‘Die Weste hét ’n koffer in Berlyn’

Book Title: Koffer in Berlyn: Essays oor kabaret
Author: Hennie Aucamp
ISBN: 978-1-86919-830-5
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, 381 p., ZAR250.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Phil van Schalkwyk1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, South Africa
Postal Adress: Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Van Schalkwyk, P., 2014, ‘Die Weste hét ’n koffer in Berlyn’, Literator 35(1), Art. #1065, 3 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i1.1065
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In Koffer in Berlyn word meer as 40 van Hennie Aucamp se essays oor die kabaret byeengebring. Dit is egter nie die eerste keer dat Aucamp hom in boekformaat oor die kabaret, die literêre liedteks en verbandhoudende sake soos die dekadensie, ‘camp’ en die homoërotiek uitlaat nie. Gegewe die geïntegreerdheid van Aucamp se (visie op sy) belangstellingsvelde, lê sy uitinge oor relevante sake verspreid in sy boeke. Ook sy werke oor die kortverhaal vorm deel van die dampkring waarin Koffer in Berlyn staan. ’n Werk wat uitgelig kan word, vanweë dié geïntegreerdheid, maar meer spesifiek die fokus op die kabaret, is Woorde wat wond: Geleentheidstukke oor randkultuur wat reeds in 1984 verskyn het. Voorts is Koffer in Berlyn in terme van formaat, samestelling asook inhoudelike gerigtheid, sterk verwant aan die bundel Lendetaal: Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde wat in 2011 by Protea Boekhuis die lig gesien het.

Die meeste van die essays in Koffer in Berlyn het reeds elders verskyn, merendeels in die dagbladpers, by verre die meeste in Die Burger en ’n klompie in Beeld, en in tydskrifte soos Insig en De Kat. Daar is ook ’n paar LitNet-bydraes en ’n artikel uit die vaktydskrif Tydskrif vir Letterkunde. Enkele essays was tot dusver ongepubliseer of is blykbaar spesifiek vir hierdie versameling geskryf of afgestof.

Die bundel word ingelui met stukke wat daarop dui dat Aucamp sy leser in ag neem en oor die samehang en sinvolheid van die geheel begaan is. Dié stukke staan in ’n paratekstuele verhouding tot die daaropvolgende deurdat dit ’n raam vir die verdere lees van die bundel daarstel. Die bundel open met ‘Kabaret-ABC’, ’n paarrymde ‘gedig’ waarin by wyse van eerste kennismaking op ligte trant ’n versameling uitgesoekte kodes geïntroduseer en ook iets van die Boheemse, satiriese, eksistensiële kabaretsfeer opgeroep word. Vergelyk byvoorbeeld: ‘K staan vir Kleinkuns, maar somtyds wel groot/L staan vir La Strydom, haar blues peil ons nood’, en: ‘S staan vir Soapie, sy seks is te soet/T staan vir Tydbom, dit tik in jou bloed/U staan vir Uurglas, sy sand sypel uit/V vir Verfremdung, wat emosies moet stuit’. Hierdie inleidende gebaar word verder gevoer in ’n soort voorwoord, ‘Cabaret en Kabarett’, waarin Aucamp perspektief bied op hierdie einste ‘kabaretdiskoers Koffer in Berlyn’ (bl. 9), veral deur middel van nadere begripbepaling. Hierna volg ‘Dans op ’n vulkaan: Oorsig oor die kabaret van ’n eeu’, ’n denkbeeldige program van verteenwoordigende kabarettekste wat die ontwikkeling van dié kunsvorm die afgelope honderd jaar moet illustreer. Hierdie inleiding word ingedeel in ’n reeks sleutelperiodes wat deur skerpsinnige gesprekke tussen verskillende ‘stemme’ getoon én bespreek word. Telkens word ten slotte ’n sanger of sangeres aangewys wat ’n uitgesoekte nommer uitvoer. Aucamp wys hier daarop dat hy ’n voorsmaak van die saamstel van ’n inleiding soos hierdie gehad het toe hy in 1989 vir die Stellenbosse Kunsfeeskomitee ’n program van klassieke kabaret geskryf het. In ‘Dans op ’n vulkaan’ word die leser voorberei op die uiteenlopende essays wat volg: Suid-Afrikaanse en buitelandse kabarettekste en -beoefenaars word ter sprake gebring en essensiële aspekte van die kabaretwêreld (teks en konteks) word uitgelig. By die lees van die essays keer hierdie gegewens terug, by herhaling, en dan telkens ruimer of anders belig.

Algaande word ook die begrip ‘kabaret’ nader bepaal en al duideliker. Daarom weet die leser gou reeds dat kabaret al beskryf is as die kunslied van die straat en die kafee, dat dit by uitstek ’n teaterverrigting is, maar dan wel een wat ’n kragtige intellektuele appèl maak, dat dit, sosiaal-polities beskou, ’n kritiese en satiriese ingesteldheid openbaar, maar altyd met genoegsame afstand ten opsigte van die waargenome, dat die kabaret-liedteks nie net heenkome bied aan die gemarginaliseerde enkeling met ’n bepaalde wêreldwysheid en lewensgulsigheid nie, maar ook sonder die musiek as poësie moet kan bly staan.

