Van crèche tot wieg: Eerste vertaling nie sonder probleme nie

Book Title: Suid-Afrikaanse Taalregtemonitor 2008 / South African Language Rights Monitor 2008
Editors: Johan Lubbe, Theodorus du Plessis
ISBN: 978-1-920382-27-8
Publisher: Sun Media, Bloemfontein, 2012, 101 pp., ZAR250.00* *Book price at time of review

Reviewer: Anna N. Otto
Affiliation: 1Department of Language and Literature, Nelson Mandela Metropolitan University, South Africa
Postal address: 37 Tulip Avenue, Sunridgepark, Port Elizabeth 6045, South Africa
How to cite this book review: Otto, A.N., 2014, ‘Van crèche tot wieg: Eerste vertaling nie sonder probleme nie’, Literator 35(2), Art. #1104, 3 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i2.1104
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die Suid-Afrikaase Taalregtemonitor 2008 is die eerste jaarverslag oor die stand van taalregte en taalaangeleenthede in Suid-Afrika wat tweetalig is. Dit is ’n positiewe stap, aangesien passievolle Afrikaanssprekendes nou kennis van hierdie sake kan neem in hul eie taal.

Wat navorsingsmetodologie betref, is data weereens hoofsaaklik van die SA Media se koerantknipsel-databasis aan die Universiteit van die Vrystaat verkry. Die seleksie van rekords is gedoen op grond van verwante sleutelwoorde en behoort dus redelik volledig te wees.

’n Nuwigheid in die tipologie van mediadekking oor taalsake is die feit dat naamsverandering uitgesonder is as aparte nie-amptelike kategorie vanweë die relatief goeie dekking wat hieraan verleen word. ’n Verdere aanpassing is die inbring van twee bykomende klassifiseerders, naamlik amptelik en nie-amptelik, sodat mens kan sien of veranderinge ‘van bo af’ of ‘van onder af’ begin het.

Mediarekords in die Monitor word verdeel in sewe tipes: artikels, rubrieke, hoofartikels, briewe, beriggewing, spotprente en resensies. In 2008 was daar 125 Afrikaanse artikels, teenoor 102 in Engels en slegs een in Zoeloe, maar interessant genoeg, het Engelssprekendes baie meer briewe (74) geskryf as die Afrikaanssprekendes (54) – ’n teken dat hulle aktivisme eerder van onder na bo geskied. Die meeste briewe in die Afrikaanse media het net op een taalkwessie, naamlik die voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch, gekonsentreer. Afgesien van die US-voertaalbeleid is daar klaarblyklik ’n groot mate van apatie by Afrikaanssprekendes.

In 2008 het naamsveranderinge wat vir die wit Engelssprekendes na aan die hart lê (soos straatname in Grahamstad en Durban) tot aktivistiese optrede gelei, wat wye publisiteit in veral Engelse koerante ontvang het.

Hoewel hierdie uitgawe van Monitor op 2008 fokus, word waardevolle vergelykings getref met mediadekking in 2006 en 2007, en gemiddeldes vir die drie jaar in tabelvorm verskaf sodat lesers ’n onmiddellike blik op mediadekking oor die tydperk 2006–2008 kan kry.

Een van die aspekte wat mens dadelik in die tabel opval, is die feit dat dekking van die kategorie taalbevordering dramaties verhoog het vanaf 19% in 2007 na 34% in 2008, wat ook heelwat hoër is as die gemiddelde van 27% vir die driejaarperiode.

Die outeurs wys tereg op die belangrike bydraes van meningsvormers, soos onder andere Koos du Toit, Hermann Giliomee, Leopold Scholtz en Jaap Steyn, sowel as organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalraad, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), asook die Roots-Kultuurfees aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die Skakelkantoor vir Afrikaans in België.

Wat taalprobleme in amptelike taalgebruiksdomeine betref, is slegs probleme in die domeine van publieke administrasie en die onderwys aangeteken. Instansies wat gekritiseer is oor die skending van taalregte is: die Departement van Justisie en Polisie, die Departement van Vervoer, die Suid-Afrikaanse Poskantoor, die Mangaung Plaaslike Munisipaliteit, staatshospitale en -klinieke, die Regering oor die Nasionale Afrikaanse Literêre Museum en Navorsingsentrum (NALN), wat gedwing is om sy kernpersoneel na die Sotho-museum te verskuif, die Departement van Arbeid en die Departement Handel en Nywerheid.

