Book Review

Portrette in my gang: Resensie

Book Title: Portrette in my gang

Author: Dolf van Niekerk

ISBN: 978-1-4853-0230-8

Publisher: Protea Boekhuis, 2015, R150*

*Book price at the time of the review

Review Title: Portrette in my gang: Resensie

Reviewer:
Bibi Burger1 symbol

Affiliation:
1Department of Afrikaans and Dutch, University of Stellenbosch, South Africa

Corresponding author: Bibi Burger, bibi.burger@up.ac.za

How to cite this book review: Burger, B., 2017, ‘Portrette in my gang: Resensie’, Literator 38(1), a1289. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1289

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Portrette in my gang is ’n eenheidsbundel waarin die meeste gedigte portrette van individue verteenwoordig. Sommige (onder meer ‘nobilis’, ‘Gioconda’, ‘Beeld’, ‘Visioen’ en ‘Selfportret’) is geskryf na aanleiding van werklike skilderye, terwyl ander gedigte self die portrette vorm van mense wat deur die ‘gang’ van die digter se lewe hom beïnvloed het. Dit sluit familielede in soos sy ma (‘Mastos’), pa (‘Verhuising’) en ouma (‘Amarilis’), maar ook denkers en kunstenaars soos N.P. van Wyk Louw, Hermann Hesse, Nietzsche, Dostojefski, Hegel, Anna Vorster en Joan Hambidge. Die bundel bevat ook enkele natuurgedigte en gedigte met ’n sosiaal kritiese inslag.

’n Deurlopende motief is die naas mekaar plasing van geboorte en dood (‘die eerste skree / en die teruggee van die asem’ [‘Vergange’]). In ‘Circa 1933’ en ‘Selfportret’ ondersoek die digter sy eie lewe en kunstenaarskap, maar die fokus is hoofsaaklik op wat bogenoemde, nastrewenswaardige mense met hulle tyd op aarde gedoen het. ’n Verder deurlopende tema is die soeke na die transendentale ‘gees’ wat die aardse lewe oorstyg en daaraan betekenis gee. Hierdie soeke is slegs in ‘Pater Noster: ’n parafrase’, ’n nuwe Afrikaanse vertaling van die Onse Vader-gebed, eksplisiet Christelik. Dit word eerder hoofsaaklik geassosieer met die Jungiaanse kollektiewe onbewuste (sien ‘Circa 1933’) en die poging van die kunstenaar om met dié ‘Groot Onsigbare’ (‘Abstrakte ritme, Anna Vorster’) in aanraking te kom.

Soos Andries Visagie noem in sy resensie vir Versindaba beteken die verkenning van hierdie temas (sowel as die fokus op veroudering in ’n gedig soos ‘laaste woord’) dat Portrette in my gang vrugbare stof bied vir navorsers wat belangstel in ouderdomsgedigte. Myns insiens is ‘Swartberg’ en ‘Tablet’ egter die twee sterkste gedigte in die bundel, juis omdat hulle van dié tematiek wegbreek. Beide het hidrobreking in die Karoo en die moontlike bedreiging wat dit vir die omgewing inhou as onderwerp. Hierdie gedigte se ekokritiese inslag verleen aan hulle ’n dringendheid wat grootliks in die res van die bundel ontbreek. Beide verteenwoordig ook ’n interaksie met ’n hedendaagse verskynsel en is in hierdie opsig vernuwend – hidrobreking is in die Afrikaanse digkuns nie so bekend as die ander temas en onderwerpe wat in die bundel verken word nie.

Ook ‘Monsters’, ‘Prisma’ en ‘Mutant’ gaan oor die hedendaagse Suid-Afrika en neem die vorm aan van maatskaplike kritiek. ‘Monsters’ sluit aan by die bundel se fokus op die gees (as simbool vir die singewende transendentale). Hier is die teiken van Van Niekerk se kritiek die ‘geesloosheid’ van die ‘nuwe eeu waar middelmatigheid / vir verstarde ego’s maatstaf word’. Die gedig is myns insiens te abstrak – meer konkrete voorbeelde van dié geesloosheid sou dit meer oortuigend gemaak het. ‘Prisma’ se kritiek teen die klaarblyklike anti-individualisme en geldsug van die reënboognasie (‘Geen plek vir enkelheid in hierdie lig / want aan die reënboog se punt / wag vir almal ’n pot met goud’) is ook oorvereenvoudig en onoorspronklik. ‘Mutant’ se satiriese uitbeelding van die onvermoë van wit mense in Afrika (‘mutant, eurobaster, afrosteg’) om evolusionêr by hulle omgewing aan te pas, is oorspronkliker en meer geslaagd.

As geheel is Portrette in my gang nie vernuwend nie, maar dien dit wel as ’n verdere poëtiese verkenning en uitbreiding van temas soos veroudering, die dood, godsdiens, kuns en die strewe na ’n sinvolle lewe.



Crossref Citations

No related citations found.