<?xml version="1.0" encoding="UTF-8"?>
<!DOCTYPE article PUBLIC "-//NLM//DTD JATS (Z39.96) Journal Publishing DTD v1.1d1 20130915//EN" "http://jats.nlm.nih.gov/publishing/1.1d1/JATS-journalpublishing1.dtd">
<article xmlns:xlink="http://www.w3.org/1999/xlink" xmlns:mml="http://www.w3.org/1998/Math/MathML" article-type="research-article" xml:lang="af">
<front>
<journal-meta>
<journal-id journal-id-type="publisher-id">LIT</journal-id>
<journal-title-group>
<journal-title>LITERATOR - Journal of Literary Criticism, Comparative Linguistics and Literary Studies</journal-title>
</journal-title-group>
<issn pub-type="ppub">0258-2279</issn>
<issn pub-type="epub">2219-8237</issn>
<publisher>
<publisher-name>AOSIS</publisher-name>
</publisher>
</journal-meta>
<article-meta>
<article-id pub-id-type="publisher-id">LIT-38-1339</article-id>
<article-id pub-id-type="doi">10.4102/lit.v38i2.1339</article-id>
<article-categories>
<subj-group subj-group-type="heading">
<subject>Original Research</subject>
</subj-group>
</article-categories>
<title-group>
<article-title>Die spook van Afrikaneridentiteit in <italic>Toorberg, Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> (Etienne van Heerden)</article-title>
</title-group>
<contrib-group>
<contrib contrib-type="author" corresp="yes">
<contrib-id contrib-id-type="orcid">http://orcid.org/0000-0001-5964-8977</contrib-id>
<name>
<surname>van Graan</surname>
<given-names>Mari&#x00EB;tte</given-names>
</name>
<xref ref-type="aff" rid="AF0001">1</xref>
</contrib>
<aff id="AF0001"><label>1</label>School of Languages, North-West University, South Africa</aff>
</contrib-group>
<author-notes>
<corresp id="cor1"><bold>Corresponding author:</bold> Mari&#x00EB;tte van Graan, <email xlink:href="vangraan.mariette@gmail.com">vangraan.mariette@gmail.com</email></corresp>
</author-notes>
<pub-date pub-type="epub"><day>28</day><month>04</month><year>2017</year></pub-date>
<pub-date pub-type="collection"><year>2017</year></pub-date>
<volume>38</volume>
<issue>2</issue>
<elocation-id>1339</elocation-id>
<history>
<date date-type="received"><day>29</day><month>08</month><year>2016</year></date>
<date date-type="accepted"><day>23</day><month>02</month><year>2017</year></date>
</history>
<permissions>
<copyright-statement>&#x00A9; 2017. The Authors</copyright-statement>
<copyright-year>2017</copyright-year>
<license license-type="open-access" xlink:href="http://creativecommons.org/licenses/by/2.0/">
<license-p>Licensee: AOSIS. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.</license-p>
</license>
</permissions>
<abstract>
<p>Spookkarakters is &#x2019;n kenmerkende aspek van Etienne van Heerden se roman-oeuvre, maar tot op hede is weinig navorsing gedoen waarin daar spesifiek na die aard en funksie van hierdie spookkarakters ondersoek ingestel is. In hierdie artikel bespreek ek Van Heerden se gebruik van spookkarakters diachronies, met verwysing na die romans <italic>Toorberg</italic> (1986), <italic>Die stoetmeester</italic> (1993) en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> (2000). Ten einde die aard van spookkarakters uit te klaar, word daar van die sogenaamde paranormale wetenskap gebruik gemaak. Die spoke in die drie betrokke romans word hiervolgens geklassifiseer en binne die konteks van die roman waarin hulle verskyn, bespreek. Hierdeur sal ek aantoon hoe die spookkarakters in di&#x00E9; romans as &#x2019;n voortdurend veranderende vergestalting van Afrikaneridentiteit (&#x2019;n sentrale tema in Van Heerden se oeuvre) gelees kan word. Van Heerden se Afrikaner verander oor tyd: in <italic>Toorberg</italic> vorm die spookkarakters &#x2019;n kollektief wat &#x2019;n gefragmenteerde beeld van die stereotipiese, arga&#x00EF;ese, manlike Afrikaneridentiteit vergestalt; in <italic>Die stoetmeester</italic> word &#x2019;n liminale karakter in &#x2019;n liminale historiese tydperk juis s&#x00F3; geskryf om &#x2019;n liminale Afrikaneridentiteit te vergestalt; en in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> word daar wegbeweeg van &#x2019;n eksklusiewe Afrikaneridentiteit na &#x2019;n meer omvattende Suid-Afrikaanse identiteit deur die gebruik van spookkarakters wat ten opsigte van agtergrond en herkoms verskil. Ten slotte sal die historiese kontekste van die romans en die identiteite daarin vergelyk en bespreek word ten einde die funksie van Van Heerden se spookkarakters as voortdurende herskrywings van Suid-Afrikaanse identiteite uit te lig.</p>
</abstract>
<trans-abstract xml:lang="en">
<p><bold>The ghost of Afrikaner identity in <italic>Ancestral voices</italic>, <italic>Leap year</italic> and <italic>The long silence of Mario Salviati</italic> (Etienne van Heerden).</bold> Ghost characters are a characteristic of the novels of Etienne van Heerden, but little research has been done concerning the nature and function of these ghost characters. In this article I discuss Van Heerden&#x2019;s use of ghost characters diachronically with reference to the novels <italic>Ancestral voices</italic> (1986), <italic>Leap year</italic> (1993) and <italic>The long silence of Mario Salviati</italic> (2000). In order to clarify the nature of these ghosts, I use the so-called science of the paranormal as a framework. The ghosts in the three novels will be classified accordingly, and then discussed within the context of the novels in which they appear. In this way, I shall show how the ghost characters in these novels can be read as a constantly changing embodiment of Afrikaner identity (a central theme in Van Heerden&#x2019;s oeuvre). Van Heerden&#x2019;s Afrikaner changes with the times: in <italic>Ancestral voices</italic> the ghost characters form a collective that represents a fragmented image of the stereotypical, archaic male Afrikaner identity; in <italic>Leap year</italic> a liminal character is written in a liminal time to embody a liminal Afrikaner identity; and in <italic>The long silence of Mario Salviati</italic> Van Heerden moves away from the exclusive Afrikaner identity to a broader South African identity by using ghost characters from very different backgrounds and origins. In conclusion I shall compare these identities and the historical contexts of these novels in order to show the function of Van Heerden&#x2019;s ghost characters as constant rewritings of South African identities.</p>
</trans-abstract>
</article-meta>
</front>
<body>
<sec id="s0001">
<title>Inleiding</title>
<p>Spookkarakters word tradisioneel gevind in verhale waarin &#x2019;n raaisel, soos die begraafplek van &#x2019;n skat of die identiteit van &#x2019;n moordenaar, opgelos moet word. Die drie romans van Etienne van Heerden wat in hierdie artikel bespreek word, bevat almal spookkarakters, &#x2019;n raaisel, en lewende karakters wat soek na die raaisel se oplossing. In <italic>Toorberg</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>) probeer Magistraat Abraham van der Ligt vasstel hoe en wanneer Noag du Pisani oorlede is; in <italic>Die stoetmeester</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>) vertel &#x2019;n vermoorde man die verhaal van sy laaste dae teen die agtergrond van &#x2019;n gemeenskap op die rand van siviele oorlog; in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0027">2000</xref>) word Ingi Friedl&#x00E4;nder deur die dorpgeskiedenis van Tallejare meegesleur totdat sy saam met die Tallejaners die raaisel van die verlore Krugergoud probeer oplos. Spookkarakters kan buite tyd beweeg, hulle kan waarneem wat lewende karakters nie kan sien nie, en hulle kan hul kennis oor allerlei geheime openbaar. Juis hierom is spookkarakters in &#x2019;n posisie om raaisels vir die lewende karakters &#x00E9;n die leser op te los.</p>
<p>In Etienne van Heerden se romans staan die spookkarakters vir die leser op die voorgrond omdat hulle fokaliseer, vertel en duidelik voor die leser se geestesoog kom staan met dieselfde werklikheidswaarde as die lewende karakters. Maar in die storie is die spookkarakters eintlik op die agtergrond omdat hulle in die roman feitlik geen interaksie met lewende karakters het nie, en ook geen direkte rol in die prim&#x00EA;re verhaallyn van die roman speel nie. Alhoewel die spookkarakters heelwat inligting aan die leser van die roman openbaar, doen hulle niks in die verhaal om die raaisels vir die lewende karakters op te los nie. Hierin l&#x00EA; die suggestie dat Van Heerden se spookkarakters &#x2019;n ander funksie as die spookkarakters in die tradisionele spookstorie vervul.</p>
<p>Die spookkarakter is &#x2019;n verhaalelement wat hom leen tot veelvuldige interpretasiemoontlikhede. Spookkarakters is meer kompleks as wat algemeen aanvaar word en uiters aanpasbaar vir verskillende liter&#x00EA;re genres, insluitende die tradisionele spookstorie, die Gotiese en variante daarvan, die postkoloniale literatuur, die historiese roman en die magiese realisme (vgl. Gelder &#x0026; Jacobs <xref ref-type="bibr" rid="CIT0013">1999</xref>:188, Anker <xref ref-type="bibr" rid="CIT0003">2003</xref>:230, Woodbridge, <xref ref-type="bibr" rid="CIT0029">2003</xref>:601, Wallace <xref ref-type="bibr" rid="CIT0028">2004</xref>:58, Marais <xref ref-type="bibr" rid="CIT0016">2005</xref>:117, Shear <xref ref-type="bibr" rid="CIT0019">2006</xref>:71&#x2013;72, Cameron <xref ref-type="bibr" rid="CIT0004">2008</xref>:383, Gaylard <xref ref-type="bibr" rid="CIT0012">2008</xref>:16&#x2013;17 en Van Graan <xref ref-type="bibr" rid="CIT0024">2015</xref>:57&#x2013;74). Spookkarakters kan op verskeie maniere gebruik word om uiteenlopende perspektiewe op die geskiedenis, sosiale strukture, identiteite en persepsies van die werklikheid uit te beeld, en vandaar my ondersoek na die funksie van spookkarakters in Etienne van Heerden se romans: <italic>Toorberg</italic>, <italic>Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>. Gedetailleerde, indringende analises van elke spookkarakter en spookverskynsel in hierdie drie romans het aan die lig gebring dat die funksie van die spookkarakters verbonde is aan die identiteit wat deur elke spookkarakter vergestalt word (vgl. Van Graan <xref ref-type="bibr" rid="CIT0024">2015</xref>).</p>
<p>Identiteit is myns insiens &#x2019;n belangrike tematiese aspek van Van Heerden se oeuvre in geheel, en in die romans hier ter sprake, is Afrikaneridentiteit van kernbelang. Karakters se identiteit word onthul deur hul eie handelinge en vertellings, sowel as die persepsie van elk deur ander karakters en vertellers in die verhaal. Leidrade tot die identiteit van &#x2019;n spookkarakter kan derhalwe ook gevind word in hoe, waar en aan wie hierdie spookkarakter verskyn. Byvoorbeeld: Wanneer die spoke van die Moolmans op Toorberg, hul plaas en geboortegrond, dwaal en tob oor die water van die Oog wat opdroog, kan aanduidings van die Boere-Afrikaner se gehegtheid aan grond en water gevind word. Maar wanneer hierdie spookkarakters nie direk aan die lewende karakters verskyn of met hulle kommunikeer nie terwyl hulle eerder teenoor die leser kommentaar lewer, kan &#x2019;n afkeer in die lewende nageslagte bespeur word, wat aandui dat hulle nie voldoen aan die standaarde van hul voorgeslagte nie.</p>
