Article Information

Author:
Franci Greyling1

Affiliation:
1Faculty of Arts, School of Languages, North-West University, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article: How to cite this article: Greyling, F., 2013, ‘Paint by numbers’, Literator 34(2), Art. #393, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.393

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Paint by numbers
In This Litera...
Open Access

Soos muurkrake lê die grys strepe oor die wit karton. Haarbarsies, dié lyntjies wat hy nou al dae lank met sy vingers op die seilkarton natrek, strepie vir strepie tot waar dit teen die kant opraak. Tussen die barsies dowwe syfers vir die kleur van die muur – 642351 – dieselfde as op die piepklein verfbakkies wat soos vingerpunte in die plastiek uitgedruk is.

Versigtig doop hy die dun rooi kwassie in die blikbeker. Hy voel die kwashaartjies en klammigheid teen sy wang, in die blink spoor oor sy hand, oor die letters op die beker, om die verfbakkies in die plastiekstrook. Dis beter om eers met water gewoond te raak aan die dun stokkie tussen sy dom vingers. Wat as hy oor die lyntjies verf? As die verf opraak voordat die prent klaar is? As hy verkeerde kleur gebruik, en dit lyk nie soos op die prent voor op die boksie nie?

Die geel son en geel vir die man se hoed en stukke van die veld. Blou lug, ’n streep blou in sy kombers en ’n streep om sy hoed. Rooi kombers en ’n rooi streep om sy hoed. Bruin rotse, bruin donkie.

As hy kon kies sou dit hierdie een gewees het, het hy al met die uitdelery geweet toe hy met die boksie in sy hand gestaan het. Daar was baie mense, want die woord het geloop van artists in die dorp wat goed vir ’n art project gebring het, en almal wou kom skep. Dié wat mag, het eerste gevat: Rame met wit seildoek gespan, velle growwe papier, verf soos tandepasta, blikkies met blokkies kleur, kwaste met stywe hare, sagte perdekwaste, kryte, potlode. Die’s soos hy, het gewag om iets te kry. ‘Hier,’ het die uitdeler gesê toe nog net ’n paar goedjies op die tafel gelê het, en ’n plat boksie na hom gestoot. Hy het gekeer voordat dit oor die rant geval het. Die man en die donkie. Dit sou hy gekies het, het hy nog gedink toe die warden agter hulle gesluit het.

* * *

Mnzini is die eerste om te wys wat hy geteken het: die muur en drade en ’n wagtoring. Alles in swart.

‘Wat vir ’n prent is dit?’ wil Lorenzo weet. ‘Paar skewe strepe, en so vaal. Niks kleur nie.’

‘Charcoal. Gebrande takkies. Dis wat ek gekry het. En Madiba het sulke prente gemaak van Robbeneiland. Almal wil dit koop.’

‘Ja, maar hy’s Madiba en hy’t 27 jaar gesit. Baie tyd gehad vir kyk.’

‘Life sentence.’

‘Ons almal.’

‘Vrot en vrek.’

‘Se moer!’

Rondom hulle het dik strepe op die papier en in die binneplein gegroei, donker hale oor die sementgange gelê, skadu’s tussen bed op bed geroer, jare opgestapel en hom dieper weggebêre.

Die eerste verf aan die kwassie, bewerige kwashale en sy hand wat oor die nat blokkie sleep, verf oor die prent smeer. Hy skrik, sluit alles in die locker toe, lê tussen lewende skaduwees – sonder om te sien.

Smittie het sy laitie geteken, met kleurkryte, en van ’n kiekie af wat sy vrou gebring het toe sy laaste hier was – ook al meer as ’n jaar terug. ’n Seunskind met wit hare en blou oë en ’n verjaarsdagkoek wat soos ’n racing car lyk, met vier kersies daarop. Net die kind het hy ingekleur.

‘Spitting image,’ sê Mnzini en hou die kiekie langs die prent.

‘Net so,’ beduie Lorenzo met sy stompie-arm. ‘Hoe oud is hy nou? Lyk hy nog so?’

‘Elke dag meer soos sy pa – my laitie.’

‘Ken hy jou nog?’ ‘Of course!’

‘Of course.’ ‘Teken myne ook. Hier’s die foto,’ sê die man met die knuppel.

Hy kan die smeersel toeverf, ontdek hy. Sien dis beter om aan die bokant van die prent te begin verf sodat die nat verf nie onder sy hand is nie.

