Streeksidentiteit én algemeen-menslike verantwoordelikheid verwoord

Book Title: Bleek planeet
Author: Dolf van Niekerk
ISBN: 978-1-86919-921-0
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, 61 p., ZAR150.00*
*Book price at the time of review

Reviewer: Bernardus J. Odendaal1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal Adress: Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Odendaal, B.J., 2014, ‘Streeksidentiteit én algemeen-menslike verantwoordelikheid verwoord’, Literator 35(1), Art. #1075, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i1.1075
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Dolf van Niekerk het reeds vier digbundels (Karoosange 1975; Dubbelster 1996; Nag op die kaal plein 2006; Lang reis na Ithaka 2009) die lig laat sien. Daarin is ’n ontwikkeling te bespeur vanaf die uitbeelding van ’n aardse, volksaardige (Karoo-)streeksidentiteit – in voortsetting van die tradisie van Boerneef, en N.P. van Wyk Louw met ‘Klipwerk’ – na die tekening van ’n ruimer tematiek toe.

Met Bleek planeet sit Van Niekerk dié ontwikkeling voort. Hierdie keer betref dit die vrese rondom die moontlikhede van aardbodem- en klimaatsrampe wat wag weens die toedoen van die mens.

Die bundel is verdeel in vier (ongetitelde) groeperings. In die eerste word ’n apokaliptiese blik op moontlike aardtoestande ’n eeu verder gewerp. Stortende herfsblare wat in die openingsgedig (‘2111’) waargeneem word, gee aanleiding tot ’n verbeeldingsvlug waarin die aarde as ’n vernietigde ‘geel planeet’ te voorskyn tree. Die mens se aandeel aan die aardverwarmingsproses resulteer, as ’t ware in ooreenstemming met die tekening van die teenstellende effekte van die El Niño- en La Niña-klimaatsverskynsels in ‘El Niño’, in gemoedsverskeurdheid (‘Tweeling in die psige van die mens’), asook ’n religieuse krisis by die spreker.

Uit die volgende afdeling blyk dat veral kommersiële dryfvere aan die wortel van dié kwaad lê, soos byvoorbeeld vergestalt in die hidrobrekingsmetode waarmee beoog word om aardgasse uit die dieptes van die Karoo te ontgin (‘Garop’). In ‘Elegie vir verlore aarde’ word egter ook die negentiende-eeuse Indianehoofman See-at-hl aan die woord gestel, in ’n reeks van nege klagte, om die grypsug van die ‘Groot Witte’ (die Amerikaanse president as verteenwoordiger van die Westerling) aan die kaak te stel. See-at-hl was ’n Christen, en die reeks mond uit op nog ’n religieuse aanklag:

Groot Witte, Hy maak los en Hy maak vas,
Hy vra jou na die edelhout
en soek die arend en die hagedas.
Groot Witte, kan jy Hom hoor?
Dood is die aarde en dood is jou oor.

Die derde groepering gedigte word dan gewy aan die vertolking van religieuse belewenisse. Kapélagtige ruimtes, met brandglaswerk en opklinkende musiek, word dikwels opgeroep. Dit gaan daarom ‘om die bewussyn / van die Onsienlike / tuis te bring in al die kamers / van die gees’ (‘Meditasie’). Dááruit sal die soort geestelike verandering spruit waarna in die bundelmotto versug word:

Without a global revolution in the sphere of human consciousness, nothing will change for the better in the sphere of our being as human, and the catastrophe towards which the world is headed [...] will be unavoidable. – Václav Havel

Eers dán is die geïmpliseerde herlewingsmoontlikhede en die ‘register van vrede / tussen aarde / en tyd’ (‘Golden Gate’) van die groep slotgedigte moontlik. Op sprekende wyse word teruggekeer na die digter se geliefde Karoowêreld, met náklanke van Leipoldt, Boerneef en N.P. van Wyk Louw se verskuns wat te verneem is. Die landelike Afrikatoneel wat geteken word in ‘Manyami’, sluit in gees en klank hierby aan:

die ryp lê wit
die kraai gaan sit
langs die pad
en die dood is wit
waar hy lê of sit
op die asfalt
die meisies sing
met die meel se bring
na die stat
en dis ver van die ding
met die wiele wat sing
in die stad
waar niemand sing
in die spierwit kring
waar hy lê
met sy korreltjies wit
of hy bid
en dankie sê[.]

Dié gedig is die enigste in die bundel wat vaster van vorm is. As sonnette kan die veertienreëlige gedigte in die genoemde ‘Elegie vir verlore aarde’-reeks kwalik gereken word; weinig van die bekende kenmerke van dié gedigvorm is daarin terug te vind.

Soos in Van Niekerk se vorige twee bundels word kennelik na stilistiese gestrooptheid gestreef, onder meer deur veelvuldige benutting van die ellips. ’n Mens sou kon argumenteer dat die vrye maar beheerste gedigstrukturering iets van die teenspelende kragte van verval en (her)skepping wat in die bundel ter sprake kom, vergestalt. ’n Ander funksie word deur Van Niekerk self in die bundelslot verwoord, naamlik as die ‘[b]raamblom’ op ’n vraag van die digter antwoord:

ek is die halfpad-woord
wat jy nie kan voltooi
maar met skryf
en praat in brabbeltaal
moet swoeg om die sin
van woorde te verhaal[.]

Daar is dus veel om te waardeer aangaande hierdie bundel, al dreig die soms betogende trant plek-plek om prosaïes te raak. Hinderlik is ook enkele sintaktiese en beeldtroebelhede (selfs ’n tikfout of twee). Byvoorbeeld: Wie/wat is die ‘hy’ in die gedig ‘Mayami’ wat hierbo aangehaal is? En is die ‘hy’ vroeg in die gedig dieselfde ’hy’ as later in die gedig? En hoe is ’n frase soos ‘Tierra del Fuego / waar Darwin nog in ewolusie vaar in Spaans gedoop’ uit ‘El Niño’ te verstaan? En het die digter seker gemaak of die ‘hagedas’ waarvan See-at-hl in die hierbo aangehaalde slotverse uit die reeks ‘Elegie vir verlore aarde’ praat, wel ’n voëlsoort is wat in Noord-Amerika aangetref word?

Sulke besware ten spyt, gaan Van Niekerk met Bleek planeet voort om hom as Afrikaanse digter van veel meer as streeksvolksaardige tematiek te vestig.



Crossref Citations

No related citations found.