<p>Die kwessie van identiteit &#x2013; individueel en in groepsverband &#x2013; is besonder kompleks, en die definisie daarvan word telkens deur navorsers aangepas, verskuif en verruim (Coupland <xref ref-type="bibr" rid="CIT0006">2007</xref>:2213). Hierdie artikel is nie &#x2019;n studie van identiteitskwessies of &#x2019;n indringende ondersoek na Afrikaneridentiteit nie. Dit is in wese &#x2019;n analise van spookkarakters in drie romans van Etienne van Heerden, waaruit &#x2019;n patroon van &#x2019;n veranderende Afrikaner- en Suid-Afrikaanse identiteit na vore kom. Vir die doel van die artikel word identiteit dus in die algemeen beskou as &#x2019;n versameling eienskappe wat aan &#x2019;n individu toegeken word deur sy karakterisering in die teks. Hierdie eienskappe word be&#x00EF;nvloed en bepaal deur die omgewing &#x2013; insluitende ruimte, geskiedenis, kultuur, (historiese) tyd, en die individu se interaksie met die sosiale struktuur waarin hy homself bevind &#x2013; en sy verhoudings met en rolle in sy familie en gemeenskap. Vir Erasmus (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0011">2005</xref>:235) steun identiteitsvorming (spesifiek in die identiteitnarratief) op drie pilare: die verhouding met die geskiedenis, die verhouding met ruimte en die verhouding met kultuur. Hierom word die identiteit van die spookkarakters in di&#x00E9; romans ook verbind met die historiese tyd waarin die roman afspeel, die karakters se verhouding tot die ruimte waarin hulle spook en hul plek in of houding jeens die kultuur van hul onmiddellike samelewing.</p>
<p>Die identiteit van die individuele spookkarakter word verder beskou as &#x2019;n vergestalting van groepsidentiteit. Daar is &#x2019;n sterk verband tussen die identiteit van die individu en die identiteit van &#x2019;n groep &#x2013; die een be&#x00EF;nvloed die ander. Erasmus (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0011">2005</xref>:234) wys uit dat &#x2018;die verklaring van identiteit grootliks geskied aan die hand van die interaksie tussen verskillende groepe&#x2019;, en dat &#x2018;betekenis in di&#x00E9; verband van veranderlikes soos &#x2019;n bepaalde geskiedenis, gemeenskaplike oorsprong en gedeelde belange&#x2019; afhang. Hiervolgens is kultuur &#x2018;essensieel tot die reprodusering van identiteit&#x2019; (Erasmus <xref ref-type="bibr" rid="CIT0011">2005</xref>:234). Die individu se identiteit word, in &#x2019;n mate, gevorm deur die groep (kultuur) waarin hy homself bevind. Terselfdertyd word die groepsidentiteit bepaal deur die individue in daardie groep &#x2013; wanneer individue drasties verander, kan die groep se identiteit verander word. Dit beteken nie dat alle individuele variasies in die groepsidentiteit aanvaar sal word nie. Adler en Adler (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0001">2007</xref>:2208) wys daarop dat &#x2019;n individu wat as afwykend <italic>(deviant)</italic> deur die groep beskou of as sodanig verklaar word, eerder verwerp as ge&#x00EF;ntegreer word &#x2013; soos wat byvoorbeeld met sekere Moolmans in <italic>Toorberg</italic> gebeur. Hierdeur word die groepsidentiteit versterk ten koste van die individu. Maar die groepsidentiteit kan, veral in magies realistiese tekste, ook versterk word wanneer voorheen ongehoorde of verwerpte individue &#x2013; soos Siela Pedi in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> &#x2013; by die groep ingesluit word en as&#x2019;t ware meer as een groep bymekaarbring om &#x2019;n groter, multikulturele groep te vestig.</p>
<p>Die definisie van &#x2018;karakter&#x2019; is altyd oop vir interpretasie en, soos Margolin (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0017">1990</xref>) uitwys, word hierdie definisie telkens aangepas na gelang van die navorser se spesifieke fokus, die konteks van die navorsing en die algemene teoretiese paradigma wat vir die doel van die studie aanvaar word. In die artikel word daar ag geslaan op beide die mimetiese en semiotiese aspekte van &#x2018;karakter&#x2019;, en ook op Palmer (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0018">2004</xref>:12) se beroep dat die karakter holisties eerder as gefragmenteerd ondersoek moet word. Binne hierdie raamwerk definieer ek &#x2019;n spookkarakter as &#x2019;n variasie van die menslike karakter, wat &#x2019;n entiteit is wat uit woorde gekonstrueer word, menslike eienskappe vertoon en as fiktief werklik deur die leser ervaar word, met die bykomende aspek dat die spookkarakter &#x2019;n oorlede mens is en as sodanig in die teks uitgebeeld word. In hierdie artikel word spookkarakters gelykwaardig aan menslike karakters beskou. Hulle het dus dieselfde werklikheidswaarde as lewende karakters, maar moet tog van hulle onderskei word omdat die aard van die karakter in sekere belangrike opsigte verskil. Spookkarakters het eienskappe wat lewende karakters nie kan h&#x00EA; nie: hulle is liggaamloos, onsigbaar, buite lini&#x00EA;re tyd, met toegang tot lewende karakters se private oomblikke en selfs hul gedagtes. Hulle is terselfdertyd dood &#x00E9;n lewend, teenwoordig in die w&#x00EA;reld. Verder is spookkarakters ruimtelik gebonde &#x2013; hulle kan sekere plekke (soos die plaas of die dorp) nie verlaat nie. Hoe die spookkarakters hierdie eienskappe (of magte) gebruik, onthul ook aspekte van hul identiteit. Wanneer Siener in <italic>Die stoetmeester</italic> as ontliggaamde spook met afsku kyk na die liggaam van sy lewende self, openbaar hy diepgesetelde eensaamheid, lae selfbeeld en innerlike konflik met sy eie seksualiteit. Hierdie &#x2018;bonatuurlike&#x2019; eienskappe (in vergelyking met lewende, menslike karakters) moet verstaan en verreken word in die analise van &#x2019;n spookkarakter.</p>
<p>Om &#x2019;n spookkarakter na behore te ondersoek, is dit dus nodig om &#x2019;n raamwerk te vind waarin spoke buite fiksie ondersoek word. Hiervoor gebruik ek die sogenaamde paranormale wetenskap, &#x2019;n veld waarin daar onder andere na die letterlike spook gesoek word. So &#x2019;n benadering kan dalk vergesog voorkom omdat spoke en die paranormale wetenskap in die alledaagse lewe vir baie mense as vergesog voorkom. Dit gaan hier daaroor om die <italic>idee</italic> van die spook beter te verstaan; om die fiktiewe spook met die &#x2018;werklike&#x2019; spook te vergelyk (soos wat die meeste lesers outomaties menslike karakters met werklike mense vergelyk). Heelwat mense glo in spoke as werklike verskynsels, en het verklarings vir hierdie verskynsels. Sommiges glo selfs dat hul verklarings wetenskaplik is. Vanuit &#x2019;n empiriese perspektief is hierdie verklarings ongelukkig nie aanvaarbaar nie, maar dit is nie hier van belang nie. Die doel is om te verstaan hoe spoke beskou en begryp word buite die fiksie van die betrokke romans, en daardie begrip te gebruik om die fiktiewe spook te analiseer. Op soortgelyke wyse sou &#x2019;n navorser byvoorbeeld die sielkundige teorie&#x00EB; rakende skisofrenie inspan om &#x2019;n fiktiewe karakter wat aan skisofrenie ly, te analiseer. Die liter&#x00EA;re navorser gebruik die sielkundige teorie as &#x2019;n raamwerk sonder om daadwerklik die legitimiteit daarvan te beoordeel.</p>
<p>Die paranormale wetenskap word in die algemeen beskou as &#x2019;n skynwetenskap met &#x2019;n swak reputasie, en dit is nie die doel van hierdie artikel om enige geloofwaardigheid daaraan te gee nie. Ek beskou die paranormale wetenskap eerder as &#x2019;n metanarratief: &#x2019;n storie oor wat spoke is, hoe hulle bestaan verklaar en bewys kan word, en hoe die lewendes met hulle kan kommunikeer. <italic>Iets</italic> het met <italic>iemand gebeur</italic> op &#x2019;n spesifieke <italic>tyd</italic> en <italic>plek</italic>. Die spookjagter hoor die storie by &#x2019;n ooggetuie en probeer die gebeurtenis empiries bewys (&#x2019;n haas onbegonne taak). Die narratoloog lees die liter&#x00EA;re verhaal en probeer die betekenis daarvan bepaal. Vir die spookjagter is die spook &#x2019;n letterlike, metafisiese entiteit, vir die narratoloog &#x2019;n bloot fiktiewe karakter.</p>
</sec>
<sec id="s0002">
<title>Die klassifikasie van spoke in die paranormale wetenskap</title>
<p>Daar is heelwat klassifikasiestelsels vir spoke in die paranormale wetenskap, maar die kategorisering van spookverskynsels (<italic>hauntings</italic>) as intelligent of remanent blyk die mees algemeen gebruik te word onder spookjagters (vgl. Van Graan <xref ref-type="bibr" rid="CIT0024">2015</xref>:45&#x2013;50). Binne hierdie kategorie&#x00EB; word die aard van die spook (watter tipe entiteit dit is, en watter kragte dit kan h&#x00EA;) ook in berekening gebring. Die bekende spookjagters van The Atlantic Paranormal Society (T.A.P.S. <xref ref-type="bibr" rid="CIT0021">2015</xref>) en Hawes (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0015">n.d.</xref>)<xref ref-type="fn" rid="FN0001"><sup>1</sup></xref> verduidelik dit soos volg:</p>
<sec id="s20003">
<title>Remanente spoke</title>
<p>Geluide soos voetstappe, reuke soos parfuum waarvan die oorsprong nie bepaal kan word nie, of verskynsels van figure wat onbewus is van die lewende waarnemer word as remanent beskou. Hierdie ouditiewe, visuele en/of olfaktoriese verskynsels word nie beskou as die teenwoordigheid van die gees, siel of bewussyn van &#x2019;n oorlede persoon nie, maar as &#x2019;n onbewuste herhaling van &#x2019;n gebeurtenis of gebeure. Hier is gewoonlik &#x2019;n patroon te bespeur, soos dat die verskynsels telkens op dieselfde plek, tyd van die dag of op &#x2019;n spesifieke datum herhaal word. Dit word veronderstel dat sulke verskynsels veroorsaak word deur energie wat op onverklaarbare wyse in &#x2019;n spesifieke ruimte vasgevang is, en soos &#x2019;n opname oor en oor gespeel word.</p>
</sec>
<sec id="s20004">
<title>Intelligente spoke</title>
<p>&#x2018;Intelligent&#x2019; verwys nie hier na die intelligensiekwosi&#x00EB;nt (IK) van die spook of die waarnemer nie, maar na die veronderstelling dat die spook &#x2019;n entiteit met bewussyn is. Hulle weet dat hulle oorlede is, hulle is bewus van wat rondom hulle aangaan en probeer soms om met die lewendes te kommunikeer. Hulle kan voorwerpe rondbeweeg en handelinge uitvoer. Intelligente spoke word beskou as die teruggekeerde, ontliggaamde siele van afgestorwe persone.</p>
<p>Volgens spookjagters is remanente spokery die tipe wat mees algemeen aangetref word (T.A.P.S., <xref ref-type="bibr" rid="CIT0021">2015</xref>), maar in die letterkunde is die intelligente spook meer algemeen. Enkele bekende voorbeelde in internasionale letterkunde sluit in Toni Morrison se <italic>Beloved</italic> (1987), Anne Rice se <italic>The servant of the bones</italic> (1996) en Alice Sebold se <italic>The lovely bones</italic> (2002). Afrikaanse letterkunde het &#x2019;n ryk tradisie van spookstories, veral in die kortverhaalformaat. Voorbeelde sluit in die bekende spookstories van C.J. Langenhoven en Eug&#x00E9;ne N. Marais, asook meer onlangse versamelings soos <italic>Dwalers loop nie by twyfelaars nie</italic> (2000) van Jan Nel en <italic>Van spoke gepraat</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0020">2006</xref>), byeengebring deur Charles Fryer. Bekroonde skrywers soos Andr&#x00E9; P. Brink met <italic>Donkermaan</italic> (2001) en Etienne van Heerden lewer Afrikaanse romans waarin intelligente spookkarakters verskyn. Myns insiens is die groter voorkoms van intelligente spookkarakters in die letterkunde om die eenvoudige rede dat &#x2019;n intelligente spook &#x2019;n volwaardige karakter kan wees en meer waarde kan h&#x00EA; vir die skrywer as &#x2019;n remanente verskynsel. Dit is dan ook die geval in Van Heerden se romans. Vervolgens sal die spookkarakters in <italic>Toorberg</italic>, <italic>Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> geklassifiseer en bespreek word.</p>
</sec>
</sec>
<sec id="s0005">
<title>Die spoke van <italic>Toorberg</italic></title>
<p>Magistraat Abraham van der Ligt se ondersoek na die dood van Noag du Pisani vorm die prim&#x00EA;re verhaallyn van <italic>Toorberg.</italic> Tematies handel die roman oor die skuld en onregte van die verlede, en Noag se dood word geteken as &#x2019;n skuldoffer aan die grond. Daarom is dit nie Noag wat hier spook nie, maar sy voorgeslagte. Daar is elf intelligente spookkarakters in <italic>Toorberg</italic>, naamlik StamAbel Moolman, Ouma Magtilt van der Merwe, Regter Lucius Moolman, Floors Moolman, Soois die Rebel Moolman, Andreas die Digter Moolman, OuAbel Moolman, Ouma Hetta Olivier, De la Rey Moolman, Abel Moolman en Andries Riet (voorheen Moolman).<xref ref-type="fn" rid="FN0002"><sup>2</sup></xref> Hulle is duidelik bewus van hul eie oorlye, en ook van wat rondom hulle op Toorberg aan die gang is. In die roman kry hulle telkens vertel- en fokalisasiebeurte, waarin hulle dele van die geskiedenis van Toorberg aan die leser openbaar en kommentaar lewer op die lewendes se doen en late.</p>
