Book Review

Heruitgawe van ’n literêr-historiese kernbundel

Book Title: Kitaar my kruis

Author: Adam Small

ISBN: 978-1-4853-0965-9

Publisher: Protea Boekhuis, 2018, R170*
*Book price at time of review

Review Title: Heruitgawe van ’n literêr-historiese kernbundel

Reviewer: Bernardus J. Odendaal1 symbol

Affiliation:
1ATKV-Writing School, North-West University, South Africa

Corresponding author: Bernardus Odendaal, bernard.odendaal@nwu.ac.za

How to cite this book review: Odendaal, B.J., 2018, ‘Heruitgawe van ’n literêr-historiese kernbundel’, Literator 39(1), a1542. https://doi.org/10.4102/lit.v39i1.1542

Copyright Notice: © 2018. The Authors. Licensee: AOSIS. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Dit gebeur nie aldag dat ’n Afrikaanse digbundel herdrukke beleef nie – veral nie 65 jaar ná die eerste verskyning daarvan én nadat ’n keur uit die digter se oeuvre intussen gepubliseer is nie.

Dit is presies wat hierdie derde uitgawe van Adam Small se oorspronklik in 1962 (by H.A.U.M.) verskene Kitaar my kruis te beurt val. In 2011 het ‘Kô lat ons sing’, ’n bloemlesing uit sy digwerk van vóór sy laaste bundel (Klawerjas 2013), by Kwela die lig gesien.

Die heruitgawe is opnuut ’n bevestiging dat Small ’n spilfiguurplek in die groeiend demokratiese en inklusiewe Afrikaanse literatuursisteem beklee – ’n status waarvan talle prys- en ander eretoekennings aan hom sedert veral 2000, waaronder die Hertzogprys vir drama in 2012, reeds getuig. In die voorwoord van dié bundelheruitgawe noem Steward van Wyk die alleenstaande openingsgedig ‘Kô lat ons sing’ selfs ‘ikonies’. Die eerste strofe daarvan, in Small se handskrif ook op die agterplat afgedruk, klink so bekend soos ’n psalm uit die Liedboek van die Afrikaanse Protestantse kerke:

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allerhoegste Gies
lat hierdie woorde na ons harte gaan! (Small 2018:16)

Van Wyk argumenteer dat dié gedig die uitstaande bundeltemas inlei, naamlik ‘[d]ie gebruik van die Bybelse interteks om die onderdruktes [in apartheid-Suid-Afrika] se vryheidstrewe in ’n groter konteks te plaas’, asook die siening van die digter en kunstenaar as iemand ‘wat deur sy/haar ambag die strewes van sy/haar mense verwoord’. Inderdaad, soos opnuut blyk uit die 2017-huldigingboek Adam Small. Denker, digter, dramaturg (met Jacques van der Elst as redakteur), gaan die waardering vir Small se skrywerskap in ’n groot mate uit na die ‘betrokkenheid’ daarvan. Daarmee word bedoel dat sy literêre werke laat blyk dat hy as skrywer, in terme van ’n definisie deur André P. Brink in Literêre terme en teorieë (1992:39–40), gestaan het as ‘antagonis van die behoudende, verstarrende magte in die samelewing’ van destyds – met ’n duidelike visie om dit ‘verander’ te kry.

Die Kaapse Afrikaansvariëteit wat Small in sowat die helfte van die gedigte in Kitaar my kruis benut, is die bron van veel van die trefkrag waaroor dié dikwels ironies-satiries getinte protesuitings beskik (het) – juis omdat dit, destyds, in verrassende opposisie gestaan het tot die bevoorregting van Standaardafrikaans en sy handhawers. By die lees van die bundel is dit daarom opvallend dat nie net grepe uit ‘Kô lat ons sing’ helder opklink uit ’n mens se geheue nie, maar ook uit gedigte soos ‘Broadway’, ‘Groot Krismisgabet’, ‘Doemanie’, ‘Die Here het gaskommel’, ‘Oppie parara’, ensovoorts – byna voor die voet die gedigte in die bundel wat in Kaaps geskryf staan (soos Small in die voorwoord by die eerste bundeluitgawe verkies het om dié sosiolek te benoem).

Húlle is die gedigte wat ongeveer Afrikaanse allemanskultuurgoed geword het: deur die voordragte en getoonsette vertolkings daarvan op radio, by konserte en kunstefeeste; ook omdat sommige van hulle voorskryfwerke op skool en universiteit geword het.

Small se spilfiguurstatus blyk voorts uit die kniebuigings in sy rigting wat ’n mens in al hoe meer nuwe bundels bemerk. Die bekendste is die huldigingsgedigte deur verskeie bydraers wat versamel is in Vi’ Adam Small (Naledi 2011). Sedert die eerste verskyning van Kitaar my kruis is Kaaps in dosyne digbundels as vertolkmiddel van sosiopolitieke kritiek en verset aangewend. Trouens, die bundels van meer onlangse debutante soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Shirmoney Rhode getuig daarvan dat dié taalvariëteit steeds met resonansie in hierdie verband benut word. Uit die soms meervlakkige werk van dié jonger digters blyk egter ook dat nie langer oorwegend op sodanige taalvariëteitsbenutting (as stylaspek) gesteun (kan) word vir poëtiese effek nie.

Naas die bekendheid van soveel Kitaar my kruis-gedigte, is ’n mens by die herlees van die bundelgeheel ook sterker as voorheen onder die indruk van die beperkthede van veel daarvan – van die wyse waarop die hoe (die skeppingsmiddelegebruik) té dikwels tweede viool speel by die wat (die ironies-satiries getinte ideologiekritiek).

Van Wyk lig die ‘bluesvers’ uit as tradisie waarbinne Kitaar my kruis getakseer behoort te word. Inderdaad val die liedkunskenmerke van die gedigte op: ritmies-musikale effekte soos refreinmatige herhalings, wat betekenisvol kan varieer; onmiddellike toeganklikheid. Woorde soos ‘sing’, ‘kitaar’ en ‘banjo’ duik telkens daarin op. Vandaar dat, wanneer dié gedigte in voordrag of getoonsette vorm ervaar word, die ‘melankoliese en inkanterende ritmes waarin [Small se] boodskap van lyding, hoop en verlossing’ gegiet is (Van Wyk in die voorwoord), waarskynlik die luidste tot die Afrikaanse poësieliefhebber spreek.

Die plek van Kitaar my kruis as seminale bundel en konstante verwysingspunt in die duiding van die Afrikaanse literatuur se meerstemmige aard, asook van die belewingsverskeidenheid wat daarin vertolk staan, bly onbestrede. Trouens, ’n herdruk soos dié getuig van ’n gevoelde behoefte aan méér poësie van dergelike aard en funksie; van hoop op die literêre benutting van selfs méér Afrikaanse geo- en sosiolekte.

Literatuurverwysings

Brink, A.P., 1992, ‘Betrokke literatuur’, in T.T. Cloete (red.), Literêre terme en teorieë, bl. 38–41, H.A.U.M.-Literêr, Pretoria.

Naledi, 2012, Vi’ Adam Small: ’n Digbundel. Naledi Uitgewers, Tygervallei.

Small, A., 2013, Klawerjas: Gedigte, Tafelberg, Kaapstad.

Small, A., 2018, Kitaar my kruis, Protea Boekhuis, Pretoria.

Van der Elst, J., 2017, ’n Huldiging - Adam Small: Denker, digter, dramaturg, Protea Boekhuis, Pretoria.



Crossref Citations

No related citations found.