Article Information

Author:
S.F. (Franci) Greyling1

Affiliation:
1Faculty of Arts, School of Languages, North-West University, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 05 Dec. 2011
Accepted: 30 Jan. 2012
Published: 13 Nov. 2012

Note:
Hierdie bydrae is uit die kunstenaarsboek Tinboektoe toe, geskryf deur Franci Greyling (2010), http://www.bookboek.co.za/
fg.html

How to cite this article: How to cite this article: Greyling, S.F., 2012, ‘Uit “Tinboektoe toe”’, Literator 33(1), Art. #394, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i1.394

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Uit ‘Tinboektoe toe’
In This Litera...
Open Access

Tinboektoe toe

Eendag was daar drie sussies wat by die noordbrug langs die mooi rivier gebly het. Die eerste sussie het gedans, drama gedoen, en het baie vriende gehad. Die derde sussie het tennis en hokkie gespeel en het altyd eerste in haar klas gestaan.

En die middelste sussie? Die middelste meisiekind het gereis.

****

Jare terug het die meisiekind
na baie droom en baie dink
uit blik en sink en stukkies draad
vir haar ’n wondertuig gemaak.

’n Tuig wat van die noorderbrug
op die westewind kan reis
tot by die oosste oosterlig
en die punt van die suiderkruis.

Nou reis sy ver en soms naby,
bring van orals stories saam,
lappies kleur, titseltjies geur
en skerfies van die maan.

****

Liewe almal by die huis,
Ek vertrek weer op ’n reis.
Wil jy dalk weet waarnatoe?
Al die pad na Tinboektoe.

Ek het kaarte in my tas
’n pen, ’n boek en ’n kompas,
’n serp wat in die wind kan waai
en skoene wat kan tiekiedraai.

Die reis sal sewe weke duur
en ek sal vir jou briewe stuur
van elke nuwe vreemde plek
en stories wat ek daar ontdek.

Skryf elke week vir my terug.
Pos jou kaart na die noorderbrug.
En voor jy sien, is ek weer hier
by ons huis langs die mooi rivier.

Middelste Meisiekind

By die brug kan ek nie oor
want daar onder sit ’n trol
wat so verskriklik lelik is
dat al die bokkies
skrik
mis
en stertorent weghol!

Toe maak ek maar ’n ander plan
en duik die water in
en dit is eintlik hoe my reis
na Tinboektoe begin.


Bron: Hierdie afdruk word gebruik met toestemming van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Suid-Afrika

Op reis
– soos in stories –
is daar dikwels
’n bos
’n woud
of ’n klompie bome.

Plek vir
verdwaal
avonture
drome.

***

Raai wie het ek vandag ontmoet?
Twee hygende varkies en ’n wolf op spoed.
Ek wou nog vra: “Gaan dit goed?”
Maar hulle was so haastig
dat ek hul skaars kon groet!

(*Gepubliseer in Rymreise, saamgestel deur Adinda Vermaak en Pieter Strauss, Nasou Via Afrika 2010)

***

Op reis
is jy soms alleen
en soms ontmoet jy ander,
maak jy vriende langs die pad
wat jou laat talm,
wat dalk ’n wyle saamreis,
stories en avonture deel,
of selfs ’n nuwe koers aanwys.

***

Die vlieënde Hollander

Op ’n donker stormnag
as die golwe siedend slaan
– en die maan slegs ’n skerfie –
verskyn daar asof uit die niet
’n skip met wapperende seile.

Dis hy, sal matrose fluister,
dis hy, huil die wind.
Dis die man,
dis die een
wat op ’n donker stormnag
met die golwe siedend teen die boeg
teen God en mens gevloek het –
gedoem is om ewig te swerf
nooit te anker nie
nooit te sterf –
te vaar
voort te vaar
voorts
vaart
voort

***

Droogvoets deur die Rietsee
en veertig jaar deur die woestyne
Mara waar die water bitter was
en Elim met die twaalf fonteine.

***

Op pad
van Jerusalem
na Jerigo
het rowers
’n man
half dood
laat lê.
Twee het gesien
maar verbygegaan.
’n Derde het
vertoef
versorg
verstaan.

***

(Lees hierdie versie van onder na bo)

“Tink, tink, tink, tink, tink!”

verby.
gly
en

glip hy onder sy vlerke uit
toe aasvoël aan die wolke raak
Tinktinkie het ’n plan gemaak:

– net aasvoël in die bloue lug –

maar een vir een val hul terug
almal laat die vlerke klap
Uil en volstruis, arend en flap
by almal verby?”
“Kan die hoogste vlieg
“Wie van ons?” het die voëls gestry,

Die voëls kies ’n koning

***

Noord oor die Vaalrivier na Transvaal,
oos oor die draak se rug na Natal,
deur die einders van die dorsland,
teen die grense van die koors,
lê die spore van ’n wa.

***

*

Ek skryf ’n brief aan die man op die maan –
bladsye en bladsye vol.
Ek rol dit in ’n koker op,
bind dit aan ’n pyl
en skiet dit met ’n wilgerboog
dat die hoog die lug inseil.
Ek sien hoe dit deur die sterre trek
en om die maan gaan draai
en al verder deur die donker lug
’n duisend briewe saai.
Nou wonder ek
– en wonder jy? –
het hy ooit sy pos gekry,
of sou daar iemand anders wees
wat al dié briewe nou dalk lees?

(*Gepubliseer as “Sterrekyker” in Toulopers: verse vir tieners, saamgestel deur Jaco Jacobs, LAPA, 2011)

***

Suiderkruis
Oosterlig
Westewind
Noorderbrug

Liewe almal –
Ek is terug.

Dis lekker om weer hier te wees
en al julle stories nou te lees.

Beste groete
Reiskind

NS. Ek was toe by Tinboektoe
Wanneer gaan jy daarnatoe?



Crossref Citations

No related citations found.