<p>In <italic>Toorberg</italic> word die dooies deur die dade van die lewendes gewek, spesifiek Abel se installering en gebruik van die boormasjien. Soois vertel dat dit die boormasjien is &#x2018;[wat] die dooies in hul grafte laat wakkerskrik en die voorgeslagte laat dwaal [het]&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:124). Wanneer die dooies gewek is, is daar skynbaar vir hulle niks anders om te doen as om die lewendes dop te hou nie. StamAbel raak ongeduldig met hulle onvermo&#x00EB; om die kind uit die boorgat te kry; Magtilt hou vir Ella dop; OuAbel agtervolg die magistraat; Lucius bewandel die opstal en die plaas; Andreas wag vir die kind sodat hy hom oor Toorberg kan lei; Soois wil die boormasjien saboteer; Floors sien sy nageslagte (waarskynlik vir die eerste keer); Hetta hou Ella en die magistraat saam dop; Abel kyk hoe die lewendes na hom soek omdat hulle nog nie weet dat hy oorlede is nie; Andries sien die lewende families bymekaar om die boorgat en besin oor sy eie bitterheid. En hierdie oorledenes het &#x00E1;lmal om die boorgat gestaan en die gebeure rondom die dood van hul laaste afstammeling, Noag, aanskou.</p>
<p>Die teenwoordigheid van spookkarakters kan, wanneer die saak so betrag word, toegeskryf word aan die dade van die lewendes. Tog is daar ander faktore wat &#x2019;n rol speel in die spoke se teenwoordigheid, veral die feit dat hulle in hierdie magiese milieu op hul geboortegrond gevange gehou word: &#x2018;Moolmans moes wortel skiet en selfs n&#x00E1; die dood mog hulle nie reis nie. Toorberg was hulle s&#x2019;n en hulle was Toorberg s&#x2019;n&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:6); en &#x2018;Toorberg het geen Moolman nog vry laat gaan nie [&#x2026;] nie in die lewe en nie in die dood nie&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:12). Van Heerden plaas hierdie spookkarakters tussen hul lewende nasate vir die leser om te sien, en hieruit kan die versterking en verswakking van sekere eienskappe van hul groepsidentiteit duidelik waargeneem word.</p>
<p>Die Moolmans &#x2013; lewend en dood &#x2013; word beskou as &#x2019;n kollektief van die Afrikanervolk, en verteenwoordig dus by implikasie Afrikaneridentiteit. Daar is byna geen interaksie tussen die Moolmans in die roman nie &#x2013; die spoke verskyn nie aan die lewendes nie,<xref ref-type="fn" rid="FN0003"><sup>3</sup></xref> hulle sien en gesels nie met mekaar nie (met die uitsondering van StamAbel en Magtilt, wat ook in die dood bymekaar is). In die kollektief van die Moolman-stamboom is daar ook Moolmans wat verwerp of uitgestoot is, na wie as &#x2018;StiefMoolmans&#x2019; verwys word. Hierom kan die karakters van <italic>Toorberg</italic> as &#x2019;n gefragmenteerde kollektief gelees word, waarin elke spookkarakter aspekte van die arga&#x00EF;ese, stereotipiese Afrikaneridentiteit vergestalt of versterk deur die karaktereienskappe of dade wat hulle tot StiefMoolman-status verdoem.</p>
<p>Met verwysing na die werk van Freud en &#x017D;i&#x017E;ek, rakende groepsvorming en die meesterbetekenaar, omskryf Engelbrecht (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0010">2007</xref>:33&#x2013;38) die meesterbetekenaar as &#x2019;n tipe vaderfiguur in wie die meesterwaardes van die groep gesetel is. StamAbel is die meesterbetekenaar vir die Moolmans, beide in terme van sy eie identiteit, die kenmerke van Afrikaneridentiteit wat hy vergestalt en die invloed wat sy mitiese bestaan op sy nageslagte het. Sy idees en waardes, veral sy Christenskap en Afrikanerskap, is dermate deel van sy nalatenskap dat dit naarstigtelik deur die volgende generasies aangehang word. Dit lei daartoe dat die Moolmans mekaar in hierdie oortuigings versterk, en di&#x00E9; wat nie binne hierdie raamwerk leef en optree nie, verstoot as StiefMoolmans. Engelbrecht (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0010">2007</xref>:33) wys tereg daarop dat die invloed wat individue in die groep op mekaar uitoefen, strook met ons ervaring van &#x2018;die Afrikaner&#x2019; as &#x2019;n groep wat gebind word deur &#x2019;n gedeelde toewyding aan sekere abstrakte idees met betrekking tot kultuur, moraliteit en erfenis. Adler en Adler (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0001">2007</xref>:2208) wys ook daarop dat &#x2019;n individu wat as afwykend deur die groep beskou word, eerder verwerp as ge&#x00EF;ntegreer word in die groepsidentiteit. S&#x00F3; word die Moolmans se Afrikaneridentiteit versterk ten koste van individue.</p>
<p>Die algemene kenmerke van Afrikaneridentiteit wat deur Van Heerden in die Moolmans uitgebeeld word, sluit in manlikheid, die figure van die pionier, kryger en Boer met sy diep verbintenis aan grond en water, Christelike geloof, sterk familiebande en &#x2019;n patriargale gesinstruktuur, die voorkoms van rassisme en &#x2019;n negatiewe ingesteldheid teenoor die stedeling.<xref ref-type="fn" rid="FN0004"><sup>4</sup></xref> Hierdie kenmerke kom in verskeie gedaantes voor in al die Moolmans, en in party Moolmans lei die afwesigheid en vari&#x00EB;ring van een van hierdie kenmerke tot hul uitsluiting. StamAbel as meesterbetekenaar verteenwoordig die prototipe van di&#x00E9; identiteit &#x2013; &#x2018;min mans was beter Afrikaners as StamAbel&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:118). Hy was die pionier wat die wildernis getem het en &#x2019;n spogplaas gevestig het; &#x2019;n kryger wat die &#x2018;geel mensies&#x2019; van sy grond af geveg het; &#x2019;n streng Christen wat twee maal &#x2019;n dag in Hooghollands op sy knie&#x00EB; langs sy katel gebid het; &#x2019;n driftige Boer en &#x2019;n man van die daad wat die water van die Oog op Toorberg beskou het as &#x2019;n teken van &#x2019;n goddelike roeping; die patriarg wat sy gesin en sy nageslagte met &#x2019;n ysterhand regeer het (vgl. Van Graan <xref ref-type="bibr" rid="CIT0024">2015</xref>:105&#x2013;108).</p>
<p>Sy nageslagte idealiseer hom, maar dit word duidelik in die roman gestel dat geen Abel hom ooit in manlikheid sal kan nadoen nie (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:19). Die essensi&#x00EB;le manlikheid wat aan Afrikaneridentiteit gekoppel word, word onderstreep deur die feit dat hier slegs twee vroulike spookkarakters is, en dat di&#x00E9; vroue hoofsaaklik ondersteunende rolle speel. Magtilt was &#x2018;vir [StamAbel] &#x2019;n vrou, vir sy seuns &#x2019;n moeder en vir Toorberg &#x2019;n stammoeder&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:75). Hetta verwoord in haar fokalisasiebeurt die sentrale mite van Afrikaneridentiteit wanneer sy dink &#x2018;wat weet di&#x00E9; kli&#x2019;meid van die harde pad van durf en geloof wat StamAbel met sy waens moes oopkap, weg van Hollandse en Engelse oorheersing aan die Kaap, die wildernis in? Wat weet sy van die groot taak om die heidene in di&#x00E9; swart land te kersten, die ongediertes uit te roei, om hier te ploeg en te saai?&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:150). Beide vroue word hoofsaaklik geskets in terme van die rolle wat hulle as eggenote en moeders in die lewens van die manlike Moolmans vervul het, en dit is juis hulle wat die opmerkings maak oor die nageslagte se onvermo&#x00EB; om by StamAbel kers vas te hou.</p>
<p>As pionier kan hulle hom reeds nie nadoen sonder om die familiegrond te verlaat nie. Onder StamAbel se vyf seuns was slegs OuAbel waardig om Toorberg te erf. Die eersgebore Regter Lucius het &#x2018;sy bloedgrond [verruil] vir roem en geld in die stad&#x2019;, waar hy &#x2018;te veel kennis vir sy eie gesondheid&#x2019; opgedoen het (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:75, 125). Floors het die onvergeeflike sonde begaan om &#x2019;n buite-egtelike kind te verwek by &#x2019;n bruin vrou, Kitty Riet, en was boonop &#x2019;n lafaard met &#x2019;n &#x2018;koes in sy geaardheid&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:126&#x2013;127,114). Floors se seun, Andries Riet, word &#x2019;n verwronge weergawe van die Moolman-Afrikaner: sy liefde vir die grond en sy Moolmanbloed bind hom selfs tot na die dood aan Toorberg, maar hy verwerp sy Moolman-herkoms. Floors se nageslag, die Skaamfamilie, word uitgeskuif na die marge om in armoede op die Stiefveld te woon en boer (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:47). Soois die Rebel had wel manlikheid en die wil om te veg teen die Kakies, maar sy rebellie en krygsvernuf word uitgebeeld as komieklik (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:76&#x2013;77,124). Andreas se manlikheid word bederf deur sy &#x2018;slap gewrigte&#x2019; en liefde vir die stad en die kunste: sy Engelse gedigte het van hom &#x2019;n volksverraaier gemaak, en was die rede vir sy verbanning (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:76).</p>
<p>Slegs OuAbel was man genoeg om die Boer van Toorberg te word. Hy was die een wat die goddelike roeping van StamAbel moes opneem, en moes &#x2018;bid vir re&#x00EB;n&#x2019; toe die goddelike water uit die Oog begin opdroog (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:154). Maar hy het slegs twee seuns gehad: De la Rey, sy gunsteling, wat hy later verwerp het, en Abel, wat Toorberg se volgende Boer geword het. De la Rey was te sensitief om beesslagtery te aanskou, was mank en het die plaas vir die stad verruil (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:12,14). Abel het met Ella getrou, maar die kinders wat hulle verwek het, was vier doodgebore babas, &#x2019;n mal dogter (K&#x00EA;nsTillie) en &#x2019;n onvrugbare seun, DwarsAbel. Gesien dat viriliteit aan manlikheid gekoppel word, kan agteruitgang hier in die Moolman-stamboom bespeur word: elke generasie lewer minder kinders op, en die laaste lewende manlike nasaat sal geen kinders produseer nie.</p>
<p>As Boere kon die Abels nie by StamAbel kers vashou nie: OuAbel moes akwadukte bou om die waterkrisis te oorkom, Abel word beskryf as &#x2019;n &#x2018;stoepboer&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:35) en die lewende DwarsAbel stel meer belang in sy motorfietse as die boerdery. As krygers is daar slegs die komieklike Soois met sy opreg bedoelde rebellie teen die Engelse, wat gestel word teenoor DwarsAbel &#x2018;wat vertel dat hy sy eerste swartman in die lokasie geskiet het, in die Land Rover verdwyn en laat in die nag hulpeloos besope in die roostuin kom injaag&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:162). Waar Soois dapper (en onbeholpe) sonder veel gevaar vir volk en vaderland geveg het, is DwarsAbel verplig om diensplig te doen en die lokasies te gaan &#x2018;skoonmaak&#x2019; waar daar &#x2018;[petrolbomme] na &#x2019;n man [gegooi word]&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:59). Soois se broer Andreas wyk nog verder af van die Afrikanerkryger-ideaal wanneer hy sy volk &#x2018;verraai&#x2019; deur die koningin van Engeland in &#x2019;n ballade te besing as die &#x2018;heerseres van heersers&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:65&#x2013;66).</p>