Dié uitgawe van Monitor beklemtoon die belangrikheid van moedertaalonderrig, maar wys ook op die probleme in hierdie verband. Matriek-eksamenvraestelle is slegs in Engels en Afrikaans beskikbaar. Om te kompenseer vir die benadeling van nie-moedertaalsprekers van Engels/Afrikaans, word swart leerders se punte aangepas en vraestelle word so verstaanbaar as moontlik geformuleer deur onder andere ingebedde bysinne te vermy.

Vertaalfoute wat op vraestelle voorkom, verhoog spanning. Een so ’n geval in 2008 was die woord square wat in ’n wiskundevraestel met vierhoek in plaas van vierkant vertaal is – hierdie vraag het ses punte getel. Hoewel die Departement van Onderwys aangedui het dat geen leerder benadeel sal word nie, is dit in ’n hoofartikel as ’n ‘onverkwiklike uitkoms’ bestempel omdat dit beteken dat party leerders óf bevoordeel óf benadeel word, afhangende daarvan of almal die ses punte kry of dit by almal afgetrek word.

Ouers wat Afrikaansenkelmediumskole wil behou, sal moet sorg dat Skool X vol Afrikaanssprekende leerders bly – ’n voorstel van Koos Malan van die Universiteit van Pretoria wat prakties uitgevoer is op Newcastle.

Teen 2008 het die posisie van Afrikaans op tersiêre vlak reeds drasties verswak. Dit was nie meer die onderrigtaal aan UWK en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) nie en aan die Universiteit van Johannesburg ‘is dit vinnig op pad uit’, terwyl dit by UP, UV, US en die Potchefstroom-kampus van Noordwes-Universiteit ‘ook sterk onder druk [is]’ (Rapport 19/10/08, 12)1.

Uit dié uitgawe van Monitor blyk die ironie dat daar enersyds baklei word vir Afrikaans as onderrigmedium op tersiêre vlak, maar dat heelwat Afrikaanssprekende studente nie meer in Afrikaans wil studeer nie. Volgens Rapport (19/10/08, 12) het studente wat in Afrikaans wil studeer, aan die UP en UV tot tussen 40% en 45% afgeneem, terwyl aan die US wit Afrikaanssprekende studente van 68% tot 63% afgeneem het en bruin Afrikaanse studente op 11% gestagneer het. In 2008 het slegs 2802 van die 45, 232 studente by UJ verkies om in Afrikaans onderrig te word, die res het Engels verkies (Beeld 28/10/08, 11). Myns insiens voel baie studente dat hulle toekomstige werkplekke deur Engels oorheers gaan word.Dus leer hulle maar so gou moontlik die Engelse terminologie aan.

Wat taalprobleme in nie-amptelike taalgebruiksdomeine betref, is die volgende probleme in 2008 uitgelig: Robertsons (speserymense) het besluit om net Engels op hulle speserybottels te gebruik, die Mediese Nooddienste in Kaapstad het besluit om net Engels as kommunikasietaal te gebruik, die gebrek aan ’n verbintenis tot meertaligheid by die SABC, Engelse rugbykommentaar op SuperSport en slegs Engelse musiek wat deur Radio Jacaranda en Kfm 94.5 gespeel word.

Naamsverandering het proporsioneel meer dekking as ander taalkwessies, selfs ’n kwessie soos moedertaalonderrig, ontvang. Een van die voorgestelde naamsveranderinge, naamlik Tshwane (stadsnaam) eerder as Pretoria, word effe onduidelik aan die Afrikaanse kant beskryf, terwyl die Engelse weergawe baie duidelik is. Daar word aan die Afrikaanse kant genoem dat mnr. Jacob Zuma by ’n ANC-imbizo deurgaans van Tshwane gepraat het, hoewel hy telkens Pretoria gebesig het sonder dat hy dit besef het (Beeld 19/05/08, 4). As mens deurgaans (my kursivering) ’n sekere woord gebruik, impliseer dit tog dat jy nie ook ’n ander woord vir dieselfde begrip gebruik nie. Die Engelse kant is baie duideliker in hierdie verband: ‘Zuma generally referred to “Tshwane” for the duration of this event – although he also used Pretoria several times without realising that he had done so’.

