Book Review

Jong debuutdigter se ‘ope brief’ hou belofte in

Book Title: ’n ope brief aan Dorian Gray

Author: Ruan Fourie

ISBN: 978-1-4853-0747-1

Publisher: Protea Boekhuis, 2017, R160*

*Book price at time of review

Review Title: Jong debuutdigter se ‘ope brief’ hou belofte in

Reviewer:
Ihette Jacobs1,symbol

Affiliation:
1Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa, South Africa

Corresponding author: Ihette Jacobs, jacobi1@unisa.ac.za

How to cite this book review: Jacobs, I., 2018, ‘Jong debuutdigter se “ope brief” hou belofte in’, Literator 39(1), a1498. https://doi.org/10.4102/lit.v39i1.1498

Copyright Notice: © 2018. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Voordat die leser Ruan Fourie se debuutbundel, ’n ope brief aan Dorian Gray (Fourie 2017), oopmaak, is dit duidelik dat hierdie jong digter ’n intertekstuele gesprek aanknoop met Oscar Wilde se bekende roman The picture of Dorian Gray. Die voorblad gee ook reeds ’n visuele leidraad dat kunstenaarskap ter sprake kan kom, en uit die loperige waterverf op die voorbladportret kan afgelei word dat alles in hierdie bundel nie netjies verpak gaan wees nie.

Die openingsgedig of motto (Fourie 2017:10) van ‘Deel I’ is verder programmaties in terme van die tematiek van die bundel, naamlik die uitskryf van ’n liefdesverhouding:

by die skryf van ’n brief

deel ek mee wat my raak,

[…]

my binnewêreld is van jou besete,

ek kan nie anders nie

as om jou orals in te skryf:

Met die lees van ’n ope brief aan Dorian Gray is ek telkens herinner aan die ‘Tendensies in die Afrikaanse poësie sedert 1960’ wat deur Foster en Viljoen in Poskaarte (1997) geïdentifiseer word. Hierdie tendensies word as postmodernisties geperiodiseer en kan funksioneel as besprekingsraamwerk vir Fourie se bundel toegepas word.

Een van die tendensies, naamlik die afwys van ’n finale, afsluitende betekenis, hou veral met die ondermyning van die meesternarratiewe verband ter wille van ’n voorkeur aan die kleiner, meer gelokaliseerde verhale. Tekenend hiervan is die onverbloemde jeugdige perspektief wat uit Fourie se bundel blyk en wat dikwels met ’n studentikose romantisering van kunstenaarskap en liefde gepaardgaan. Fourie konstrueer egter ook ’n labirint van verwysings wat dikwels tekste en skrywers uit die Westerse kanon insluit soos Nabokov se Lolita en die reeds genoemde The picture of Dorian Gray. Alhoewel die digter nie hierdie Westerse meesternarratief afwys nie, beteken dit nie dat Fourie hom tot die hoë kultuur van die kanon as meesternarratief beperk nie; sy spel met intertekste illustreer juis ’n postmodernistiese omarming van massakultuur en ’n vermenging van hoë en lae kultuur. Laasgenoemde is nog ’n tendensie wat Foster en Viljoen identifiseer. Fourie se verwysings na beide N.P. van Wyk Louw en Kurt Cobain in een gedig (‘ek/stern’, Fourie 2017:16) of na Sylvia Plath en Taylor Swift in ’n ander (‘ar/seer’, Fourie 2017:19–20) illustreer byvoorbeeld hoe hy telkens die grense tussen populêre kultuur en die kulturele elite ondermyn.

Selfrefleksiwiteit is ’n prominente tendensie in ’n ope brief aan Dorian Gray. Die skryfhandeling, die ‘ope brief’ aan ’n geliefde, manifesteer inderwaarheid as die bundel self en die bundel is voortdurend besig om oor sigself te reflekteer. In een van die sleutelgedigte, ‘Dorian’ (Fourie 2017: 25–27), word daar gesê: ‘ek sou jou graag in ’n sigaret / of selfs in dié gedig of brief / tot volle reg wou laat kom, / maar jý pas eenvoudig nie / in een gedig nie.’ Hierdie aanhaling wys verder op die selfrefleksiewe neiging om die mag van taal as medium van die digter te bevraagteken.