<p>As Christene is daar ook &#x2019;n merkbare vervlakking in StamAbel se nageslagte. Die Christelike geloof word beskou as die meesterwaarde van Afrikaneridentiteit (Van der Merwe <xref ref-type="bibr" rid="CIT0022">2008</xref>:368), en StamAbel is &#x2019;n toonbeeld hiervan. Maar Andreas was openlik parmantig oor kerkbywoning (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:64), Soois is die enigste Moolman wat direk uitwys dat hulle op die plaas spook, &#x2018;asof hulle nie gese&#x00EB;nde Christendooies is nie, maar heidene wat deur &#x2019;n Slams begrawe is&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:124), Abel pleeg openlik egbreuk en s&#x00EA; dat die kerkraad maar daaroor kan &#x2018;piele vleg&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:161). Hierdie gedrag toon nie net &#x2019;n afname in die geloof op sigself nie, maar ook &#x2019;n afname in respek vir die gesag van die kerk.</p>
<p>Dit is te verwagte dat &#x2019;n rassistiese ingesteldheid aangetref sal word in Afrikaner-karakters in &#x2019;n pre-1994 roman.<xref ref-type="fn" rid="FN0005"><sup>5</sup></xref> StamAbel het sy seun Floors verban oor sy seksuele verhouding met &#x2019;n bruin vrou. Van der Merwe (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0022">2008</xref>:367) wys daarop dat rasse-afkoms een van die bepalende kenmerke van die Afrikaner is, en daarom word verbastering en assimilasie (beide kultureel en biologies) verwerp. Hierom word Floors, sy seun en sy afstammelinge in die geheel verwerp deur die wit Moolmans. Hierdie rassistiese ingesteldheid word in latere geslagte gesien in onder meer OuAbel se onge&#x00EB;rgdheid wanneer werkers tydens die bou van die akwadukte verdwyn en Abel se wegwys van die Skaamfamilie by Noag se begrafnis.</p>
<p>Dit is insiggewend dat sewe<xref ref-type="fn" rid="FN0006"><sup>6</sup></xref> van die elf Moolmans verwerp word as StiefMoolmans, ondanks die Afrikaner se klem op familiebande. Hierin is &#x2019;n suggestie dat die groep nie staande kan bly nie, en by implikasie dat di&#x00E9; weergawe van Afrikaneridentiteit mettertyd sal uitsterf. Uitsluiting of engheid word hierdeur ook as &#x2019;n kenmerk van Afrikaneridentiteit geteken &#x2013; en ook as di&#x00E9; kenmerk wat die groep tot selfvernietiging lei. Wanneer Noag sterf, word die vooruitsig gestel dat die Moolmans inderdaad tot &#x2019;n einde sal kom &#x2013; maar ook dat die Skaamfamilie, die verwerpte afstammelinge van Floors Moolman, sal voortbestaan.</p>
<p>Al die afstammelinge &#x2013; selfs die bannelinge en diegene wat uit vrye wil stad toe gewyk het &#x2013; het &#x2019;n liefde vir en verbintenis aan hulle geboortegrond wat hulle in die dood daarheen terugbring. Elke individu in die Moolman-stamboom besit van die eienskappe wat van StamAbel so &#x2019;n onverbeterlike Afrikaner gemaak het, maar met elke generasie verswak die eienskappe en word die groepsidentiteit versterk deur die verwerping van di&#x00E9; wat daarvan afwyk. As gevolg hiervan word elke opvolgende generasie uitgebeeld as swakker as hulle voorsate. Hierdie degenerasie van generasies word op die voorgrond gestel wanneer Van Heerden die lewendes naas die dooies plaas en die leser tot direkte vergelyking noop &#x2013; en vandaar die spookkarakters se funksie in die vorming van Afrikaneridentiteit in <italic>Toorberg</italic>. Hulle teenwoordigheid in die roman bring hierdie kontraste na vore.</p>
<p>Die Afrikaneridentiteit wat Van Heerden in <italic>Toorberg</italic> deur die Moolmans vergestalt, is gepas in die historiese konteks waarin die roman afspeel, en in lyn met die <italic>Zeitgeist</italic> waarin dit gepubliseer is. Maar die Moolmans se Afrikaneridentiteit is ook &#x2019;n identiteit wat Van Heerden reeds in 1986 as&#x2019;t ware <italic>doodgeskryf</italic> het met sy spookkarakters en die komende einde van die Moolman-bloedlyn. Deur DwarsAbel se onvrugbaarheid en Noag se afsterwe word die suiwer bloedlyn van die Moolmans be&#x00EB;indig. Wat oorbly van die Moolmans is die spoke van die voorvaders wat hul geliefde geboortegrond nie meer besit nie, maar ook nie kan verlaat nie. Dit is ook di&#x00E9; spoke wat voortdurend die eienskappe van hul groepsidentiteit vergestalt deur hulle selfs na die dood te laat voortleef en op die lewendes te projekteer (onder meer in die wyse waarop die spookkarakters kommentaar lewer en oordeel vel oor die dade van die lewende Moolmans). Dit is juis deur die spookkarakters in die roman langs die lewende karakters te plaas dat Van Heerden &#x2019;n groter prentjie skep van Afrikaneridentiteit en dit wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is binne hierdie identiteitsgroep. Die aanvaarde &#x00E9;n verwerpte Moolmans spook saam, maar elk op sy eie, op Toorberg, as simboliese tekens van &#x2019;n Afrikaneridentiteit wat nie in die veranderende w&#x00EA;reld kan voortbestaan nie. Dit is die lewende Skaamfamilie van die Stiefveld, Floors se nageslag met die &#x2018;gemengde bloed&#x2019;, wat voortleef en die vooruitsig het om dalk, eendag, Toorberg as hul eie plaas te kan bewoon en bewerk.</p>
</sec>
<sec id="s0006">
<title>Die spook in <italic>Die stoetmeester</italic></title>
<p>Hierdie roman speel ongeveer sewe jaar n&#x00E1; <italic>Toorberg</italic> af, en waar <italic>Toorberg</italic> deur middel van spookkarakters byna die volle geskiedenis van die Afrikaner betrek het, bied <italic>Die stoetmeester</italic>, wat in die vroe&#x00EB; 1990&#x2019;s afspeel, &#x2019;n blik op &#x2019;n liminale Afrikaneridentiteit in &#x2019;n liminale periode van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die roman is gepubliseer in 1993, &#x2019;n jaar wat as &#x2019;n skeidslyn tussen die apartheidsbestel en ware demokrasie in Suid-Afrika beskou word. Daar word na hierdie tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis (die vroe&#x00EB; 1990&#x2019;s) verwys as die interregnum. Dit is die tydperk waarin die apartheidsbestel stadig, stuk vir stuk verkrummel het, maar nog nie verby was nie.</p>
<p>In teenstelling met die generasies van spoke wat in <italic>Toorberg</italic> dwaal, is daar slegs een intelligente spookkarakter in <italic>Die stoetmeester</italic>, naamlik Max Siener Wehmeyer.<xref ref-type="fn" rid="FN0007"><sup>7</sup></xref> Hy is &#x2019;n ontliggaamde entiteit wat bewus is van sy eie afsterwe en telkemale pogings aanwend om met die lewendes &#x2013; veral sy suster, Sarah &#x2013; te kommunikeer. Maar, soos die spoke van <italic>Toorberg</italic>, kommunikeer Siener as hoofverteller en fokalisator eerder met die leser as sy medekarakters. Hy is besig om as spook sy laaste dae as lewende man te herbeleef, en terselfdertyd die verhaal daar rondom te vertel. Vir hom is die vertelling &#x2019;n noodsaak, want hy weet dat daar &#x2019;n verlossing op hom wag na die vertelling (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:223). Hy is selfs bewus daarvan dat hy &#x2019;n gehoor het (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:77).</p>
<p>Donahue (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0007">2012</xref>:115) beskryf spookkarakters as liminaal: &#x2018;<italic>[they] occupy liminal spaces within the spectrum of life and death. Neither alive nor dead, these characters blur the edges of our</italic> <italic>understanding of death</italic>.&#x2019; As spookkarakter, verteller en fokalisator van die roman is Siener reeds in &#x2019;n liminale toestand. Hy is vasgevang tussen die belewing van die gebeure as lewende karakter en sy vertelling (en herlewing) van hierdie gebeure as oorlede karakter. Hy is beide <italic>in</italic> en <italic>buite</italic> die verhaal wat hy vertel. Hattingh (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0014">1995</xref>:84) wys op verskillende teenpole waartussen spookSiener vasgekeer staan: hy kan gebeure herbeleef en met groter insig begryp, maar kan nie hierdie nuwe kennis aanwend om die gebeure te verander nie; hy het toegang tot sy karakters se gedagtes, maar kan nooit hierdie karakters wees nie. Sy wys ook daarop dat Siener, binne die vertelling van sy verhaal, vasgevang is tussen twee verskillende tye. Hy ken die toekoms, hy het dit reeds beleef, maar word as spook teruggeneem na die verlede, van waar hy (met sy kennis van die toekoms) hierdie gebeure moet herleef en vertel, maar magteloos is om hulle te verander.</p>
<p>Daar is verskeie aspekte aan Siener wat hom reeds as lewende karakter in &#x2019;n liminale posisie geplaas het. Siener blyk vasgevang te wees tussen Westerse (kapitalisme en individualisme) en die Afrika-manier van dink (ubuntu, gemeenskap) ten opsigte van rykdom, materi&#x00EB;le besittings en persoonlike ruimte. Sy gehegtheid aan sy aarde besittings is nie suiwer materialisties nie. Dit is ook ooglopend sentimenteel (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:15,132). Siener is &#x2019;n afstammeling van die Afrikaner, en word deur sy suster se huwelik verbind aan die afstammelinge van die Britse setlaars. Maar hy skaar hom nie by Afrikaners of die Setlaars (as groepe) nie, en in di&#x00E9; opsig is hy &#x2019;n buitestander in sy familie en sy gemeenskap. In die beoefening van sy beroep verteenwoordig hy hoofsaaklik die armes van Joza, en spesifiek die Thandani&#x2019;s, wat hom aan die Xhosa-gemeenskap verbind. Sy sterk sin vir geregtigheid, tesame met sy altru&#x00EF;sme, noop hom om telkens sy kli&#x00EB;nte se kant te kies wanneer daar, byvoorbeeld, tydens &#x2019;n ete op Fata Morgana &#x2019;n debat oor die olie en die Thandani&#x2019;s se hofsaak gevoer word.</p>
<p>Hierdie sameloop van omstandighede plaas Siener in &#x2019;n moeilike posisie, aangesien daar duidelik spanning tussen die onderskeie groepe &#x2013; die Afrikaners, die Setlaars en die Xhosa-gemeenskap &#x2013; uitgebeeld word. Dit plaas hom ook in &#x2019;n oorbruggingsposisie: omdat hy tussen al hierdie groepe geplaas word, kan hy tussen hulle beweeg en hulle met mekaar in verbinding bring. Wanneer die gebeure in Port Cecil die gemeenskap tot op die rand van katastrofe bring, is beide MaNdlovu en Seamus van mening dat Siener die gemeenskappe bymekaar moet bring. Albei wil Siener kontak om &#x2019;n vergadering tussen die stadsraad en die <italic>civic</italic> te re&#x00EB;l. Dit is dus deur middel van beide sy familiebande en werkslewe dat Siener tussen die Afrikaners, die Setlaars en die Xhosas geplaas word. Wanneer hy as spookverteller en fokalisator terugkeer na sy eie verhaal, het hy toegang tot ander karakters se gedagtes en private oomblikke en kan hy vanwe&#x00EB; sy persoonlike verbintenis aan al hierdie groepe simpatie en empatie met almal toon, en daarom ook vanuit hulle perspektiewe die verhaal fokaliseer sonder om hulle te homogeniseer of stereotipeer.</p>
<p>&#x2019;n Mens sou veronderstel dat Siener &#x2019;n vergestalting van Afrikaneridentiteit behoort te wees, gegewe dat hy uit &#x2019;n Afrikanerfamilie kom, maar sy ouers was liberale Afrikaners wat &#x2018;na die glimlaggende Verwoerd se foto&#x2019;s gekyk en ges&#x00EA; [het]: die waansin het &#x2019;n sjarmante glimlag&#x2019; (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:291). Hier word reeds afgewyk van die prototipiese Afrikaneridentiteit wat in <italic>Toorberg</italic> deur die Moolman-familie vergestalt word. Vervolgens word kortliks aangedui hoe Siener, in vergelyking met die Afrikaners van <italic>Toorberg</italic>, van hierdie eienskappe afwyk en/of daaraan voldoen.</p>
