’n Poëtiese fotoboek

Book Title: Amper elders
Author: Louis Esterhuizen
ISBN: 978-1-86919-690-5
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2012, 94 p., ZAR150.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Marlies Taljard1
Affiliation: 1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal Address: Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this book review: Taljard, M., 2013, ‘’n Poëtiese fotoboek’, Literator 34(2), Art. #423, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.423
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Louis Esterhuizen se bundel Amper elders is die poëtiese eweknie van ’n koffietafel-fotoboek: die verslag van ’n reis deur Europa met ’n sterk sensoriese en narratiewe inslag. Die openingsgedig, ‘duiwedanser’, sluit aan by die slotgedig van een van sy vorige bundels Sloper wat eindig met die gedig ‘Valkenier’ – beide is gedigte waarin enkelfigure en voëls ’n belangrike metaforiese en selfs simboliese rol vervul. ’n Verdere ooreenkoms tussen die twee bundels is die groot getal verhalende verse wat in Sloper, veral in die afdeling ‘Langnagvure’, figureer, maar in Amper elders baie sterker uit die verf kom.

Die sterk narratiewe element van die bundel word reeds deur die subtitel, ’n Reisjoernaal, gesuggereer. Op outobiografiese vlak is die bundel ’n verkenningstog van die onbekende land van die psige; maar ook is dit die herbesinning vanuit ’n gebied, anderkant die grens van die alledaagse, oor verhoudings en spesifiek die verhouding met die geliefde. Op inhoudelike vlak is dit die verslag van ’n reis deur Europa wat die digter saam met sy vrou onderneem het. Struktureel vertoon die bundel duidelike ooreenkoms met narratiewe literatuur deurdat dit – soos ’n raamverhaal – ingebed is in die rituele van aankoms en vertrek, waarin die twee vliegtuiggedigte (‘Vlug BA 58’ en ‘Vlug BA 59’) duidelik op mekaar inspeel en as’t ware die buitenste raam van die ‘vertelling’ uitmaak.

Benewens die strukturele ooreenkoms met die vertelkuns, besit die meeste gedigte ook, wat inhoud betref, sterk narratiewe eienskappe. Soos reeds gesê, is die bundel as geheel die verhaal van ’n reis. Maar ook enkelgedigte en gedigreekse bevat dikwels klein, ingebedde verhale wat deel van die reislappieskombers vorm. So is daar die reeks gedigte oor Cambridge wat as ’n eenheid ervaar word omdat dit oor ervaringe op dié dorp handel. Deel van dié reeks is die bruilofsgedigte (‘Die kwessie van kleur’, ‘Bruilofsviering’, ‘Huwelikslied’, ‘Affodille’ en ‘To be, to be, to be’). Hoewel elkeen van dié gedigte op sigself ’n klein verhaal is, vorm dit ook gesamentlik die verhaal van Marcelle en Robert se bruilofsviering. Daar is verskeie sulke groepe gedigte wat aan die bundel ’n interessante, diggeweefde tekstuur verleen, maar wat ook ’n sterk onderlinge binding bewerkstellig en die narratiewe struktuur van die bundel versterk.

Reise en plekke is, op verhalende vlak, die groot samebindende faktor in die bundel. Reeds die twee motto’s lewer kommentaar op hierdie tema – eintlik is beide die motto’s ’n nabetragting en ’n soort konklusie na afloop van die uitgebreide reis wat in die bundel beskryf word: ‘You won’t find a new country …’; ‘Don’t hope for things elsewhere …’; ‘We were not given to conclude our travels …’ en ‘Beginning in the same room, and in the same one ending …’ By die lees van dié reëls word dit duidelik dat dit in die bundel gaan om meer as ’n konkrete reis na ander lande en ander stede – die metafisiese en metaforiese dimensie van die reis, wat ’n belangrike rol vervul in die bundel, word hierdeur geaktiveer.

Tog – ten spyte van die klem op verhale en die verloop van die reis – ly die poëtiese aspek van die bundel nie onder die narratiewe inslag van die gedigte nie en verloor die digter nie sy greep op die poësie nie. Trouens, soos altyd, is Esterhuizen se gedigte keurig versorg, met besondere aandag aan die struktuur van enkelgedigte. Ritme en klankkleur in kombinasie met treffende beelde – ‘mure dunner as afgeroomde melk’ – kenmerk die gedigte met klassieke strukture sowel as vrye verse in die bundel.

Die reis is beslis die ordende metafoor in die bundel wat gedigte uit alle afdelings saambind. Die openingsgedig, ‘duiwedanser’, aktiveer dié tema deur verwysings na ‘jas en kierie’ en ‘sak’. So ook die daaropvolgende gedigte in die eerste ‘raam’: die sprokiesagtige aard van die droom oor verre plekke, die beplanning, die liefdeskode wat ter sprake kom in die pragtige reëls ‘maar vir iemand wat in liefde reis, / is geen bestemming // ooit te ver of naby genoeg’, die liminale aard van reis soos gesuggereer deur die gedigte ‘Vrou wat tasse pak’ en ‘Ark’. En dan kom die oorsteek van die grens na die onbekende vreemde in die gedig ’Vlug BA 58’, ’n egte Ars Poëtica-gedig waarin die konkrete reis metafories gelykgestel word aan die skryfproses en die simboliese gevangenskap van die digter: ’jona, in die maag van sy vis’.

In die algemeen is hier ’n bedrewe digter aan die woord, ironies en oplettend, hoewel die somber toon van baie gedigte en die groot getal gedigte met ’n sterk filosofiese inslag die bundel vir nieliterêre lesers dalk minder toeganklik kan maak. Dit is ’n bundel wat sy skatte eers prysgee nadat dit verskeie kere met aandag deurgelees is, soos ’n Wagner-opera wat eers ná deeglike inluister sy bekoring kry.



Crossref Citations

No related citations found.