’n Volgende postmoderne tendensie wat met Fourie se bundel in verband gebring kan word, is dié van verstegniese verskeidenheid. Fourie se verstegniese eksperimentering hou hoofsaaklik verband met die omvergooi van die tradisionele volgorde van titel-motto-gediginhoud-bladsynommer deur sy gedig te begin met die bladsynommer bo-aan die bladsy, gevolg deur ’n motto (in sommige gevalle), waarna die inhoud van die gedig volg, en laastens die titel. Hierdie tipografiese spel word verder uitgebrei deur eksperimentering met leestekengebruik soos byvoorbeeld ‘s/tikwerk’, ‘ek/stern’ en ‘ar/seer’. Hoewel Fourie se eksperimentering nie altyd geslaagd is nie, betrek dit die leser potensieel by betekenistoekenning. Die leser wat hom of haar deur hierdie vooruitsig laat lok, vind egter te dikwels dat die eksperimentering in speelsheid bly vassteek en nie ’n sinryke betekenisbydrae lewer nie.

Uit die bespreking kan reeds afgelei word dat intertekstualiteit as tendensie in hierdie bundel hoogty vier. Alhoewel ’n bundel soos H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard ’n toonbeeld is van die meervlakkige betekenismoontlikhede wat ontstaan as gevolg van die funksionele implementering van meervoudige intertekste, skiet Fourie as debutant nog op hierdie speelvlak te kort. ’n ope brief aan Dorian Gray dra veels te swaar aan intertekste soos in die gedig ‘Toska’ (Fourie 2017:33–34), en die digter se geneigdheid om talle motto’s aaneen te ryg.

Wat betref die tendensie van die omgaan met historiese stof, pen die digter by geleentheid ’n eietydse geskiedenis neer. Hy verwys na die omstredenheid rondom die YouTube-ster, Marina Joyce (‘Marina Joyce’, Fourie 2017:55), maar die fokus val deurgaans veel sterker op Fourie se weergawe van ’n persoonlike narratief as op historiese verwysing.

Die ondermyning van grense tussen feit en fiksie is een van die tendensies wat Fourie geslaagd implementeer. Die werklikheid word gefiksionaliseer soos wanneer hy stel dat ‘in ’n sekere sin / is alle verhoudings / abortief; / doodgebore gedigte’ (Fourie 2017:38). Verder word die fiksionele karakter van Dorian Gray aan die spreker se geliefde (‘Dorian’, Fourie 2017:25) gelykgestel en word daar pertinent erken dat die digterspreker die geliefde liewer ter wille van romantisering fiksionaliseer, soos in ‘die jy in my kop is ’n hol mens’ (Fourie 2017:42).

Die bundel getuig van die persoonlike aard van ’n liefdesbrief, maar behou steeds genoeg universaliteit om by ’n wye leserspubliek aanklank te vind. Die ideale teikenmark van die bundel sal lesers in hul twintigerjare wees, alhoewel die ouer leser ook na herinnerings van ’n jeugdige perspektief op kunstenaarskap en liefde teruggelei kan word. Hoewel Fourie onder die skerp tonge van resensente deurgeloop het, is my oordeel dat hy as digter belofte inhou en dat sy taalsensitiwiteit en belesenheid hom tot groot voordeel kan strek.

Kritiek is daar wel uit te spreek teen die oormaat intertekste, die inkonsekwentheid van betekenisvolle gesprekvoering tussen gediginhoud en interteks, en die oordadige gebruik van byvoeglike naamwoorde wat die indruk skep dat die digter dikwels tell in plaas van show. Die digter moet liefs woorde vermy wat swaar aan sentiment en pretensie dra soos die gebruik van siel in ‘de facto’ (Fourie 2017:30). Fourie kan daarby baat om in sy toekomstige skrywersstrewe die bekende skrywersraad, ‘Kill your darlings’, in gedagte te hou.

Literatuurverwysings

Foster, R. & Viljoen, L., 1997, Poskaarte, Tafelberg, Kaapstad.

Fourie, R., 2017, ’n ope brief aan Dorian Gray, Protea Boekhuis, Pretoria.



Crossref Citations

No related citations found.