<p>Die fisieke krag wat aan manlikheid en die Boer verbind word, is afwesig in die halfpatetiese figuur van Siener. Dat Siener as &#x2019;n homo- of biseksuele man geteken word, doen ook, vanuit die perspektief van prototipiese Afrikaneridentiteit, afbreuk aan sy manlikheid (soos dit ook met Andreas gebeur het). Verder kan Siener vanwe&#x00EB; sy intellek en professie ook met Regter Lucius, die Moolman wat nie sy hand aan fisieke dinge wou slaan nie, vergelyk word. Alhoewel Lucius nie deur die Moolmans verwerp is nie, was hulle taamlik kil teenoor hom en sy geleerdheid. Dit impliseer nie dat Siener &#x2019;n swakkeling is wat nie &#x2018;sy man kan staan&#x2019; nie. Soos gesien kan word wanneer hy as prokureur vir die Thandani&#x2019;s in Bisho optree en Ayanda s&#x00EA; dat hy blykbaar &#x2018;soos &#x2019;n boerboel&#x2019; in die hof baklei (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:137&#x2013;140), wanneer hy met Sarah baklei oor haar houding teenoor die Thandani&#x2019;s (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:94&#x2013;95), en wanneer hy Seamus vasvat oor die raad se spioenasie op sy praktyk (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:242&#x2013;244), staan Siener nie terug vir konfrontasie nie. Hy veg met woorde, regsdokumente en sy verstand eerder as met geweld. Hy veg nie vir volk en vaderland nie, maar met en vir individue en, by implikasie, <italic>teen</italic> volk en vaderland wanneer hy die Thandani&#x2019;s in hulle grondeis verteenwoordig. Hy veg nie in &#x2019;n oorlog of rebellie nie; maar in die hof en om die etenstafel &#x2013; en hiervolgens sal geen Afrikaner hom &#x2019;n rebel of kryger noem nie.</p>
<p>Verder is Siener nie soos die Abels van <italic>Toorberg</italic> &#x2019;n dominante figuur wat heers oor die mense rondom hom nie. Hy is &#x2019;n dienaar van die gemeenskap. Daar is ook nie &#x2019;n dominante, patriargale figuur wat oor hom heers nie &#x2013; die tradisionele gesinstruktuur van die Afrikaner, waar die vader die onbetwisbare hoof van die huishouding is, word nie in hierdie roman aangetref nie. Die klem op familiebande is anders in <italic>Die stoetmeester</italic> as in <italic>Toorberg.</italic> Die groot Afrikanergesin (op die plaas) met &#x2019;n dominante vader as prim&#x00EA;re sosiale eenheid waarom gemeenskapslewe gestruktureer word (Du Pisani <xref ref-type="bibr" rid="CIT0008">2004</xref>:82), is weg. Hier is slegs die eensame Siener; Sarah en haar onstabiele gesin; en die Thandani&#x2019;s, waar MaNdlovu as matriarg aan die hoof staan.</p>
<p>Siener kan ook nie as &#x2019;n Boer beskou word nie, om die ooglopende rede dat hy in die eerste plek nie op &#x2019;n plaas woon en boer nie. Die benaming Boer strek, in hierdie konteks, natuurlik verder as &#x2019;n verwysing na elkeen wat op &#x2019;n plaas boer. Die verbintenis wat die Boer met grond en water toon, is, in &#x2019;n mate, in Siener te vinde. Hy l&#x00EA; nie kleim op &#x2019;n groot stuk aarde (soos &#x2019;n plaas) nie, maar die grond wat hy wel besit, sy huis, is ook oorge&#x00EB;rf van sy voorgangers, en hy is besonder geheg aan die huis wat op hierdie grond staan. Di&#x00E9; verbintenis is, anders as di&#x00E9; van die Boer en sy grond, nie spesifiek &#x2019;n kwessie van eienaarskap en besitting van die grond nie, maar &#x2019;n sentimentele gehegtheid aan &#x2019;n veilige, geborge, persoonlike en private ruimte. Op dieselfde wyse is Siener se verbintenis met water &#x2013; hier, die rivier wat agter die huis verbyvloei &#x2013; ook nie &#x2019;n kwessie van eienaarskap nie. Siener se verbintenis met die rivier is metafisies en hou verband met wat Du Plessis (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0009">1994</xref>:202) sy &#x2018;profeetskap&#x2019; noem.</p>
<p>Siener toon ook nie die rasgedrewe eksklusiwiteit van die Moolmans nie, maar &#x2019;n inklusiewe houding jeens al die mense in sy gemeenskap. Hy verteenwoordig die swart inwoners van Joza sonder skroom, en het simpatie met hulle haglike omstandighede (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:15&#x2013;17). Hierdie houding kom nie net na vore in sy beroepsbeoefening nie, maar ook in sy interpersoonlike verhoudings. Hy toon romantiese, seksuele gevoelens teenoor Ayanda &#x2013; al tree hy nooit in hierdie verband daadwerklik op nie &#x2013; en hieruit kan veronderstel word dat rassuiwerheid, wat vir die Moolmans so belangrik was, nie vir Siener enigsins van belang is nie.</p>
<p>&#x2019;n Laaste kenmerk van Afrikaneridentiteit waarvan Siener afwyk, is die Christelike geloof. Hy verwys in oomblikke van skok en ontnugtering na God (vgl. Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>:18, 173, 286), maar dit is opmerklik dat hy in, wat waarskynlik sy grootste oomblikke van vrees (sy ontvoering) was, geen verwysing na God maak nie. N&#x00E1; sy dood verwys spookSiener ook nie eksplisiet na God nie. Dit suggereer dat hy wel &#x2019;n Christelike w&#x00EA;reldperspektief het, maar van &#x2019;n georganiseerde, gerigte geloofslewe is hier nie sprake nie. Soos by latere geslagte van die Moolmans (veral Abel en DwarsAbel) het die geloof in God &#x2019;n byna onbewuste handeling en instelling, eerder as &#x2019;n deurdagte, spirituele aspek van sy alledaagse lewe geword. Op sigself is sy bestaan as spookkarakter &#x2013; net soos die Moolmans in <italic>Toorberg</italic> &#x2013; &#x2019;n ondermyning van die Christelike geloof (in die meeste Protestante denominasies), waarin veronderstel word dat die siel van &#x2019;n gestorwene na die dood hemel of hel toe gaan. Buiten Soois in <italic>Toorberg</italic> se opmerking dat hulle soos &#x2018;heidene&#x2019; dwaal en nie soos &#x2018;gese&#x00EB;nde Christendooies&#x2019; nie, toon geen ander spookkarakter in Van Heerden se romans enige besorgdheid oor die feit dat hulle toe nou nie in die hemel (of die hel) beland het nie.</p>
<p>Siener se afwyking van bostaande eienskappe van Afrikaneridentiteit maak hom &#x2019;n buitestander. Hy is &#x2019;n Afrikaner wat nie voldoen aan die prototipiese Afrikaneridentiteit nie. Hy pas nie in by sy familie nie, hy verskil met hulle oor ideologie en politiek, en beland telkens aan die &#x2018;verkeerde&#x2019; kant van die argument wanneer hy namens sy kli&#x00EB;nte opstaan en hulle verdedig. Hy het ook nie, soos dit verwag sou word van &#x2019;n Afrikanerman, met &#x2019;n vrou getrou en &#x2019;n nuwe gesin (by implikasie, &#x2019;n volgende generasie, die voortsetting van die bloedlyn) begin nie.</p>
<p>Alhoewel Siener as individu nie tot enige groep in die roman behoort nie, word hy deur sy genealogie die sterkste aan die Afrikaner verbind, en kan hy hiervolgens wel as &#x2019;n Afrikaner gelees word. Soos aangetoon is, voldoen hy egter nie aan die standaarde van Afrikaneridentiteit wat in Van Heerden se oeuvre deur die Moolmans van Toorberg gestel is nie. Hier word dus duidelik nie van dieselfde Afrikaner as in <italic>Toorberg</italic> gepraat nie. Waar Van Heerden in <italic>Toorberg</italic> die tradisionele Afrikaner as &#x2019;n familie (en daardeur ook as verteenwoordigend van die volk) uitgebeeld &#x00E9;n ondermyn het, ontneem hy die Afrikaner van &#x2019;n groepsidentiteit in <italic>Die stoetmeester</italic>. Siener is &#x2019;n vereensaamde individu, &#x2019;n individuele Afrikaner, nie een behorende tot &#x2019;n groep (soos die Moolmans, &#x2019;n volk) nie. Hy leef in &#x2019;n ander tyd en &#x2019;n ander sosiale en politieke milieu as <italic>Toorberg</italic> se Afrikaners. In hierdie opsig weerspreek Siener as karakter die psigoanalitiese modelle van identiteit- en groepsvorming wat in die voorafgaande afdeling op die Moolmans toegepas is. Vir Siener is daar geen groep en geen meesterbetekenaar nie, wat suggereer dat die meesterwaardes waarvolgens die tradisionele Afrikaneridentiteit gerig was, verbrokkel het.</p>
<p>Siener se identiteit is daarom tog &#x2019;n verteenwoordiging van &#x2019;n Afrikaneridentiteit &#x2013; maar &#x2019;n drastiese afwyking van die groepsidentiteit, as&#x2019;t ware &#x2019;n herskrywing van die groepsidentiteit in en deur die individu. Waar die uitgeworpe Moolmans in Toorberg die groepsidentiteit versterk het deur simbolies die onaanvaarbare aspekte daarvan uit die groepsidentiteit te laat verwyder, doen Van Heerden die teenoorgestelde met Siener. Die individu wat nie in die groep behoort nie, word verteenwoordigend van &#x2019;n nuwe weergawe van die groepsidentiteit: die eksklusiewe Afrikaner word agterwe&#x00EB; gelaat. Die groepsidentiteit ontwikkel nou, in Siener, <italic>buite</italic> die groep. Siener kan beskryf word as die Afrikaner wat die foute van sy (volk se) we&#x00EB; in beskou geneem het, en die ou ideologie&#x00EB; heroorweeg en grootliks verwerp het. In hierdie opsig kan hy dan beskou word as die volgende fase van die Afrikaneridentiteit wat in <italic>Toorberg</italic> aangetref word; &#x2019;n fase wat die Moolmans nooit bereik het nie omdat hulle gestagneer eerder as ontwikkel of gegroei het. Dit beteken nie dat Siener se identiteit nou as die &#x2018;nuwe&#x2019; groepsidentiteit van die Afrikaner in Van Heerden se oeuvre aanvaar kan word nie. Dit is &#x2019;n interregnum-identiteit, &#x2019;n steeds ontwikkelende identiteit wat verder ontwikkel en herskryf word in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>.</p>
</sec>
<sec id="s0007">
<title>Die spoke van <italic>Die swye van Mario Salviati</italic></title>
<p>Waar <italic>Die stoetmeester</italic> in terme van Afrikaneridentiteit &#x2019;n voortsetting is van <italic>Toorberg</italic>, is <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> &#x2019;n teruggaan en herskryf, waarin &#x2019;n Suid-Afrikaanse identiteit eerder as &#x2019;n eksklusiewe Afrikaneridentiteit deur middel van spookkarakters ondersoek en vergestalt word. Die veelheid van verhaallyne en lewende en oorlede karakters in die roman is oorweldigend (en te veel om hier te noem en bespreek). Dit is in hierdie roman wat die onderskeid tussen remanente en intelligente spoke werklik lig werp op Van Heerden se hantering van identiteite deur middel van spookkarakters. Met die eerste lees wil dit voorkom asof Tallejare wemel van intelligente spookkarakters,<xref ref-type="fn" rid="FN0008"><sup>8</sup></xref> maar fynere bestudering toon dat daar inderwaarheid slegs vier is: die Britse offisier en avonturier Kaptein William Gird, sy agterryer SlingerVel Xam!, die oorlogslagoffer Ouma Siela Pedi (&#x2019;n swart vrou), en die misterieuse (wit) vrou sonder gesig. Hulle is die enigste karakters wat as oorledenes vertel en fokaliseer. Ander, soos Edit Bergh en Rooibaard Pistorius, vertel en fokaliseer uit die verlede uit, en is nie saam met Ingi Friedl&#x00E4;nder teenwoordig in die hede van die verhaal nie.</p>
<p>Die remanente verskynsels in die roman is eggo&#x2019;s van die verlede &#x2013; dit is enkele momente of gebeure wat aanhoudend herhaal word, maar daar is geen bewuste entiteit daarby betrokke nie. Hierdie verskynsels het wel &#x2019;n impak op lewende karakters soos Ingi Friedl&#x00E4;nder omdat hulle dit kan sien/hoor/ruik. Di&#x00E9; spoke is in daardie sin meer teenwoordig in die roman as die intelligente spookkarakters, wat meestal ongesiens en ongehoord by die lewendes verbygaan. Die sang van Edit Bergh word gehoor in die kothuis, en haar doodskreet weergalm nog by Lampaksdam; in die Drostdy hoor Ingi allerlei geluide en ruik sy reuke uit die verlede; die skaduwees in Meerlust Bergh se Veerpaleis voer steeds hulle dagtake uit; Rooibaard se ses vermoorde soldate sit op die trappe van die Veerpaleis; die swart ossewa jaag nog snags oor die vlaktes en Rooibaard verskyn as &#x2019;n eggo van homself in Siela Pedi se herlewing van hul konfrontasie.</p>
<p>Daar kan wel suggesties van identiteite aan hierdie verskynsels gekoppel word. Die skaduwees van Meerlust en Irene in die Veerpaleis herinner aan die goue dae van die volstruisveerbedryf en die rykdom wat dit meegebring het &#x2013; maar hulle is ook &#x2019;n vergestalting van die rasgebaseerde marginalisering wat selfs hierdie egpaar ervaar het ondanks hul roem en rykdom. Edit en die skaduwees in die Veerpaleis wys na individuele geskiedenisse wat verlore gaan in die groot gebeure; hulle is tekenend van die gewone mens wat leef en liefhet. Soortgelyk roep die reuke van seep kook en die geluide van wapperende wasgoed in die Drostdy die gewone, verbygaande alledaagse lewe op. Maar daar is ook die gekreun van gewonde soldate in die Drostdy, vermoorde soldate op die trappe van die Veerpaleis en die skim van Rooibaard Pistorius wat al om die rand van die verhale van Siela Pedi en die vrou sonder gesig hang; en die swart ossewa &#x2013; een van die vernaamste Afrikaner-simbole, aldus Alberts (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0002">2005</xref>:171). Hierin is herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog, aan welbekende Afrikanergeskiedenis wat nie deur &#x2019;n intelligente spookkarakter aan die leser verhaal hoef te word nie. Van Heerden is in hierdie roman eerder gemoeid met &#x2019;n uitbreiding van Suid-Afrikaanse geskiedenis en identiteite &#x2013; vandaar die veelheid van verhale en karakters in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>.</p>