’n Foutiewe vertaling vir crèche kom by die bespreking van Amanzimtoti voor, naamlik wieg: ‘In ’n poging tot versoening is die skool se wieg vernoem na Willem van Wyk …’ Nog ’n vertaalprobleem kom op bladsy 36 voor waar die voegwoord as met soos in plaas van byvoorbeeld deurdat vertaal word. ’n Verdere swak vertaling aan die Afrikaanse kant (op bl. 36) is: ‘tot veel aksies lei’ vir die Engelse ‘many activist measures’.

Taalversorging en proefleeswerk is nie deeglik gedoen nie en doen afbreuk aan die goeie verslaggewing oor taalkwessies. Enkele voorbeelde word vervolgens gelys: Onder die bespreking van Kaapstad-strate word was in plaas van is gebruik: ‘Reeds in 2007 was voorstelle(…) gevra’; by die bespreking van Durban se strate word ’n foutiewe kollokator gebruik, naamlik momentum opgetel (my kursivering) in plaas van gekry; op bladsy 35 is die hulpwerkwoord het in die eerste sin van die tweede laaste paragraaf weggelaat; op bladsy 37 is ’n oortollige het in die eerste sin op hierdie bladsy, terwyl swartleiers los geskryf moet word. Die spelling van kleurbenamings, soos swart, wit en bruin gevolg deur ’n selfstandige naamwoord word dikwels op dieselfde bladsy soms los en soms vas geskryf; op bladsy 38 is FV+ in plaas van VF+ geskryf; op bladsy 41 is ’n kontaminasievorm, naamlik ‘in beweging gesit’. ’n Mens bring iets in beweging of, in hierdie konteks, sit jy iets aan die gang; in die aanhaling op bladsy 44 is to weggelaat: ‘It also appears not be seen …’; op bladsy 44 is ordonnansie verkeerdelik as ordonansie gespel; die weglating van die voor Vrystaat kom op bladsy 53 voor; op bladsy 55 word uitgegroei in plaas van uitgebrei gebruik in die volgende sin: ‘Dit (=kykNET) het in November 1999 as ’n saamgeflanste joernaalprogramrooster begin, en in 2008 uitgegroei om meer as 1100 uur (…) uit te saai’; op bladsy 59 word TV-program sonder ’n koppelteken geskryf en ’n oortollige -e verskyn by ‘Volgense’; op bladsy 60 ontbreek ’n t in die opskrif by 3.2.2.2; op bladsy 61 word South Africa as South Afrikca gespel; op bladsy 65 word verrassende verkeerdelik met een r gespel; die voormalige Minister van Onderwys, me. Naledi Pandor, se naam word by geleentheid aan beide kante verkeerdelik aangedui as Naldei; op bladsy 65 word ingesluit as ingelsuit aangedui; ’n lomp sin kom op bladsy 65 voor: ‘Vir ’n afgevaardigde van die UWK, mnr. Maqula, was die debat vir hom ’n openbaring omdat hy besef het dat die aspirasies om Afrikaans te ontwikkel nie oor oorheersing gaan nie’; op bladsy 76 word aanhanging in plaas van aanhangig gebruik; op bladsy 79 word ’n vreemde van, dit is Vermaal, gebruik wat waarskynlik Vermaak moet wees; op bladsy 85 word Hooggeregshofsaak los in plaas van vas geskryf en Department van Onderwys in plaas van Departement van Onderwys, so ook terwill van sonder die -e by terwille, ook graad agt leerlinge los in plaas van vas en die weglating van as in die konstruksie ‘wat hulle in soortgelyke situasies bevind Tabok’; op bladsy 89 word 2008 oorsig sonder die koppelteken gespel en op bladsy 91 is ’n oortollige voegsel by ondersoeksveld.

Alle uitgawes van Monitor, soos ook hierdie een wat oor 2008 se taalkwessies verslag doen, is belangrike taalregte-bewusmakingsinstrumente. Jan en San Alleman behoort te weet waar bedreigings vir minderheidstale voorkom, maar ook watter geleenthede benut is en steeds benut kan word om veeltaligheid te bevorder, maar juis omdat dit hier oor taal gaan, behoort vertaling en proefleeswerk uiters noukeurig gedoen te word ter wille van duidelike kommunikasie met almal wat in taalkwessies belangstel.

Voetnota
Open Access

1.Bronne in dié resensie soos in die boek onder bespreking aangedui.



Crossref Citations

No related citations found.