademiese artikels in hierdie uitgawe is deur Afrikaanse taalkundiges van die NWU, te wete Daan Wissing (een artikel) en Gerhard van Huyssteen (&#x2019;n tweetal artikels) gelewer.</p>
<p>Daan Wissing se artikel, &#x2018;Die ontwikkeling van [&#x0283;] in Afrikaans&#x2019;, lewer verslag van &#x2019;n ondersoek na die Afrikaanse konsonantsisteem. In hierdie artikel word verdere kontekste ondersoek waarin die stemlose alveol&#x00EA;re frikatief /s/, geproduseer word as [&#x0283;] wanneer dit onmiddellik gevolg word deur &#x2019;n /r/, maar as [s] geproduseer word in ander kontekste. In &#x2019;n tweetal artikels bekyk Gerhard van Huyssteen die kontroversi&#x00EB;le Afrikaanse woord, <italic>huidiglik,</italic> vanuit twee perspektiewe. In die eerste artikel, &#x2018;Norme vir <italic>huidiglik</italic>&#x2019;, word &#x2019;n omvattende literatuuroorsig aangebied oor die standpunt(e) wat in Afrikaanse normatiewe bronne gehandhaaf word oor die gebruik van hierdie woord. In die tweede artikel, getiteld &#x2018;&#x2019;n Korpusondersoek na <italic>huidiglik</italic>&#x2019;, word die werklike gebruik van <italic>huidiglik</italic> deur Afrikaanssprekendes met behulp van &#x2019;n korpusgebaseerde ondersoek bestudeer.</p>
<p>Soos reeds genoem, het Wannie op verskeie vlakke as plaaslike en internasionale segsman vir Afrikaans opgetree. Om hierdie rede het ons derdens enkele van Wannie se nabykollegas genooi om bydraes te lewer wat nie noodwendig navorsingsbydraes hoef te wees nie. Twee essays is in hierdie bundel opgeneem, naamlik di&#x00E9; van Jacques van Keymeulen en Michael le Cordeur, wat oor &#x2019;n onderwerp handel waarby Wannie regdeur sy hele loopbaan aktief betrokke was, naamlik taalpolitiek. Aangesien Wannie ook by die vestiging van Afrikaanse liter&#x00EA;re projekte in die buiteland betrokke was, het ons ook bydraes van twee van Wannie se kollegas uit die Afrikaanse letterkundegemeenskap in hierdie bundel as <italic>Litera</italic> opgeneem, naamlik &#x2019;n kortverhaal van Ena Jansen en &#x2019;n gedig van Hennie van Coller.</p>
<p>Die impak wat Wannie Carstens gedurende sy loopbaan gemaak het en die rimpeleffek wat sy verskeie en uiteenlopende inisiatiewe steeds op Afrikaans en die Afrikaanse taalkundegemeenskap het, kan moeilik in woorde beskryf word. Hierdie huldigingsuitgawe is maar een poging om erkenning te gee aan die passie en invloed van waarskynlik een van ons tyd se grootste taalambassadeurs.</p>
</sec>
</body>
<back>
<fn-group>
<fn><p><bold>How to cite this article:</bold> Breed, A., 2018, &#x2018;Redakteursbrief: Festschrift vir Wannie Carstens&#x2019;, Literator 39(2), a1566. <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1566">https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1566</ext-link></p></fn>
</fn-group>
</back>
</article>