<p>Vanuit die beskouing van Tallejare as &#x2019;n mikrokosmos van Suid-Afrika, kan die vier intelligente spookkarakters gelees word as vergestaltings van verswe&#x00EB; passasies uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Eerstens, William: die koelbloedige soldaat en ontdekkingsreisiger, wat &#x2018;eintlik &#x2019;n man vir verf en olie, vir lyntekeninge&#x2019; is (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0027">2000</xref>:233). William het nie gekom om te kolonialiseer nie, maar om te ontdek. &#x2019;n Dualistiese beskouing van die wrede, onnadenkende kolonialiseerder word hier geskep, met die verswe&#x00EB; implikasie dat die imperialiste nie hulle eie wreedheid besef nie. Tweedens, SlingerVel: die onderdanige agterryer, wat in die tradisie van inheemse karakters in die postkoloniale genre identiteit en stem gegee word, en daardeur gebruik word om &#x2019;n alternatiewe blik op die kolonialiseerder en die gekolonialiseerde te skep. Hierdie twee manne dwaal saam in die dood deur Tallejare, terwyl hulle terselfdertyd kolonialisme vergestalt (SlingerVel is steeds &#x2019;n agterryer wat selfs in die dood agter sy heer en meester moet aanloop) en dit in postkoloniale styl ondermyn (SlingerVel word stem gegee, en hy manipuleer William op verskeie wyses). Derdens, Siela: die swart vroulike slagoffer uit die Anglo-Boereoorlog, &#x2019;n groep slagoffers wat grootliks verswyg word in die diskoers rondom genoemde oorlog. Siela is nie die enigste karakter in die roman wat gebruik sou kon word om die onregverdige behandeling en viktimisering van swart mense uit te beeld nie. Maar wanneer daar geskryf word oor die Anglo-Boereoorlog, word die meeste aandag gewoonlik gegee aan die stryd van die dapper Boerekrygers en die lot van die (wit) vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het. Hierin l&#x00EA; die krag van Siela as spookkarakter: sy is die perfekte kandidaat om daardie verouderde, manlike Afrikaneridentiteit aan die kaak te stel vanuit die perspektief van &#x2019;n vrou wat deur daardie tipe manlikheid geviktimiseer is. Vierdens, die vrou sonder gesig: alhoewel sy aan die oorlog se meer bekende, wit konsentrasiekampslagoffers verbind word, sal sy altyd naamloos en gesigloos bly. Haar eintlike trauma is nie soseer die konsentrasiekamp nie, maar die soeke na haar seun se hand, haar versugting om, vanuit die dood, aan haar reeds oorlede seun rus te bring deur die teraardebestelling van sy hand. Haar versugting is onhaalbaar omdat die hand ter sprake (spesifiek die pinkie) deur Rooibaard ge&#x00EB;et is in &#x2019;n poging om homself te verlos van sy lus/liefde vir Siela. &#x2019;n Gruwel soos kannibalisme is nie &#x2019;n algemene tema in die diskoers rondom die lot van konsentrasiekampslagoffers nie, en op hierdie manier bring die vrou sonder gesig &#x2019;n nuwe besprekingspunt tot die diskoers.</p>
<p>Geskiedenis speel &#x2019;n groot rol in magies realistiese tekste soos <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>, veral in die sin dat sulke romans &#x2019;n verbeelde of fiksionele korreksie, herinterpretasie van of byvoeging tot die geskiedenis in die geskiedenisboeke is; hulle &#x2018;verken die verlede deur op hierdie gemarginaliseerde gemeenskappe te fokus&#x2019; en maak plek vir &#x2018;persoonlike en kollektiewe narratiewe om die verlede te interpreteer, herevalueer en te korrigeer&#x2019; (Alberts <xref ref-type="bibr" rid="CIT0002">2005</xref>:46). Dit is dan juis wat Van Heerden doen deur die remanente en intelligente spookkarakters &#x2013; die remanente spoke herinner aan wat reeds in die geskiedenisboeke is, terwyl die intelligente spoke die stemme van die gemarginaliseerdes en &#x2019;n herinterpretasie van geskiedenis en ook Suid-Afrikaanse identiteit is. Die intelligente spookkarakters kan ge&#x00EF;nterpreteer word as vergestaltings van vier onderskeie groepsidentiteite, naamlik die Britse kolonialiste, die San-agterryers, en beide die swart en wit vroulike slagoffers van die Anglo-Boereoorlog (en die patriargie). Hierdie identiteite kom in di&#x00E9; roman bymekaar om die groter Suid-Afrikaanse groepsidentiteit te begin vorm deur terug te gaan na die verlede en die vergete stemme te gaan uithaal en wys.</p>
</sec>
<sec id="s0008">
<title>Vergelyking en gevolgtrekkings</title>
<p>Spookkarakters is by uitstek draers van die verlede. Hulle kan die verlede verteenwoordig, in die hede inbring en ook hervertel en herinterpreteer vir die leser. Hierin l&#x00EA; hul funksie in Etienne van Heerden se romans. Hulle verteenwoordig die verlede deur telkens identiteite te vergestalt wat in lyn is met die <italic>Zeitgeist</italic> waarin die roman gepubliseer is. Die vertelde hede van die drie romans speel duidelik in verskillende historiese tydperke af. Die vertelde tye in die prim&#x00EA;re verhaallyne stem min of meer ooreen met die publikasiedatums &#x2013; die magistraat se ondersoek na Noag se dood in <italic>Toorberg</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>) vind plaas in die vroe&#x00EB; of middel 1980&#x2019;s; Siener se verhaal in <italic>Die stoetmeester</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0026">1993</xref>) speel af in die vroe&#x00EB; 1990&#x2019;s, &#x2019;n jaar of twee voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing; Ingi se besoek aan Tallejare in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0027">2000</xref>) vind plaas in die laat 1990&#x2019;s of vroeg in 2000. Die historiese konteks van publikasie speel ongetwyfeld &#x2019;n beduidende rol in die prim&#x00EA;re verhaallyne (die vertelde hedes van die romans). Nie een van die romans hier ter sprake is historiese romans in di&#x00E9; sin dat hulle vertelde hedes etlike jare, dekades of selfs eeue voor die jaar van publikasie afspeel nie. Die verlede is <italic>verby</italic>, die prim&#x00EA;re verhaallyne van hierdie romans is die tydperke waarin hulle geskryf en gepubliseer is. Die lewende karakters, en die hede waarin die spoke van die verlede verskyn, is nou verbonde aan die <italic>Zeitgeist</italic> van die publikasie. Die romans kan dus, in &#x2019;n mate, beskou word as enscenerings van die historiese konteks van publikasie, &#x2019;n blik op die betrokke tydperk waarin die fiksie en die realiteit in &#x2019;n groot mate met mekaar ooreenstem. Hiervolgens kan die kwessie van identiteit, soos wat Van Heerden dit in hierdie romans na vore bring, ook beskou word as &#x2019;n ondersoek na die eksistensi&#x00EB;le vrae van di&#x00E9; tye. Dit begin by die identiteit van die individuele spookkarakter, en word gevestig in die groepsidentiteit waaraan die individue verbind word.</p>
<p>Individuele identiteite in die drie romans toon, as geheel beskou, variasie in terme van velkleur, seksuele ori&#x00EB;ntasie (ge&#x00EF;mpliseerd, nie eksplisiet nie), taal (Afrikaans, Engels en Xhosa), w&#x00EA;reldbeskouings, ensovoorts, maar min in terme van geslag. Die individuele spookkarakters is meestal mans &#x2013; in totaal kan 16 intelligente spookkarakters<xref ref-type="fn" rid="FN0009"><sup>9</sup></xref> in hierdie romans ge&#x00EF;dentifiseer word, waarvan slegs vier vroue is. Dit kan aangevoer word dat manlike karakters &#x2013; as spoke of lewende karakters &#x2013; meer dominant sal wees, gegewe die hoofsaaklik patriargale struktuur van veral die Afrikaner-gemeenskap in Suid-Afrika. In romans waarin dit juis om die identiteit gaan wat uit en deur die Afrikaners ontwikkel het, speel matriarge soos MaNdlovu in <italic>Die stoetmeester</italic> tweede viool teen patriarge soos die Abels van Toorberg. Die patriarge oorheers, maar die matriarge moet veg om erkenning. Hierom het die manlike spookkarakters, selfs vanuit die dood, &#x2019;n sterker stem as die vroue. Tog, in terme van intelligente spookkarakters, verander die situasie stelselmatig: waar die twee vroulike, intelligente spookkarakters in <italic>Toorberg</italic> skaars gehoor kan word tussen al die Moolman-mans, praat vroue soos Siela Pedi harder en duideliker in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>: hulle praat selfs teen die patriargie in en ontluister en ondermyn die tradisioneel aanvaarde beeld van dapper Boerekrygers. Hierin l&#x00EA; &#x2019;n suggestie dat daar in die gemeenskappe wat in hierdie drie romans uitgebeeld word, ook stelselmatig wegbeweeg word van &#x2019;n oorheersend patriargale samelewing na &#x2019;n meer geslagsgelyke samelewing. Hierdie stelselmatige ontwikkeling hou uiteraard ook verband met genderkwessies van die verlede &#x2013; soos die gesprek rondom geslagsrolle in die samelewing verander het, verander die manier waarop skrywers vroue as karakters uitbeeld en gebruik.</p>
<p>Wat velkleur of ras/volk betref, is daar min variasie in die spookkarakters, maar &#x2019;n groeiende variasie in spookkarakters kan gesien word wanneer die romans diachronies beskou word. In totaal is slegs drie uit die 16 spookkarakters uit al drie die romans swart of bruin. In <italic>Toorberg</italic> is al die spookkarakters, op een na, wit Afrikaners. Dit is slegs Andries, Floors se buite-egtelike seun, wat as bruin beskou kan word vanwe&#x00EB; sy &#x2018;gemengde&#x2019; bloed. In <italic>Die stoetmeester</italic> is die enigste spookkarakter &#x2019;n verwarde Afrikaner wat met tye vanuit die perspektief van swart vroue (Ayanda en MaNdlovu) kan fokaliseer. Hierin kan reeds &#x2019;n wegbeweeg van die uitsluitlike wit Afrikaneridentiteit gelees word. In <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> is daar nog meer variasie onder die intelligente spookkarakters: &#x2019;n Britse ontdekkingsreisiger, &#x2019;n San-agterryer, &#x2019;n wit en &#x2019;n swart vrou. Die remanente spokery in hierdie roman is moeiliker om te kategoriseer in terme van ras. Die reuke en geluide in die Drostdy en Edit se stem is oorblyfsels van wit mense, Rooibaard en die ses soldate kan, as visuele verskynsels, as wit beskryf word, en die skaduwees in die Veerpaleis as di&#x00E9; van die bruin Berghs &#x2013; maar reuke, geluide en skaduwees is tegnies gesproke sonder velkleur. Hierin kan &#x2019;n suggestie gelees word dat velkleur of ras as identiteitmerker gaandeweg omvattender beskou word, met sterker aansluiting by wat as &#x2019;n Suid-Afrikaanse identiteit of gemeenskap beskou kan word, en ooreenstem met die aanbieding van die stambome in <italic>Toorberg</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic>. Die besliste lyn wat in die Moolman-stamboom tussen die wit en bruin vertakkings van die familie getrek word, word nie gevind in die bloedboom van Tallejare, waar almal op die oog af bloedverwant is nie.</p>
<p>Die individue in <italic>Toorberg</italic> toon, in die bre&#x00EB; beskou, die gestereotipeerde beeld van die wit Afrikaner. Die individu in <italic>Die stoetmeester</italic>, Max (Siener) Wehmeyer, word uitgebeeld as &#x2019;n vereensaamde, byna patetiese figuur wat n&#x00EA;rens behoort nie. Siener is, in byna elke denkbare opsig, &#x2019;n liminale figuur. Hy is &#x2019;n Afrikaner &#x2013; maar nie dieselfde tradisionele Afrikaner as die Moolmans van Toorberg nie. Die individuele, intelligente spookkarakters in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> toon meer variasie as die spookkarakters in die ander twee romans, deels omdat die vier intelligente spookkarakters elk tot &#x2019;n ander ras of volk behoort.</p>
