Article Information

Author:
Leon de Villiers

Affiliation:
Private

Postal address:
PO Box 99, Bethlehem 9700, South Africa

Dates:
Received: 05 Dec. 2011
Accepted: 30 Jan. 2012
Published: 13 Nov. 2012

Note:
Hierdie bydrae is uit die kunstenaarsboek Delikaat, geskryf deur Leon de Villiers (2010), http://www.bookboek.co.za/
ldv.html

How to cite this article:
De Villiers, L., 2012, ‘Delikaat: 10 liefdesverse (van 20)’, Literator 33(1), Art. #395, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i1.395

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Delikaat: 10 liefdesverse (van 20)
In This Litera...
Open Access

Ek loer deur ʼn skrefie,
sien jou,
sien jou siel in reënboogkleure glans,
broos,
broos soos skulpvlerke,
’n flikkering van lig,
atome wat dans.

Jy
is
jy.

En ek?
Ek bid stowwerige gebede
vol bewondering
vir die skrikwekkende skoonheid,
van jou wees.

Die skemerdag sterf stadig,
langsaam,
kleurryk.
Ons bly roerloos sit;
ek en jy,
vingers vervleg,
oë op die see,
woordeloos verweef in mekaar.
’n Tydlose aanraking,
binne die spieëlgladde sfeer
van hierdie perfekte moment,
wat skielik genadeloos
drup
in die kosmiese dam.

Menswees
menswees
saamwees
menswees.

Vir jou, maak ek die aarde toe in ʼn bont kniekombersie,
bêre ek al die oopgemaakte Vrydae in ’n satynhoutkissie,
drup ek lemoenheuning in die droë, smaaklose gesprekke.

Vir jou, verf ek seemeeue op die kaal, maanverligte golwe,
plant ek koorsboomwoude tussen spiralende sterrestelsels,
neurie ek simfonieë in verlate sandwoestyne.

Vir jou, versamel ek kinderlaggies in ruwe erdekanne,
kweek ek vlinderkleure in kristalglashuise,
dans ek stoomwarm spore oor brosgerypte grasvelde.

Vir my; steek jy ’n kers op,
bak jy ’n brood,
snoei jy ’n boom.

’n Engel is jy nie,
want dié sluimer vlerkloos
in kits kinderhemele.
Nee, jy is ’n walvis,
’n krilvreter,
een, wat diep wegsink,
neerdaal uit die koninkryk van die son,
na donker, saamgepersde dieptes,
waar jou lewensliedere
geduldig wag,
die woordelose klankkettings
wat jy
oor oseane heen
uitkreet
na my.

Soggens sluip jy skugter terug uit die jagveld van jou drome,
jou sagte oë vol vreemde sien en verwegwees.
-Waar was jy?- fluister ek.
Jy kyk skaam weg,
verleë omdat daar in die kokon van jou slaap,
slegs plek is vir een.

Ek trek jou slaaplyf styf teen my vas,
soen jou agter jou oor,
want ek weet,
al reik die sydraad van jou drome
tot aan die anderkant van die heelal,
bly jou lyf steeds geanker,
in die oseaan van my hart.

Al die kerke,
katedrale,
sinagoges,
tempels,
tabernakels,
en moskees
sal toemaak,
en toebly,
die dag as almal
soos jy;
kan oopmaak,
kan aanraak,
kan vashou
en kan gee.

Brood my saggies
my liefste botter-botter-bek,
bêre my binne,
bietjies-bietjies binne,
babatjie fyn,
breekbaar en broos.

Bondel my, brei my,
buffer my, bou my,
bossiekop, Berber,
breekbaar en broos.

Begeer my, beleër my,
baal my en bloei my,
bietjies-bietjies binne,
breekbaar en broos.

Jy bemin my oop,
oop
oop
sonkind,
oop
oop
oop,
soos ʼn skoenlapperkerk.

Uit al die sandemmers vol dae,
uit al die donskomberse van sterre,
uit al die melkweë van gene,
uit al die dryfhout van kontinente,
uit al die oseane van mense,
het jy besluit om op hierdie dwarrelende weg
langs my te loop.

Waarom?

Ek sleep my lomp letters op ʼn hoop,
maak bakhand woorde bymekaar,
poog om iets te sê oor jou;
jy, wat my geleende seepbel vul,
met sin en sekerheid.

Tevergeefs…
In jou hierwees skuil die heelal se diepste geheime.

Klip en ek praat klip,
geologie met mekaar,
knars stowwerig
deur die millennia.
En jy?

Jy vleg jou skraal vingers
deur grasvelde en kinderhare,
lag speels boom-op,
giggel vir stokou sterre en ʼn verrimpelde maan.

Meer tyd, smeek ek,
gee meer tyd,
want die sonryp liefde in jou oë,
kan ek nog steeds nie verstaan nie.
Meer tyd!



Crossref Citations

No related citations found.