Dis uiteindelik ’n gedugte historiese perspektief op die kabaret wat stuksgewys in hierdie essays uit die verf kom. Veral die besonder sterk ontwikkelde Nederlandse kabarettradisie, waarmee Aucamp goed vertroud is, kom deeglik tot sy reg, maar die verwysingsveld is veel wyer as dit. Belangrike Westerse kabaretskrywers, -komponiste, -regisseurs, -uitvoerders en -uitvoerings word behandel, dikwels na aanleiding van ’n spesifieke pas verskene boek of heruitgawe oor die kabaret of sake wat daarmee verband hou, want talle van die essays is aanvanklik as resensies gepubliseer. Aucamp se resensies is egter altyd veel meer as bloot resensie: breed opgeset, ondersoekend-wetenskaplik gerig, telkens met ’n bepaalde (persoonlik gekleurde) fokus of vanuit ’n onthullende hoek.

Dit is duidelik dat Aucamp kundig maar ook intuïtief weet wat alles deel van die kabaretkonstellasie uitmaak. Hierdie sensibiliteit is opmerklik ín die essays self, maar spreek ook uit die essaykeuse. Daarom figureer die dekadensie en die gaykultuur, kunsvorme soos dans (die tango) en die skilder- en (homoërotiese) tekenkuns ook opvallend. Daar is immers ook byvoorbeeld skilders, soos ons eie Robert Hodgins, wie se werk ’n grondige bewustheid toon van die Duitse Weimar-periode, een van die belangrikste oriëntasiepunte van die kabaret.

Aucamp is wat betref die kabaret nie slegs buitengewoon belese nie, maar ook berese. Laasgenoemde word in talle essays weerspieël as hy byvoorbeeld vertel van ’n onvergeetlike kabaretuitvoering wat hy dekades gelede êrens in Europa bygewoon het, of van ’n verbode boek in ’n stegie gekoop. Verkenningstogte dus agter die mure van destyds. Voorts figureer Aucamp se eie betrokkenheid by die kabaret, onder meer as teksskrywer, in heelwat van die essays. Aan die woord is iemand wat die wêreld van die kabaret nie net van binne uit ken nie maar ook as kabaretpionier aan die (Suid-)Afrikaanse kabaret help gestalte gee het. Sy essays bied dan ook waardevolle insae in die plaaslike kabaret: hy laat die kollig op seminale produksies, op leermeesters of mentors en eksponente val – bring onomwonde hulde. Sy direkte betrokkenheid kom verder tot uitdrukking in essays waarin poëtikaal en skryfkundig oor die wesensaard en skryf van liedtekste in die algemeen en kabarettekste in die besonder besin word.

Die lees van hierdie versameling essays is, soos telkens weer by Aucamp as essayis, ’n ervaring deurspek met momente van herkenning, afgewissel deur oomblikke van kennis aanvul en nuut bekyk. Aucamp is in al sy geskakeerdheid óók die passievolle dog geduldige leermeester-verteller aan wie se lippe ’n mens hang. ’n Bepaalde formulering wat die digter Seamus Heaney in sy Nobelprys-rede gebruik het, het my by die lees van die bundel voortdurend voor die gees gesweef: ‘[to] at last grow up to that which we stored up as we grew’ (Heaney 1995). Waaroor Aucamp hier skryf, is nie net ’n vakkundige saak nie, maar ook iets wat met persoonlike Bildung te make het. Die leser moet tot ’n sekere mate dus gereed of minstens ontvanklik vir dié bundel wees, maar Aucamp begelei ook die lees- en leerproses ín die bundel self, nie net in die individuele essays nie, maar ook deur middel van seleksie en kombinasie van die stukke, paratekstuele steun en deeglike dokumentasie van bronne.

Die verbluffende assosiatiewe verbande wat Aucamp konstrueer, sorg vir ’n opwindende leeservaring maar stem ook tot weemoed, want ’n mens besef dat hier een van die laastes aan die woord is wat beskik oor eerstehandse en/of omvangryke kennis en ervaring van die internasionale kabaret en die wêrelde waarmee dit skakel. Vir die jongeres, die oningewydes, die byderwetses-ter-wille-van-byderwetsheid en die moedswilliges kan Aucamp se soort verbandlegging en sy talryke uitweidings moontlik willekeurig, oorbodig en selfs onsinnig lyk. Maar dis juis hierin dat Aucamp se waarde as denker en skrywer lê: hy het hom in sy loopbaan konsekwent op marginalieë toegelê, nie net artistiek nie maar ook ten opsigte van die menslike. Sy aandag is gerig op kunsvorme en strominge wat binne die groter opset van die kunste op die marge bestaan, vandaar dan ook die insluiting van essays oor sogenaamde ‘Entartete Kunst’ (ontaarde kuns), maar die kruks van die saak is dat hierdie marginale vorme en mededelings, byvoorbeeld die dekadensie en die kabaret, in der waarheid die verhewiging is van bepaalde universele aspekte van die kunste. Dit is juis in die marginale manifestasievorme dat iets van die essensiële van kuns en mens bewaar word, inderdaad soos in ’n ou koffer. Die miskenning of geringskatting of verdagmaking van hierdie uitinge, ook as dit kom by kanoniseringsprosesse, is dus kortsigtig, ofskoon die krag en nut daarvan juis in voortgesette marginalisering lê – hierdie vorme stel hulle dan ook doelbewus as deel van ’n randkultuur op.