<p>In Van Heerden se romans het die idee van die Afrikaner as &#x2019;n eenheid, &#x2019;n volk, uitgesterf saam met <italic>Toorberg</italic> se Moolmans. Die groepsidentiteit het onherroeplik verbrokkel, en daar is in <italic>Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> geen enkele groep met &#x2019;n eie meesterbetekenaar waarom &#x2019;n nuwe of ander groepsidentiteit gevorm word nie. Die meesterbetekenaar het verdwyn, die groep het versplinter. Hiermee het Van Heerden op simboliese wyse &#x2019;n einde aan die eksklusiewe Afrikaneridentiteit gebring, en vervang hy dit met individuele verteenwoordigers van verskeie groepe in sy volgende twee romans. Waar groepsidentiteit in <italic>Toorberg</italic> deur &#x2019;n groep vergestalt is, is dit slegs individue wat as verteenwoordigend van verskillende groepe gelees kan word, wat in <italic>Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> aangetref word.</p>
<p>Hierdie veranderende Afrikaner- en Suid-Afrikaanse identiteit word pertinent deur die spookkarakters vergestalt. D&#x00ED;t is die oorkoepelende funksie van spookkarakters in die romans van Etienne van Heerden. Dit is die oorlede Moolmans in <italic>Toorberg</italic> wat die prototipe Afrikaneridentiteit, tesame met eienskappe wat uit hierdie groepsidentiteit verwerp word, uitbeeld. In <italic>Die stoetmeester</italic> is dit &#x2019;n enkele, eensame spookkarakter (Siener) wat tussen groepe dwaal, en as individu die vorige groepsidentiteit van die Afrikaner verwerp het, maar nog nie &#x2019;n nuwe weergawe van hierdie groepsidentiteit kan vergestalt nie omdat die toekoms daarvan, in die liminale geskiedkundige tydperk waarin die roman afspeel, in die weegskaal is. In <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> word die ouer weergawe van Afrikaneridentiteit slegs in remanente spookverskynings gevind, terwyl &#x2019;n nuwe, meer diverse Suid-Afrikaanse identiteit wat terugstrek tot die koloniale tye deur intelligente spookkarakters vergestalt word.</p>
<p>Die identiteite wat deur die dooies, die spookkarakters, vergestalt word, is staties binne die betrokke romans, maar wanneer die romans vergelyk word, kan dit duidelik gesien word dat die Afrikaner- en Suid-Afrikaanse identiteit dinamies is en nooit werklik gefinaliseer word nie. Identiteite word telkens transhistories heroorweeg, herondersoek en herskryf. Die persoonlike identiteit van individuele spookkarakters word polities, juis vanwe&#x00EB; die plasing van hierdie individuele identiteite (en, by implikasie, groepsidentiteite) in spesifieke kernfases in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Soos Gaylard (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0012">2008</xref>:6) dit verwoord, word die spoke van die geskiedenis verbind aan die self &#x00E9;n die ander, en is dit juis daarom dat Van Heerden vanaf <italic>Toorberg</italic> tot in <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> verskeie individue en groepe in die romans as spookkarakters kan uitbeeld, en deur hulle die evolusie van &#x2019;n eksklusiewe, eensydige Afrikaneridentiteit na &#x2019;n inklusiewe, diverse Suid-Afrikaanse identiteit kan aantoon.</p>
<p>Die edele Boerekryger word aan die kaak gestel deur &#x2019;n nie so vernuftige kryger en getraumatiseerde, vroulike slagoffers; die bose, uitbuitende kolonialiseerder word &#x2019;n mens wat sy passie vir kuns uitleef; die stemlose, gedwe&#x00EB; agterryer word &#x2019;n parmantige te&#x00EB;prater wat sy meester kan manipuleer, maar nie direk teen hom in opstand kom nie &#x2013; al hierdie historiese ongeregtighede, en meer, kom tot uiting in die spookkarakters wat vasgevang word in hul eie, individuele smarte en herhalende handelinge. En die lewende karakters kan dit ook nie ontsnap nie &#x2013; die verlede is nie afgehandel nie, die idee van die voorvaders spook by hulle, en die geheime is nie opgelos nie. Het Noag beswyk voordat Abel die genadeskoot in die boorgat afgevuur het? Wie het Siener vermoor, en waar is sy lyk? Waar is Goudseput, en wie gaan die goud kry as dit gevind word? Die spookkarakters beantwoord nie hierdie vrae nie, hulle impliseer eerder antwoorde op die verswe&#x00EB; vraag wat onderliggend in Van Heerden se romans spook: Wie was, is, en word die (Suid-) Afrikaner?</p>
</sec>
</body>
<back>
<ack>
<title>Erkenning</title>
<sec id="s20009">
<title>Mededingende belange</title>
<p>Die outeur verklaar dat sy geen finansi&#x00EB;le of persoonlike verhoudings het wat haar op &#x2019;n onvanpaste wyse in die skryf van hierdie artikel kon be&#x00EF;nvloed nie.</p>
</sec>
</ack>
<ref-list id="references">
<title>Literatuurverwysings</title>
<ref id="CIT0001"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Adler</surname>, <given-names>P.A</given-names></string-name>. &#x0026; <string-name><surname>Adler</surname> <given-names>P</given-names></string-name></person-group>., <year>2007</year>, &#x2018;<article-title>Identity, deviant</article-title>&#x2019;, in <person-group person-group-type="editor"><string-name><given-names>G.</given-names> <surname>Ritzer</surname></string-name> (ed.)</person-group>, <source><italic>The Blackwell encyclopedia of sociology</italic></source>, <publisher-name>Blackwell Publishing</publisher-name>, <publisher-loc>Malden</publisher-loc>, vol. <volume>5</volume>, pp. <fpage>2207</fpage>&#x2013;<lpage>2210</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0002"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Alberts</surname>, <given-names>M.E</given-names></string-name></person-group>., <year>2005</year>, &#x2018;<chapter-title>&#x2019;n Eiesoortige Afrikaanse magiese realisme na aanleiding van die werk van Andr&#x00E9; P. Brink en Etienne van Heerden</chapter-title>&#x2019;, <comment>M.A.-verhandeling</comment>, <publisher-name>Universiteit Johannesburg</publisher-name>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0003"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Anker</surname>, <given-names>J</given-names></string-name></person-group>., <year>2003</year>, &#x2018;<article-title>Aspekte van die magiese realisme in enkele Afrikaanse romans</article-title>&#x2019;, <source><italic>Stilet</italic></source> <volume>15</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>221</fpage>&#x2013;<lpage>41</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0004"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Cameron</surname>, <given-names>E</given-names></string-name></person-group>., <year>2008</year>, &#x2018;<article-title>Indigenous spectrality and the politics of postcolonial ghost stories</article-title>&#x2019;, <source><italic>Cultural</italic> Geographies</source>, <volume>15</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>383</fpage>&#x2013;<lpage>93</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.1177/1474474008091334">https://doi.org/10.1177/1474474008091334</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0005"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Coetzee</surname>, <given-names>A</given-names></string-name></person-group>., <year>2000</year>, <source>&#x2019;n <italic>Hele os vir</italic> &#x2019;n <italic>ou broodmes: Grond en die plaasnarratief sedert 1595</italic></source>, <publisher-name>Van Schaik</publisher-name>, <publisher-loc>Pretoria</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0006"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Coupland</surname>, <given-names>C</given-names></string-name></person-group>., <year>2007</year>, &#x2018;<article-title>Identity: The management of meaning</article-title>&#x2019;, in <person-group person-group-type="editor"><string-name><given-names>G.</given-names> <surname>Ritzer</surname></string-name> (ed.)</person-group>, <source><italic>The Blackwell encyclopedia of sociology</italic></source>, <publisher-name>Blackwell Publishing</publisher-name>, <publisher-loc>Malden</publisher-loc>, vol. <volume>5</volume>, pp. <fpage>2210</fpage>&#x2013;<lpage>2214</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0007"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Donahue</surname>, <given-names>B</given-names></string-name></person-group>., <year>2012</year>, &#x2018;<chapter-title>Liminal figures in Marina Carr&#x2019;s <italic>Woman and scarecrow</italic> and Emma Dante&#x2019;s <italic>Vita mia</italic></chapter-title>&#x2019;, in <person-group person-group-type="editor"><string-name><given-names>M.</given-names> <surname>Kurdi</surname></string-name> (ed.)</person-group>, <source><italic>Focus papers in English literary and cultural studies: Issue on interfaces between Irish and European theatre</italic></source>, pp. <fpage>115</fpage>&#x2013;<lpage>124</lpage>, <publisher-name>University of P&#x00E9;cs</publisher-name>, <publisher-loc>P&#x00E9;cs</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0008"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Du Pisani</surname>, <given-names>K</given-names></string-name></person-group>., <year>2004</year>, &#x201C;<article-title>Ek hou van &#x2019;n man wat sy man kan staan&#x2019;: Puriteinse manlikheidsbeelde in die Afrikaanse kultuur tot 1935</article-title>&#x2019;, <source><italic>SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis</italic></source>, <volume>18</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>80</fpage>&#x2013;<lpage>93</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0009"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Du Plessis</surname>, <given-names>H</given-names></string-name></person-group>., <year>1994</year>, &#x2018;<article-title>Wat vertel Etienne van Heerden se stoetmeester?</article-title>&#x2019;, <source><italic>Literator</italic></source>, <volume>15</volume>(<issue>2</issue>), <fpage>197</fpage>&#x2013;<lpage>202</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0010"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Engelbrecht</surname>, <given-names>S</given-names></string-name></person-group>., <year>2007</year>, &#x2018;<article-title>Afrikaner-identiteit: &#x2019;n Psigoanalitiese interpretasie</article-title>&#x2019;, <source><italic>Tydskrif vir Geesteswetenskappe</italic></source>, <volume>47</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>28</fpage>&#x2013;<lpage>42</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0011"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Erasmus</surname>, <given-names>P.A</given-names></string-name></person-group>., <year>2005</year>, &#x2018;<article-title>Antropologiese spel met identiteit: Selfrefleksie op die Afrikaner</article-title>&#x2019;, <source><italic>Tydskrif vir Geesteswetenskappe</italic></source>, <volume>45</volume>(<issue>2</issue>), <fpage>232</fpage>&#x2013;<lpage>244</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0012"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Gaylard</surname>, <given-names>G</given-names></string-name></person-group>., <year>2008</year>, &#x2018;<article-title>The postcolonial gothic: Time and death in South African literature</article-title>&#x2019;, <source><italic>Journal of Literary Studies</italic></source>, <volume>24</volume>(<issue>4</issue>), <fpage>1</fpage>&#x2013;<lpage>18</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.1080/02564710802220861">https://doi.org/10.1080/02564710802220861</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0013"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Gelder</surname>, <given-names>K</given-names></string-name>. &#x0026; <string-name><surname>Jacobs</surname>, <given-names>J.M</given-names></string-name></person-group>., <year>1999</year>, &#x2018;<chapter-title>The postcolonial ghost story</chapter-title>&#x2019;, in <person-group person-group-type="editor"><string-name><given-names>P.