Book Review

Welkome Afrikaanse keur van Anna Enquist se poësie

Book Title: Arsenaal van klank

Author: Anna Enquist

ISBN: 978-1-4853-0604-7

Publisher: Protea Boekhuis, 2016, R150*

*Book price at time of review

Review Title: Welkome Afrikaanse keur van Anna Enquist se poësie

Reviewer:
Marni Bonthuys1

Affiliation:
1Department of Afrikaans/Nederlands, University of the Western Cape, South Africa

Corresponding author: Marni Bonthuys, mbonthuys@uwc.ac.za

How to cite this book review: Bonthuys, M., 2017, ‘Welkome Afrikaanse keur van Anna Enquist se poësie’, Literator 38(1), a1409. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1409

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Anna Enquist is ’n belangrike Nederlandse digter wat al in 1991 met Soldatenliederen debuteer. In Arsenaal van klank bied Zandra Bezuidenhout ’n keur aan van Enquist se poësie. Bezuidenhout is ’n kenner van hierdie Nederlandse digteres se werk en voltooi in 2005 haar Ph.D. in Afrikaans en Nederlands oor Enquist en ’n paar ander vrouedigters. Arsenaal van klank bevat nie net ’n seleksie van Enquist se poësie nie, maar plaas telkens langs die oorspronklike gedig ’n Afrikaanse vertaling deur Bezuidenhout. Hiermee poog Bezuidenhout om, soos die voorwoord tot die bundel te kenne gee, lesers voor te stel aan die werk van ’n bekende en gewilde Nederlandse digter. Arsenaal van klank voldoen na my mening aan hierdie doelstelling en bied ’n mooi versameling van ’n uitnemende digter se werk. Vertalings deur Bezuidenhout, self ’n bekroonde digter, bied die leser wat nie so ’n goeie begrip van Nederlands het nie – veral poëtiese taalgebruik kan vir Afrikaanse lesers ’n tameletjie wees – meer insae in die nuanses van die oorspronklike Nederlandse gedig.

Enquist se werk hanteer temas soos moederskap, natuurbelewing, asook musiek, en het dikwels ’n selfrefleksiewe toon. Wat egter veral opvallend is, is die deurlopende tema van verlies en die bewustheid van verganklikheid wat in meeste van die verse neerslag vind. Hierdie tema word in die laaste helfte van Arsenaal van klank al sterker – waarskynlik na aanleiding van die tragiese verlies van Enquist se dogter wat in 2001 in ’n verkeersongeluk sterf. Gedigte soos ‘Niet’, ‘Omslag’ en ‘Sectie’ oor die verlies van die kind kan geen leser onaangeraak laat nie. Dit roep ook die onvergeetlike eerste gedig van die versamelbundel op. In dié gedig (‘Mijn zoon’) troos die moeder die angstige kind in die nag en vertel vir hom (en haarself) dat sy hom kan beskerm teen alle gevare: ‘Ik lieg hem voor en red hem / tot wij beiden slapen in gestolen veiligheid’. Hierdie gedig, wat in haar debuut verskyn, sowel as van haar ander vroeëre verse, kry by nabetragting ’n byna profetiese kwaliteit.

Bezuidenhout wys in die voorwoord tot hierdie versamelbundel daarop dat die spreker in Enquist se poësie as ’n strydende figuur, wat die wêreld as ’n gevegsituasie ervaar, uit die verf kom. Bundeltitels soos Soldatenliederen en Jachtscènes sluit by hierdie tema aan. Op die oog af sou dit kontrasteer met die stereotipiese idee van die moeder en vrou as (net) ’n tere versorger. Die moeder wat in hierdie gedigte na vore tree, is ’n sterk, komplekse figuur. Die roerende gedig ‘Een menigte’ oor die verskillende manifestasies van die treurende moeder illustreer dié veelvuldigheid. Soos Bezuidenhout in die voorwoord verklaar, kom die verskillende fasette van die vrou as kunstenares, dogter en minnares ook in Enquist se werk aan bod, met gedigte soos ‘Ossificatie’ en ‘Wenteling’ oor die lewensfases van die vrou. In laasgenoemde gedigte kom die tema van verganklikheid weer na vore.

Die veelsydige Enquist is volgens Bezuidenhout in die voorwoord ook ’n tjellis en ’n pianis. In aansluiting hierby speel die tema van klank en gehoor ’n besondere rol in haar oeuvre. Musikale beelde figureer in verskeie gedigte in die versamelbundel (sien bv. ‘Voor hobo en piano’, ‘Hoe lieflijk’, ‘Mozarts uitzicht’). Bezuidenhout kies as bundeltitel ’n gedeelte van ’n versreël uit ‘Verzoek aan de schilder’ – ’n gedig waarin die tema van verlies sterk aan bod kom. Die kombinasie van ‘klank’ met die woord ‘arsenaal’, wat soos haar debuuttitel (Soldatenliederen) strydende beelde oproep, skakel met die kompleksiteite opgesluit in Enquist se werk.

Bezuidenhout se vertalings bly, wat betekenis en woordorde betref, naby aan die oorspronklike gedigte. Meestal kry sy dit ook reg om die ritme van die oorspronklike Nederlandse verse in Afrikaans te vertaal. Hiervan is veral ‘Julie’, ‘Smaak’, ‘Lente in Amsterdam’ en ‘Om te dra’ goeie voorbeelde. Vergelyk in hierdie verband ook die vertaling van die eerste strofe van ‘Dragen’ (‘Om te dra’):

Licht is zo’n kindje te dragen, dicht
aan je borst, klein hart tegen hart,
abrikoos van haar oor aan je mond.

[Lig is dit om so ’n kindjie te dra, styf
aan jou bors, hartjie teen hart,
appelkosie van haar oor by jou mond.]

Arsenaal van klank is ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse poësie. Te min andertalige literatuur, en spesifiek poësie, word in Afrikaans vertaal. Vertalings verruim en verryk ’n letterkunde deurdat nuwe invalshoeke en ander invloede ’n leser in sy eie taal bereik. Die blik wat Arsenaal van klank op ’n uitsonderlike digter se werk bied, is ook belangrik – Anna Enquist se gedigte behoort tot menige Afrikaanse leser te spreek.



Crossref Citations

No related citations found.