Book Review

Die aandete: ’n Resensie

Book Title: Die aandete

Author: Herman Koch

ISBN: 978-8-86919-968-5

Publisher: Protea Boekhuis, 2013, R217*

*Book price at the time of the review

Review Title: Die aandete: ’n Resensie

Reviewer:
Nelba Vercuil1

Affiliation:
1Private

Corresponding author: Nelba Vercuil, dirk.nelba@gmail.com

How to cite this book review: Vercuil, N., 2017, ‘Die aandete: ’n Resensie’, Literator 38(1), a1221. https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1221

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Herman Koch, ’n Nederlandse skrywer en televisiepersoonlikheid het in 2009, Het Diner gepubliseer, en die boek het onmiddellik ’n topverkoper geword wat in dertien tale vertaal is. Dit is in 2009 met die NS Publiekprijs bekroon. In 2013 is die boek met die titel, Die aandete, deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal.

Die aandete is ’n roman waarvan menslike drama en menslike swakhede die hoofbestanddele uitmaak. Die vraag wat gevra word, is in watter mate ’n ouer verantwoordelik gehou kan word vir sy kind se dade en hoe laag ’n ouer sou kon daal om sy kind te beskerm teen die kind se eie foute.

Die verhaal speel hoofsaaklik af in ’n deftige restaurant waar Paul Lohman – ’n gewese onderwyser – en sy vrou, Claire, en Paul se broer en skoonsuster, Serge en Babette Lohman, mekaar ontmoet om ’n probleem rakende hulle kinders te bespreek.

Die leser se simpatie is aanvanklik by Paul Lohman – wat ook die verteller in die verhaal is. Hy is onentoesiasties oor die afspraak en sy politikusbroer se keuse van restaurant. Dit wil voorkom of sy onvergenoegdheid gesetel is in sy jaloesie teenoor sy bekende broer. Die leser kan identifiseer met die doodgewone Paul in teenstelling met sy broer Serge – ’n premierkandidaat – wat probeer voorgee om gewoon te wees ten einde as toeganklik deur die publiek gesien te word. Stelselmatig verander die leser se persepsie egter en word glimpse van die ware karakter van Paul en die ander in die groep gesien.

Die leser word deur die onderskeie dele van die verhaal gelei soos deur die gange van ’n maaltyd: Aperitief word opgevolg deur Voorgereg, Hoofgereg, Nagereg, Digestief en Fooitjie. Aanvanklik is die leser, afgesien van die onderliggende spanning wat meesterlik deur Koch geskep word, nie bewus van die omvang van die gruwels wat gepleeg is en nog sal word nie. Die eerste teken dat daar iets sinister onder die oppervlak skuil, is die volgende gesprek tussen Paul en Claire Lohman as ouerpaar:

‘“Gaan dit oor ’n meisie?” vra sy weer.’

‘Was dit maar so, dink ek.’

Hierdie spanningslyn word deurgaans gehandhaaf en versterk deur elke deel terwyl die Lohmans oor allerhande onbenullighede praat en nie uitkom by die doel van hulle ete saam nie. Dit duur tot by die ontknoping wat aan niemand verligting bring nie en ook nie ’n oplossing is nie.

Daniel Hugo se vertaling laat niks verlore gaan van die Nederlandse karakter van die boek nie. Die Nederlandse praatstyl skemer sterk deur met woorde soos ‘gemopper’ wat wel in Afrikaans gebruik word, maar waarvan die oorsprong en klank eg Nederlands is. Tog val die verhaal goed op die oor in Afrikaans en kan dit as ’n suksesvolle vertaling beskou word.

Die morele kwessies in die boek – hoewel universeel – word beslis gekleur deur ’n Europese en veral Nederlandse wêreldbeskouing wat meer permissief is en waar vryheid van spraak teen outoriteit die norm is:

‘Verleentheid oor ons eerste ministers is goed beskou die enigste emosie wat die een Nederlandse regering naatloos met die volgende een verbind.’

Herman Koch het self al opgemerk dat ’n verhaal ’n sukses sal wees solank die skrywer daarin slaag om ’n sekere atmosfeer van die begin af vas te vang en enduit vol te hou. Die atmosfeer wat in hierdie roman geskep word, is donker, maar ongetwyfeld boeiend tot die end.

Hoewel geen eksplisiet gewelddadige tonele in die boek beskryf word nie, laat dit mens onder geen waan dat die goedheid van die mens seëvier nie. Veel eerder is die gevoel van verskrikking wat by die leser gewek word, die resultaat van die kontras tussen die oeroue rituele van die maaltyd, die lof wat die restaurantpersoneel die fynproewersmaal toeswaai en die vermoede – wat al hoe sterker word – dat niks onder hierdie oënskynlike beskaafde bolaag normaal is nie. Hierdie vermoede word geleidelik bevestig wanneer dit deurdring dat die slagoffers in die verhaal hulle slagofferskap verkwalik word en dat daar nie sprake is van berou oor wat hulle aangedoen is nie. Die karakters is eerder besorg oor die impak wat die dade op hulle eie toekoms sal hê.

‘Natuur versus opvoeding’ kom ter sprake en mens sou kon bespiegel of die oorsprong van die jonger geslag Lohmans se gruweldade nie gesetel is in die ouer geslag Lohmans se swakhede nie. Dalk lê die oplossing eerder in Paul se oortuiging:

‘’n Gelukkige gesin oorleef ’n skipbreuk.’

Soms teen elke prys, blyk dit.

Die aandete kan ontstellend wees, maar word sterk aanbeveel vir die leser wat van sielkundige rillers hou.

Die krag van ’n goeie roman lê daarin om die amper ongeloofwaardige geloofwaardig te maak. Die aandete is beslis so ’n roman.



Crossref Citations

No related citations found.