</given-names> <surname>Buse</surname></string-name> &#x0026; <string-name><given-names>A.</given-names> <surname>Stott</surname></string-name> (eds.)</person-group>, <source><italic>Ghosts: deconstruction, psychoanalysis, history</italic></source>, pp. <fpage>179</fpage>&#x2013;<lpage>200</lpage>, <publisher-name>Macmillan</publisher-name>, <publisher-loc>London</publisher-loc>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.1057/9780230374812_9">https://doi.org/10.1057/9780230374812_9</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0014"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Hatting</surname>, <given-names>M</given-names></string-name></person-group>., <year>1995</year>, &#x2018;<article-title><italic>Die stoetmeester</italic> van Etienne van Heerden: Gesigte van &#x2019;n gestorwe siener</article-title>&#x2019;, <source><italic>Literator</italic></source>, <volume>16</volume>(<issue>2</issue>), <fpage>79</fpage>&#x2013;<lpage>93</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.4102/lit.v16i2.614">https://doi.org/10.4102/lit.v16i2.614</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0015"><mixed-citation publication-type="other"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Hawes</surname>, <given-names>J</given-names></string-name></person-group>., <year>n.d.</year>, <source><italic>Get to know your ghosts</italic></source>, <comment>viewed 13 August 2013, from <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="http://www.the-atlantic-paranormal-society.com/articles/general-articles">http://www.the-atlantic-paranormal-society.com/articles/general-articles</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0016"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Marais</surname>, <given-names>N</given-names></string-name></person-group>., <year>2005</year>, &#x2018;<chapter-title>&#x2019;n Diskursiewe ondersoek van enkele verteenwoordigende Afrikaanse en Nederlandse historiese romans</chapter-title>&#x2019;, <comment>Ph.D.-proefskrif</comment>, <publisher-name>Universiteit van die Vrystaat</publisher-name>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0017"><mixed-citation publication-type="other"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Margolin</surname>, <given-names>U</given-names></string-name></person-group>., <year>1990</year>, &#x2018;<article-title>The what, the when, and the how of being a character in literary narrative</article-title>&#x2019;. <source><italic>Style</italic></source>, <volume>24</volume>(<issue>3</issue>), <comment>viewed 24 Augustus 2016, from <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="http://www.jstor.org/stable/42945873?seq=1page_scan_tab_contents">http://www.jstor.org/stable/42945873?seq=1page_scan_tab_contents</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0018"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Palmer</surname>, <given-names>A</given-names></string-name></person-group>., <year>2004</year>, <source><italic>Fictional minds</italic></source>, <publisher-name>University of Nebraska Press</publisher-name>, <publisher-loc>Lincoln &#x0026; London</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0019"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Shear</surname>, <given-names>J</given-names></string-name></person-group>., <year>2006</year>, &#x2018;<article-title>Haunted houses, haunted nation: <italic>Triomf</italic> and the South African Postcolonial Gothic</article-title>&#x2019;, <source><italic>Journal of Literary Studies</italic></source>, <volume>22</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>70</fpage>&#x2013;<lpage>95</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.1080/02564710608530391">https://doi.org/10.1080/02564710608530391</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0020"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Stacey</surname>, <given-names>R.D</given-names></string-name></person-group>., <year>2006</year>, &#x2018;<article-title>Ghost of a chance: John Steffler&#x2019;s <italic>The afterlife of George Cartwright and the meaning of history</italic></article-title>&#x2019;, <source><italic>University of Toronto Quarterly</italic></source>, <volume>75</volume>(<issue>2</issue>), <fpage>718</fpage>&#x2013;<lpage>26</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.3138/utq.75.2.718">https://doi.org/10.3138/utq.75.2.718</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0021"><mixed-citation publication-type="other"><person-group person-group-type="author"><collab>T.A.P.S</collab></person-group>., <year>2015</year>, <source><italic>Types of human hauntings</italic></source>, <comment>viewed 23 August 2016, from <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="http://www.the-atlantic-paranormal-society.com/types-of-hauntings/">http://www.the-atlantic-paranormal-society.com/types-of-hauntings/</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0022"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van der Merwe</surname>, <given-names>J.P</given-names></string-name></person-group>., <year>2008</year>, &#x2018;<article-title>Waardes as kultuuraspek van die Afrikaner</article-title>&#x2019;, <source><italic>Tydskrif vir Geesteswetenskappe</italic></source>, <volume>48</volume>(<issue>3</issue>), <fpage>356</fpage>&#x2013;<lpage>373</lpage>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0023"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van Graan</surname>, <given-names>M</given-names></string-name></person-group>., <year>2008</year>, &#x2018;<chapter-title>Die rol van ruimte in Afrikaanse spookstories</chapter-title>&#x2019;, <comment>M.A.-verhandeling</comment>, <publisher-name>Departement Afrikaans en Nederlands, Noordwes-Universiteit</publisher-name>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0024"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van Graan</surname>, <given-names>M</given-names></string-name></person-group>., <year>2015</year>, &#x2018;<chapter-title>Die grens tussen lewe en dood: &#x2019;n Studie van spookkarakters in die roman-oeuvre van Etienne van Heerden</chapter-title>&#x2019;, <comment>Ph.D.-proefskrif</comment>, <publisher-name>Departement Afrikaans en Nederlands, Noordwes-Universiteit</publisher-name>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0025"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van Heerden</surname>, <given-names>E</given-names></string-name></person-group>., <year>1986</year>, <source><italic>Toorberg</italic></source>, <publisher-name>Tafelberg</publisher-name>, <publisher-loc>Kaapstad</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0026"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van Heerden</surname>, <given-names>E</given-names></string-name></person-group>., <year>1993</year>, <source><italic>Die stoetmeester</italic></source>, <publisher-name>Tafelberg</publisher-name>, <publisher-loc>Kaapstad</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0027"><mixed-citation publication-type="book"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Van Heerden</surname>, <given-names>E</given-names></string-name></person-group>., <year>2000</year>, <source><italic>Die swye van Mario Salviati</italic></source>, <publisher-name>Tafelberg</publisher-name>, <publisher-loc>Kaapstad</publisher-loc>.</mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0028"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Wallace</surname>, <given-names>D</given-names></string-name></person-group>., <year>2004</year>, &#x2018;<article-title>The ghost story as female Gothic</article-title>&#x2019;, <source><italic>Gothic Studies</italic></source>, <volume>6</volume>(<issue>1</issue>), <fpage>57</fpage>&#x2013;<lpage>68</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.7227/GS.6.1.6">https://doi.org/10.7227/GS.6.1.6</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
<ref id="CIT0029"><mixed-citation publication-type="journal"><person-group person-group-type="author"><string-name><surname>Woodbridge</surname>, <given-names>L</given-names></string-name></person-group>., <year>2003</year>, &#x2018;<article-title>Afterword: Speaking with the dead</article-title>&#x2019;, <source><italic>PMLA</italic></source>, <volume>118</volume>(<issue>3</issue>), <fpage>597</fpage>&#x2013;<lpage>603</lpage>. <comment><ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.1632/003081203X47868">https://doi.org/10.1632/003081203X47868</ext-link></comment></mixed-citation></ref>
</ref-list>
<fn-group>
<fn><p><bold>How to cite this article:</bold> Van Graan, M., 2017, &#x2018;Die spook van Afrikaneridentiteit in <italic>Toorberg</italic>, <italic>Die stoetmeester</italic> en <italic>Die swye van Mario Salviati</italic> (Etienne van Heerden)&#x2019;, <italic>Literator</italic> 38(2), a1339. <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="https://doi.org/10.4102/lit.v38i2.1339">https://doi.org/10.4102/lit.v38i2.1339</ext-link></p></fn>
<fn id="FN0001"><label>1</label><p>T.A.P.S., insluitende die bekende stigterslede Jason Hawes en Grant Wilson, is ook die aanbieders en sterre van die realiteitstelevisiereeks Ghost Hunters (2004 &#x2013; ).</p></fn>
<fn id="FN0002"><label>2</label><p>Ter wille van bondigheid word hierdie karakters voorts op hul eerste name genoem.</p></fn>
<fn id="FN0003"><label>3</label><p>Abel verbeel hom dat sy voorouers by hom spook (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:159), en sy lewende dogter K&#x00EA;nsTillie, sien soms die spoke, maar sy praat nie met hulle nie en niemand glo haar nie (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:184). Die Slams sien ook die spoke, maar word uitgebeeld as &#x2019;n onbetroubare persoon, en daarom word ook nie veel waarde geheg aan sy stories nie (Van Heerden <xref ref-type="bibr" rid="CIT0025">1986</xref>:138).</p></fn>
<fn id="FN0004"><label>4</label><p>Hierdie en ander kenmerke word ook deur navorsers soos o.a. Coetzee (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0005">2000</xref>:93), Du Pisani (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0008">2004</xref>:80), Erasmus (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0011">2005</xref>:238) en Van der Merwe (<xref ref-type="bibr" rid="CIT0022">2008</xref>:366) as kenmerke of eienskappe van die Afrikaner en Afrikaneridentiteit uitgewys.</p></fn>
<fn id="FN0005"><label>5</label><p>Hiermee word nie veronderstel dat alle Afrikaners altyd rassiste was nie, maar eerder dat hulle in die bre&#x00EB; as sodanig beskou is, veral tydens die apartheidsjare.</p></fn>
<fn id="FN0006"><label>6</label><p>Floors, Andries, Andreas, De la Rey, Posmeester, Koevert, Noag. Al Floors se afstammelinge, die hele lewende SkaamFamilie, kan ook hier ingereken word.</p></fn>
<fn id="FN0007"><label>7</label><p>Hierna slegs Siener (wanneer hy as lewende karakter optree) of spookSiener (wanneer hy as spookkarakter optree).</p></fn>
<fn id="FN0008"><label>8</label><p>En ook met magiese verskynsels, insluitende die langlewende Generaal Taljaard, die onortodokse engel en die swart blinddoekvo&#x00EB;ls. Gegewe die fokus van hierdie artikel op spesifiek spookkarakters moet magiese verskynsels ongelukkig hier buite rekening gelaat word.</p></fn>
<fn id="FN0009"><label>9</label><p>StamAbel Moolman, Magtilt van der Merwe, Regter Lucius Moolman, Floors Moolman, Andries Riet, Soois die Rebel Moolman, Andreas die Digter Moolman, OuAbel Moolman, Hetta Olivier, De La Rey Moolman, Abel Moolman, Max Siener Wehmeyer, Kaptein William Gird, SlingerVel Xam!, Ouma Siela Pedi en die vrou sonder gesig.</p></fn>
</fn-group>
</back>
</article>