‘ons sien die Dat en die Wat’: Huldiging van T.T. Cloete

Book Title: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49(4), Desember 2009, Spesiale uitgawe – Huldiging: T.T. Cloete
Authors: Hein Viljoen; Ina Wolfaardt-Gräbe
ISBN: 0041-4751
Publisher: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, South Africa

Reviewer: Marius Crous1
Affiliation: 1Department of Languages and Literature, Nelson Mandela Metropolitan University, South Africa
Postal Adress: PO Box 77000, Port Elizabeth 6031, South Africa
How to cite this book review: Crous, M., 2013, ‘“ons sien die Dat en die Wat”: Huldiging van T.T. Cloete’, Literator 34(2), Art. #142, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v34i2.142
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In die ‘Iets vooraf’ van hierdie uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe beskryf die samestellers Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe dit as die byeenbring van ’n groepie artikels oor die werk van T.T. Cloete’ en wel om die volgende redes: Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het aan hom erelidmaatskap toegeken. Dit is ’n verjaardaggeskenk (Cloete het 85 geword), asook om weer ’n bestekopname oor sy werk te doen. Die laaste boekpublikasie oor sy werk het in 1984 verskyn!

Inderdaad het dit tyd geword om die velerlei besinnings oor hierdie intellektueel en digter saam te bundel. Waar is die Sluiswagter van stemme of die Beeld van ’n digter-boek oor hom? Gegewe die bestaande korpus artikels, proefskrifte en tesisse wat al oor Cloete geskryf is, sou dit immers sinvol wees om so ’n projek te onderneem. Die opstelle in hierdie uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe sou beslis ook hierin opgeneem word. Vir die doel van die bespreking gaan ek individueel na elk van die bydraes verwys.

Rensia Robinson is ’n fyn leser van Cloete se werk en in haar artikel ondersoek sy die kompleksiteit van die Godsbegrip in Cloete se werk en gee sy aan die leser ’n blik op Cloete se heilige nuuskierigheid. In aansluiting by laasgenoemde illustreer Johann Lodewyk Marais in sy artikel die deurlopende rol van die natuurwetenskappe in Cloete se werk – meer spesifiek die ‘spore van die Darwinisme in Cloete se poësie.’ Derhalwe is dit myns insiens onvanpas om na Cloete as bloot religieuse digter te verwys, want soos hierdie artikel inderdaad aantoon, sluit die digter hom onder meer nie af van die evolusieleer waaroor daar vir jare al in Amerikaanse skole baklei word nie – en ‘n stryd wat ook nou hier ter lande kop uitsteek. Vir Cloete is die evolusieleer ‘deel van ’n plan […] wat deur God ‘bestuur’ word.’

In sy bydrae kyk die digter-teoloog Cas Vos na Cloete se omdigting van Psalm 23 en konstateer hy in sy slotnoot: ‘Op strukturele, taal-en poëtiese, teologiese en musikologiese vlakke is T.T. Cloete se omdigting van Ps 23 uitmuntend. Die omdigting sal ook lewenslank gesing word.’

Hein Viljoen is ’n ervare Cloete-leser en in sy bydrae ondersoek hy die invloed van die Simbolisme op Cloete se werk. Aan die hand van ’n stipte ondersoek wys hy onder meer op die invloed van Baudelaire en die wyse waarop die digter hom intertekstueel binne die Suid-Afrikaanse idioom en konteks herskryf. Hy bou voort op vroeëre artikels oor die poëtika van korrespondensie in Cloete se werk.

Hans Ester lewer twee bydraes tot hierdie uitgawe, naamlik ’n ondersoek na die dood in ons kultuur, wat myns insiens ’n baie oorsigtelike en afgewaterde bydrae is. In sy tweede bydrae oor ‘T.T. Cloete en het Droste-effect’ bespreek hy ‘droste-effek’ in die bundel Uit die hoek van my oog (1988) en wys onder meer op die historiese konteks van die woord Droste-effek. Dit is jammer dat hy nie die wisselwerking tussen die advertensieplaat, die geskiedenis en Cloete se gebruik van die konsep deegliker nagespeur het nie.

Deeglik en deurdag is Heilna du Plooy se T.T. Cloete-erelesing wat sy op 05 November 2009 gelewer het oor ‘Vorm en inhoud in die poësie van Cloete’. Ikonisiteit en die visuele vormgewing by Cloete word beskou en na die lees van haar bydrae kyk mens met nog ’n nuwer, voyeuristiese blik na die gedig oor MM op die fluweelrooi kleed. Dié huldiging word afgesluit met twee gedigte van Joan Hambidge wat sy aan Cloete opdra en sy sluit aan by die ‘dromende denke’ van die digter-intellektueel in Cloete se oeuvre.

Ten slotte, Hans Ester begin sy betoog met die volgende: ‘De gedichten van T.T. Cloete zijn vol geleerdheid. Dat maakt deze gedichten tot irritante raadsels, tot obstakels voor het denken en daarmee tot intellectuele uitdagingen.’ Hier verwoord Ester die aantrekkingskrag van Cloete se werk. Dit is kompleks en nie so praterig of transparant soos die meeste eietydse gedigte nie. Dit verg stiplees.

Hierdie reeks opstelle is ’n welkome toevoeging tot die bestaande diskoers oor die werk van T.T. Cloete en dra beslis by tot die verdere ontsluiting van sy werk. Soos Hein Viljoen in sy opstel aantoon, lees die gedig ‘oopooggebed aan ontbyttafel’ van Cloete – op die oog af – soos ‘’n baie gewone dankgebed’. Word die woord ‘voyelles’ in die gedig raakgelees, open dit ’n heeltemal nuwe verwysingsraamwerk. En dit is waarin die vernuf van Cloete se werk vir my geleë is: Die bedrieglike eenvoud is ’n skyn, want net een woord kan ’n hele literêre tradisie soos die Simbolisme aktiveer. ’n Mens sien uit na ’n bundel waarin die onderskeie artikels, opstelle en uittreksels uit tesisse en proefskrifte oor Cloete se werk byeengebring word.



Crossref Citations

No related citations found.