Aucamp is hoegenaamd nie onbewus van bogenoemde problematiek nie. Inteendeel: hy stel dit op die voorgrond. Sy essay ‘My Weimar-kompleks’ begin só: ‘Jonger vriende – veral skrywervriende – vra my soms byna ergerlik hoekom ek so ’n obsessie met die Weimar-tyd, Entartete Musik, Entartete Kunst en die Holocaust het’ (bl. 145). In hierdie en ook ander essays verskaf hy ’n ryk antwoord hierop. In ‘Koffer in Berlyn’ maak Aucamp met verwysing na Marlene Dietrich se lied Ich hab' noch einen Koffer in Berlin en die Berlyn van die ‘goue twintigerjare’ die volgende sentrale stelling: ‘Die Weste hét ’n koffer in Berlyn, ja’ (bl. 120). Besonder oortuigend in hierdie verband is sy verkenning in meer as een essay van die Raka-diskoers. Met verwysing na Rousseau (1978) se gedig ‘Die era van Raka’ uit haar bundel Kwiksilwersirkel merk hy op: ‘Raka ontken herinnering; hy wis kultuurgeheue en -gewete uit; hy is die leë oomblik, hy is die nou’ (bl. 287). Aucamp kom in dieselfde betoog uit by sy eie ironiese gedig waarin verdere intertekstuele toespelings op Van Wyk Louw vervat is: ‘Die ou vrou’, opgedra aan Anna Neethling-Pohl, en afkomstig uit die bundel Vlamsalmander (kyk Aucamp 2008). Hy haal die hele gedig aan (bl. 288). Ek vestig die aandag slegs op die aanvang, wat myns insiens ’n kernidee van hierdie versamelbundel saamvat:

Maak dood die ou vrou!
Sy wat veel bewaar
van die stam se herinnering
en van sy swaar.

Ons – die Brave New World
vee ons gat af aan deurlopendheid:
Ons is van hier en nou. (bl. 288)

In Koffer in Berlyn slaag Aucamp oudergewoonte op voortreflike wyse een van die moeilikste toetse vir die navorser-essayis, naamlik om toeganklik en onderhoudend dog met diepgang en sofistikasie te skryf. Soos geblyk het, is Aucamp bedag op sy leser. Die feit dat die meeste essays uit die populêre media stam, dra sekerlik by tot die toeganklikheid. ‘Koffer in Berlyn’ was ook die naam van die reeks musiekprogramme oor die kabaret wat Aucamp vir Radio Sonder Grense (RSG) versorg het. Dis opvallend dat hy dieselfde titel vir hierdie versamelbundel kies. Duidelik vang hierdie formulering die kern van Aucamp se ‘obsessie’ pakkend vas, een wat besonder aansteeklik werk.

Dit is moeilik om dié omvangryke essaybundel volledig en finaal te beoordeel. Daar is waarskynlik niemand in Suid-Afrika wat net soveel of meer as Aucamp van die kabaret weet nie en die vraag is dus wie byvoorbeeld sou kon sê presies hoe volledig en korrek Aucamp se ondersoek is. Die bundel is egter nie op so ’n leser gerig nie – veel eerder op die ingewyde belangstellende wat nog heelwat het om te leer en te ervaar. In hierdie verband kan ek konkludeer dat Aucamp se Koffer in Berlyn besonder goed slaag.

Literatuurverwysings
Aucamp, H., 1984, Woorde wat wond, Tafelberg Publishers Ltd, Cape Town.

Aucamp, H., 2008, Vlamsalmander, Protea Boekhuis, Pretoria.

Aucamp, H., 2011, Lendetaal: Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde, Protea Boekhuis, Protea.

Heaney, S., 1995, ‘Crediting poetry’, in Nobel prizes and Laureates, viewed n.d., from http://www.nobelprize.org/nobel_prizes/literature/laureates/1995/heaney-lecture.html

Rousseau, I., 1978, Kwiksilwersirkel, Human & Rousseau, Cape Town.


 

Crossref Citations

1. ‘[D]ie beeld wat Berlyn by my nagelaat het’
Phil Van Schalkwyk
Literator  vol: 36  issue: 1  year: 2015  
doi: 10.4102/lit.v36i1.1176