Book Review

Vermenging van lig en donker hier net te vaal

Book Title: By die nag se wit kant in

Author: Etienne Terblanche

ISBN: 978-1-4853-0601-6

Publisher: Protea Boekhuis, 2016, R160*

*Book price at time of review

Review Title: Vermenging van lig en donker hier net te vaal

Reviewer:
Francois A. Smith1 symbol

Affiliation:
1Department of Afrikaans and Dutch, German and French, University of the Free State, South Africa

Corresponding author: Francois Smith, smithfah@ufs.ac.za

How to cite this book review: Smith, F., 2017, ‘Vermenging van lig en donker hier net te vaal’, Literator 38(1), a1410. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1410

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Hierdie debuut kom onder ’n motto wat algemeen aan die derde-eeuse alchemis Maria Profetissa toegeskryf word en as sodanig bekend staan as die Aksioma van Maria: Een word twee, twee word drie, en uit die derde kom die een as die vierde. Jung het hierdie aksioma wyer bekendheid gegee deurdat hy dit meermale gebruik het as ’n metafoor vir wat hy individuasie genoem het, oftewel die transformasie van die psige deur ’n aantal fases tot selfverwesenliking.

Terblanche se bundel vra trouens op verskeie maniere om ’n Jungiaans alchemistiese leesbenadering. In die slotvers word lees byvoorbeeld voorgestel as ’n argetipe, dit wil sê as iets wat Jung as ’n organiserende element in die onbewuste gesien het. Boonop is daar in die slotvers ’n beeld wat ook in die heel eerste vers voorkom – die son wat deur takke skyn – en die bundel word dus as’t ware tot ’n lus geknoop, ’n sirkel waarin die einde terugkeer na die begin sodat ’n sluitende geheel gevorm word waartoe lig en skadu ewe veel bydra. In die slotvers word die bundel se vier afdelings dus een, en word uiting gegee aan die laaste element van die Aksioma van Maria: die een as die vierde.

Jung se toepassing van die Aksioma van Maria is eintlik die omgekeerde hiervan, van vier word na een beweeg. Soos die vier basiselemente (grond, water, wind en vuur) in die alchemie getransformeer word tot die steen van die wyse, ondergaan die psige volgens Jung ’n transformasie wat kulmineer in die verwesenliking van die Self, oftewel die argetipe van heelheid waarin die bewuste en die onbewuste volledig geïntegreer is. Die simbool van die Self is die mandala (towersirkel). Sirkels, vierkante en veelvoude van vier of agt verteenwoordig die heelheid van die Self, oftewel die eenwording van teenoorgesteldes, die integrasie van bewuste en onbewuste.

In die openingsgedig word ’n geïdealiseerde beminde, die muse, aangespreek as sou dié ‘uit suiwer hemelaarde gemaak’ wees, dit wil sê as ’n versmelting van die teenpole hemel en aarde. In hierdie gedig word die eenwording van stilte en geluid ook as ideaal gestel, word die spreker deel van alles wat hom omgeef en stel hy dit in die vooruitsig dat hy die beminde so goed sal leer ken ‘soos die heldersagte blaar die plek / waar dit ophou en die lug begin’. Grense en uiterstes word voorgestel as sowel einde as begin. ’n Grens is dus juis nie ’n einde nie, maar ’n begin.

Die bundelafdelings volg grootliks die Jungiaans alchemistiese vierdeling. Die eerste afdeling van die bundel is veral gemoeid met oorspronge/beginne, spesifiek die aanvang van die digkuns. Hier blyk die maan die sentrale simbool te wees – simbool van die vrou, veranderlikheid, dood en regenerasie. In die gedig ‘Die digter sing vir sy beminde’ is die maan ‘die nag se wit kant’ waardeur die digter en sy beminde die boaardse, die okkulte, binnegaan sodat die lied (poësie) kan gedy. Hieruit kom die titel van die bundel, wat op die omslag gesuperponeer word op ’n nabyfoto van die vlerk van ’n mot of skoenlapper waarop die kol op die insek se vlerk soos ’n oog lyk. In die gedig ‘Hy is bly oor die Afrikafladderpapiertjie’ word die ‘houtskoolkolletjie’ op ’n skoenlapper se wit vlerk soos volg beskryf: ‘Uit die wit kom die donker, / uit die donker kom die lig. Om die wit te ken / en die swart te onderhou is die patroon van alles / onder die hemel.’ Die implikasie vir die poësie is dat die digter hierdie dubbelvisie moet hê – hy moet die wit ken én die swart onderhou, dit wil sê hy moet met Opperman se jakopeweroog kan kyk, daardie oog wat bo en onder die water kan sien.

Dit sal die leser loon om hierdie bundel agter die maan aan te lees, maar ook te let op die rol van sirkelbewegings in die bundel, op die interafhanklikheid van teenpole soos dood en regenerasie, die herhaalde voorkoms van die getal vier. Dié speurtog word ongelukkig gefrustreer deurdat die interessante idees selde werklik gedig word. Die probleem is meestal ’n te losse bou, spanninglose reëls, kleurlose taal en ’n ongemotiveerde vermenging van ’n verhewe, byna argaïese register en ’n ietwat banale oulikheid. Tot eersgenoemde behoort die neiging om die geliefde swaartillend as ‘beminde’ aan te spreek en die melodramatiese gebruik van die uitroep ‘O!’ soos in die gedig ‘Skreeu’ (O duister Kronos…) en tot laasgenoemde die benamings vir sigarette in ‘Anekdote van die wurm’ (silindertjies twak, kankerstokkie), die woord ‘kierangkasteel’ in die gedig ‘Britstown’ en anekdotiese gedigte soos ‘Gielie Barnard en die matrone’ en ‘Belydenis van ’n organiese chemikus by ’n geleentheid een aand’.

’n Mens sou nog kon aanvoer dat van die argaïese vorme parodies is van Twintiger-poësie, maar die O-uitroep word soms so klakkeloos gebruik dat ’n mens eerder onder die indruk kom van ’n gebrekkige kennis van die Afrikaanse poësietradisie as van ’n kritiese omgang daarmee, en dat die digter net nie woordgevoelig genoeg is nie.



Crossref Citations

No related citations found.