Book Review

Waar aasvoëls draai

Book Title: Post mortem

Author: Pieter Fourie

ISBN: 978-1-4853-0433-3

Publisher: Protea Boekhuis, 2016, R150*

*Book price at time of review

Review Title: Waar aasvoëls draai

Reviewer:
Salomi Louw1

Affiliation:
1School of Languages and Communication Studies, University of Limpopo, South Africa

Corresponding author: Salomi Louw, louwsalomi@gmail.com

How to cite this book review: Louw, S., 2017, ‘Waar aasvoëls draai’, Literator 38(1), a1401. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1401

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Aanvanklik sien ons drie hopies grond, met karakters wat daarin spit. Trien kom opgestap en deur haar analeptiese vertelling en interaktiewe terugflitse word die histoire geopenbaar. Rekwisiete word van ’n tafel af gehaal om die episode uit te speel en beligting help verder met die enscenering.

Basjan en Trien is ’n kinderlose plaasegpaar. Die plaaswerkers is Gulu, en Vytjie wat in die huis se spaarkamer geakkommodeer word sodat sy byderhand kan wees om werkies te doen en veral om te sorg dat Trien haar depressiemedisyne drink. Vytjie doen egter méér as dit: sy versorg ook vir Basjan; borsel sy klere af terwyl hy reeds aangetrek is; ry saam met hom dorp toe om die hekke oop te maak – maar klim langs die pad voor by hom in die kajuit in, waar daar mettertyd groter toegeneentheid ontwikkel.

Basjan, wat al jare lank nie by sy vrou slaap nie en dit altyd net in die donker wou doen, gaan wys later telkens vir Vytjie waar die aasvoëls vreet, en hulle verkeer dan intiem in ’n verwaarloosde pondok wat eers deur haar skoon en lig gemaak word. Wanneer die swanger Vytjie later nie die kruie kan kry om te aborteer nie, maak Basjan haar dood in die hut, wat hy agterna toe en donker maak, en pleeg dan buite selfmoord waar die aasvoëls sy lyk kan bykom (bl. 77–78). Voor hy en Vytjie na die hut is, het hy aan die alkoholverslaafde Gulu ’n kan vergiftigde wyn gegee.

Trien moet die drie lyke dan uitlê. Basjan se oorblyfsels begrawe sy in ’n wit kinderkissie soos vir die kind wat sy nooit gehad het nie.

Met die eerste lees het die teks ’n gevoel van déjà vu geskep: die verhooginkleding lewer niks nuuts nie (maar is wel gepas vir opvoering met ’n klein geselskap en in ontoereikende lokale); die storie van ’n baas – ’n Bybelswaaier – wat ’n huiswerker bo sy vrou verkies en haar swanger maak, is ook al geyk; en dooies wat herleef om hulle storie te vertel is so oud soos die berge. Ook die skramse noem van dinge wat in die kweperlaning gebeur het tussen Basjan en sy ma laat die bekende smaak van bloedskande in die mond (bl. 55–56) – ’n leser moet self bepaal hoe dit Basjan beïnvloed het en of dit die moontlike rede kan wees vir sy keuse van ’n toe en donker slaapkamer.

Met herbesoeke aan die teks, kom die besef wel dat hier veel te ontginne is aan temas, motiewe, simboliek en interne kontraste, soos die verwysing na donker en na lig wat wisselend van toepassing is op die plaaseienaar en sy vrou. Die beeld van die aasvoëls wat hy vir Vytjie gaan wys en waarvoor hy homself ná haar dood letterlik slag, kon miskien sterker ontwikkel gewees het: húlle is ál wat werklik voordeel trek uit sterftes. Dan wonder jy in hoeverre dit op Trien van toepassing is.

Alhoewel die gegewens eintlik swaartillend is, bevat die drama talle ligter momente, soos Vytjie se plesier daaraan om die bakkie te help bestuur en die toeter te kan druk. Die kontras van so ’n rit met dié van Anker in Die koggelaar is duidelik voor oë: Fourie se plaasboer sien die lewe effens anders as van sy vroeëre karakters.

Een van die mooi momente is wanneer Trien vertel hoe sy vir Gulu na sy dood gewas het en watter gewaarwordinge dit by haar opgewek het (bl. 51–52). Haar verwondering oor die mooiheid van die mansliggaam kontrasteer sterk met die feit dat sy haar man se lyf net in die donker ervaar het.

Aan die einde wil sy net alles was – ook die verlede: ‘My gisters en eergisters was skoon. Ek was skoon’ (bl. 80). Vytjie bevraagteken dit egter en dui aan dat Trien eintlik deur haar handelinge vir alles verantwoordelik was.

Pieter Fourie is van jongs af ononderbroke betrokke by die verhoog: as skrywer, akteur en regisseur en het vir sy werk talle pryse gewen, soos die SAKRUK- en DALRO-pryse, die Danie Malan-prys en die Johan Nel-prys. In 2002 wen hy die nuwe Reinet Nagtegaal-prys vir Verhoog- en Kabarettekste met Koggelmanderman; die Hertzog-prys vir Drama word in 2003 aan hom toegeken; hy ontvang ’n Fleur de Cap in 2006 en in 2016 word hy vereer met ’n kykNET Fiësta vir sy bydrae tot die Afrikaanse woordkuns. Van sy tekste is ook verfilm.

Hierdie bekende teaterman se jongste teks, Post mortem, verdien nie net meer toegewyde ondersoek nie, maar ook om opgevoer word.

Literatuurverwysings

Fourie, P., 1988, Die koggelaar, HAUM-Literêr, Pretoria.



Crossref Citations

No related citations found.