Die man wat die uitdelery gedoen het, druk tandepastaverf uit vir die see en ’n berg en wolke en die son. Nee, hy was nog nooit by die see nie, sê hy. Eendag sal hy soontoe gaan.

Al die 3’s toegeverf. Blou.

Ronald skryf ’n bybelvers in versierskrif, teken die letters se buitelyne met swart en kleur dit in. ‘Roep my aan in die dag van nood.’

Versigtig verf hy. Kwassie in die verf, soek nommer 1 vir geel, verf mooi tussen die lyntjies. Spoel die kwassie skoon vir die volgende kleur: 1 – geel, 2 – bruin, 3 – blou, 4 – rooi, 5 – groen, 6 – swart. Blokkie vir blokkie, bietjie vir bietjie kom die wit plekke tussen die muurbarste vol. Die man en sy donkie.

Smittie het die verjaarsdagkoek ingekleur en die lap oor die tafel en die sweets en die ballon agter die stoel. Met al die ander kleur het sy laitie nou bietjie dowwer geword. Hy het die warden se kind geteken, ’n outjie met donker hare.

Geel vlakte, rotse soos mynskagte teen die blou lug.

‘Die Here is my bewaarder. Glo jy dit?’ vra Lorenzo.

‘Los vir Ronald. Hy kan maak wat hy wil.’

Eenderste, so lyk die prent op die boksie en sy painting: die twee prente in die binnekant van sy locker.

‘Meksikaan,’ sê Smittie. ‘Dis in Mexiko, naby Suid-Amerika, ver oor die see.’

‘Moet Jacob se see wees!’ sê Lorenzo.

‘Sweerlik!’

’n Man en ’n donkie en geen berge nie.

‘Hoor by die artists of hulle nie nog goed kan bring nie. Mnzini se charcoal is opgeteken. Hy sê, hy soek pastelle.’

Jacob die uitdeler verf die see en ’n skip, ’n eiland, ’n oranje sonsondergang. ‘Ek sal hoor,’ sê hy.

As daar verf ook is? wil hy vra.

Met die klein bietjies verf wat onder in die vingerbakkies oorgebly het, verf hy die mynskagte toe.

‘Soek en jy sal vind, vra en jy sal kry. Glo jy dit?’ vra Lorenzo.

‘Wat pla jy Ronald so? Wys wat jy gemaak het!’

‘Ja, jy het altyd jou bek vol oor ander se art!’

‘Vlieg in julle moer!’

Verf hy berge oor die skagte.

‘Daar!’

Die kleure ontplof op Lorenzo se seildoek. ’n Gat uit die wit in die middel geruk.

’n Gat: en die wág dat hy praat. Mnzini. Smittie. Ronald. Jacob Uitdeler. Thabo Mofokeng.

‘Wit. Soos wanneer jy in die son kyk – so was dit toe die man voor my die myn afgetrap het.’

So was dit – wit en kleur en son en pyn.

Verf Thabo Mofokeng berge en ’n pad vir die lorries en afklim by die winkel in die kouer lug en die reuk van varsgemaalde mielies en stof op die toonbank en die swaar wit sakke wat op die donkie gelaai word vir saam die voetpad berg-op loop met almal wat langs die pad groet en sien daar is weer meel in die huis, warm pap, en die reuk van aanbrandsels om die vuur waar die sakke afgelig word en die donkie vanself weet dat hy moet terugloop winkel toe langs die paadjie tussen die klippe tot ver onder in die leegte en die arend wat in die lug sweef en die skerp son en die omdraai na mme wat haar hande saamslaan oor die kind wat terug gekom het.

Na die blouwit bergtoppe, rooiberge, oker sandsteenkranse, voortyd se swartgrysrook, spikkelbeeste, roesbruin miskleimure, en die heuwels van die vrou met die rooi kombers.

* * *

Die Minister van Korrektiewe Dienste sal na verwagting vandag die gevangenis besoek waar ’n gyselaarsdrama gister afgespeel het. Die minister het die polisie-taakspan en personeellede geloof vir hulle optrede om die ontsnapping te fnuik.

Vier gevangenes het die bewaarders oorval en as gyselaars geneem. In ’n skietery met die polisie-taakmag is ’n gevangene doodgeskiet en ’n bewaarder ernstig gewond.

* * *

‘Wat is dit?’ vra die kind oor die boks wat die man by die agterdeur neersit.

‘Ons het skoongemaak ná die break out. Alles uitgegooi waarvoor hulle nie regte het nie. Kyk of daar verf is wat jy kan gebruik – die prente is net crap.’



Crossref Citations

No related citations found.