Fourie Botha se eerste verse is in
Met ’n treffende voorblad van ’n man wat ’n reusagtige krap vashou (na ’n foto getiteld ‘Giant spider crab of Japan’) word die krapmotief, wat ook in die programgedig ‘Krappegesang’ ter sprake kom, geaktiveer. In die programgedig is daar subtiele verwysings na die seksuele: ‘Waarom bemin ek hom so / wil ek sy harde karapaks poets, / die knypers vryf tot ’n vonk spat, / hom met ’n hamer oopbreek’ (bl. 7). Daar is ’n verdere verwysing na die spreker se geestesgesondheid wanneer die volgende gesê word: ‘Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie / in hierdie skedelpan van my kop?’ (bl. 7). Die krap-as-dier sluit sterk aan by die oorkoepelende motiewe wat in die bundel figureer. Die digter-spreker kan met die krap vergelyk word wat sy geheime onder sy karapaks versteek en in die bundel aan die leser onthul.
Die bundel bestaan uit vier afdelings. In die eerste afdeling getiteld ‘Laagwater’ kom die spreker se familie ter sprake. Daar is talle verwysings na tipiese familieprobleme soos die vader se alkoholmisbruik, die spreker se ouers se disfunksionele huwelik, onmin tussen broers en verwysings na jeugherinneringe – sowel aangenaam as onaangenaam. Een van die treffende gedigte in hierdie afdeling is die gedig ‘ek droom van my pa’ (bl. 15). Die spreker se misnoeë met sy vader se dronkenskap word op empatiese wyse verwoord. Tog is dit duidelik dat dit die spreker emosioneel negatief affekteer.
Die tweede afdeling getiteld ‘Vuisneste’ bevat homoërotiese verse wat sterk aansluit by Botha se debuutbundel
Een van die treffendste gedigte in die derde afdeling (‘Rakende’) verwys na die Thai-Amerikaanse Siamese tweeling Chang en Eng Bunker (1811–1874). Botha se vernuftige woordspel slaag daarin om die tweeling se lewensverhaal op kort dog kragtige wyse te verwoord. Die tragiek van dié tweeling se lewe is hartseer, maar fassinerend. Geweld figureer ook in die afdeling in gedigte soos ‘Dood van ’n redakteur’ (bl. 41), ‘Brandende non (1976–2011)’ (bl. 42) en ‘Born-again’ (bl. 43).
Die slotafdeling, ‘Dryf’, sluit by die krapmotief aan en bevat talle gedigte wat na die see verwys. Die gedig ‘Reusespinnekopkrap’ (bl. 49) sluit direk by die programgedig aan. Slegs twee ekfrastiese verse, ‘By ’n foto van Margaret Atwood’ en ‘’n Vakansiefoto van jou, hande agter die rug’, is in die bundel opgeneem vergeleke met ’n aantal ekfrastiese verse wat tesame met die onderskeie foto’s in Botha se debuut geplaas is. (Dit sou die bundel verder verryk het indien die uitgewer die foto’s by die gedigte afgedruk het.) Die spreker se uitbeelding van die geliefde in ‘’n Vakansiefoto’ is buitengewoon intiem en delikaat verwoord met besonderse metaforiek: ‘Op die strand was ons kop / in een mus, ’n tweeling / in Siam: elk sy eie bestaan / ná jare saam deurgeskuur / tot krakerige skulp’ (bl. 55). Nie alleen sluit die beelde in die gedig aan by die gedig oor die Siamese tweeling nie, maar ook by dié van die krap. Die slotverse ‘See’ (bl. 58) en ‘Mosambiek’ (bl. 59) sluit die bundel op gepaste wyse af: ‘Sonder taal of tyding in Inhambane / voel jy hoe die wêreld moontlik / sou kon terugtrek soos die oseaan / met laagwater ’n krap in sy nuwe dop…’ (bl. 59).
Botha se bundel is toeganklik vir die deursnee poësieleser. Hy bou met ’n groot gros geslaagde gedigte voort op temas uit sy debuutbundel. Sy tweede bundel getuig van digterlike groei in sowel tegniek as styl.